Soos met die meeste bordspeletjies moet ’n mens met Bird Safari so gou as moontlik by die eindpunt uitkom. Hoe beweeg (oftewel ry, want die skuiwer lyk soos ’n wildkykvoertuig) jy vorentoe? Op jou of jou span se beurt moet julle ’n voël identifiseer deur te luister na ’n voëlroep op ’n app, van ’n foto af of uit ’n spanmaat se beskrywing (hy’s pienk en lyk soos ’n ballerina = ’n flamink). As julle reg raai, ry julle voort, indien nie, moet julle “parkeer” totdat julle span reg geraai het.

Die speletjie is slim. Dis ’n gehalteproduk met mooi foto’s en ’n speelse ontwerp. Dis gebore in die vriendekring die Big Year-groep, wat gaande is oor voëlskyk. Die groep is gestig deur Carlie Jordaan (sien onder) nadat sy die fliek The Big Year gekyk het.

Kyk, nie almal ken hulle voëls so goed soos die Big Year-groep nie en daarom sluit die speletjie voëlkaarte met vier vlakke in. Vlak 1 is die gewone nommers: kolgans, witborskraai, volstruis... terwyl vlak 4 voëls soos ’n gewone koester, dubbelsnip en bruinsylangstertjie insluit. Julle kan dus net met vlak 1- en vlak 2-kaarte speel, of die kaarte kombineer.

Dis ’n prettige manier om jou gesin en vriende se voëlkennis te toets en ook ’n liefde vir ons geveerde vriende te kweek. Dit hoort beslis in jou kattebak vir ’n drie weke lange Krugerkamp of vir ’n naweekwegbreek na Langebaan.


Ontmoet Carlie Jordaan

In die komiese fliek The Big Year probeer drie vriende binne ’n jaar soveel as moontlik voëls afmerk – hulle merk uiteindelik 755 voëls! Carlie (toe 14) het in 2015 vriende en familie aangepor om deel te neem aan ’n soortgelyke kompetisie.

Carlie bly in Pretoria en in dié jaar het die Big Year-groep onder meer die Faerie Glen- , Rietvlei- en Nylsvley-natuurreservaat, Austin Roberts-voëlreservaat, Wakkerstroom en die Krugerwildtuin besoek. Aan die einde van die jaar het Carlie 396 voëls op haar lys afgemerk!

Wie is in die Big Year-groep?

Die groep bestaan uit nege gesinne.

Hulle is almal familie of vriende, en húlle familie en vriende. Ons jongste lid was 7 jaar oud, en die oudste 72.

Wie se idee was die speletjie?

Ná die Big Year was ons lewe vreeslik saai! My tannie Antoinette van Eeden veral was maar droewig.

Sy het my eendag gebel en voorgestel ons ontwerp ’n bordspeletjie. Ek het dadelik ingestem!

Hoe het julle te werk gegaan?

Die Jordaans en Van Eedens het elkeen ’n konsepspeletjie op karton aanmekaar gesit. By ’n familiebraai het van Ouma tot die kleinkinders saam gespeel. Nadat ons op die finale speletjie besluit het, het ons vriende gevra vir terugvoer, ’n uitlegkun-stenaar gekontak en drie jaar later het 1 000 speletjies aangekom by Durban se hawe.

Hoe het BirdLife SA betrokke geraak?

Ons wou ’n deel van die wins aan bewaring skenk en die organisasie genader. Hy het die speletjie effens hersien en onderskryf.

Dis te koop by die BirdLife SA winkel in Johannesburg: Humepad 17, Dunkeld-Wes, of stuur ’n e-pos na shopforthebirds@birdlife.org.za. BirdLife SA ontvang R30 vir elke speletjie wat verkoop word.

Wat is volgende?

Ha! Ek studeer nou voltyds argitektuur en my tannie het pas ’n baba gehad! Ons hoop om in die toekoms ekstra kaartstelle of dalk ’n app te ontwikkel.

Wat is jou gunstelingvoël?

’n Witwanguil! Ons het die Big Year in die Kgalagadi-oorgrenspark begin. Ons was op pad na die Mata Mata-kamp toe ek twee groot oranje oë in ’n bos gewaar. Dit was ons eerste witwanguil met ’n ernome snorbaard. Van toe af het ek hom elke keer eerste gesien op daai toer.

Wat is jou gunsteling-voëlkykkol?

Die Kruger. Jy kan maklik 100 spesies binne vier dae afmerk. In die somer komplementeer die groenigheid die voëls se helder broeikleed mooi. Nog ’n gunsteling is die Kwa Nokeng Lodge op die Botswanagrens. Ná ses maande het my lys al by 305 spesies getrek. Tog kon ek daar in ’n oggend ses nuwe spesies aanteken! Ons het selfs ’n visuil hoor roep!

Waar kry ’n mens die speletjie?

Die speletjie kos R500 (posgeld uitgesluit). Bestel een by birdsafari.co.za.

Antwoord dié maklike vraag en jy kan ’n bordspeletjie wen:
Wie het die groep die Big Year begin? SMS die sleutelwoord BIRD en jou antwoord na 35981 (R1,50 per SMS; gratis SMS’s werk nie). Sluitingsdatum: 17 Julie 2020.