Die dam is geleë binne die Gamkapoort-natuurreservaat, en hier is nog ’n bietjie wild wat die droogte oorleef het. Hier is nie ’n duisend dinge om te doen nie, maar jy kom hierheen om te sê dat jy al hier was.

Jy was mos al by die Victoriawaterval, of hoe? Wel, die Gamkapoortdam is presies die teenoorgestelde daarvan: Hier’s nie ’n druppel water nie, en ook nie mense nie. (Behalwe Fox Ledeboer, wat manalleen die fort hou – onthou om vir hom ’n vars koerant en ewe vars wortelkoek uit die dorp saam te ry.)

Jy kom ook hierheen om iets te leer oor droogte, en die waarde van water. Die dambodem het met ons laaste besoek soos Dooievlei gelyk – goed vir treffende foto’s, maar minder goed vir die boere stroomaf Calitzdorp se kant toe.

Jy was mos al by die Victoriawaterval, of hoe? Wel, die Gamkapoortdam is presies die teenoorgestelde daarvan: Hier’s nie ’n druppel water nie, en ook nie mense nie.

Gesels gerus met Fox sodat hy jou kan vertel hoe warm dit hier raak, en hoe die droogte van die afgelope paar jaar die omgewing ingrypend verander – selfs die koedoes en bobbejane kry swaar.

Maar dalk is jy gelukkig en staan die dam vol water wanneer jy eendag besoek aflê. Dan kan jy probeer om ’n vis te vang, of met jou kajak gaan roei. Bring ook jou bergfiets saam.

DUIDELIK DROOG. Die Gamkapoort-dam is onbeman (hier’s niemand van die departement van waterwese nie), maar Fox Ledeboer hou toesig en hanteer die besprekings vir die selfsorghuise.
Hierdie foto’s van die dam is in Januarie 2017 geneem, en teen Januarie 2018 het dit steeds so gelyk. Die modderkrake is plek-plek só groot dat dit gevaarlik is vir kinders om op die oppervlak rond te loop – ’n hele voet kan daarin verdwyn!

Waar bly ek?

Hier is vyf selfsorgeenhede (geen kampplek nie) wat op ’n koppie langs die dam sit sodat jy ’n eersteklas uitsig daaroor het.

Elkeen het slaapplek vir vier mense, en dit kos R250 p.p.p.n., selfsorg. Bring kontant saam om te betaal; hier is geen kaartgeriewe beskikbaar nie. Hier is ook geen winkels nie, maar Fox verkoop wel enkele dinge soos piekeluie, blatjang, ensovoorts. Bring maar spys en drinkwater – ingeval.

Geriewe is eenvoudig – dit voel asof jy in ’n ou plaashuis tuisgaan.

Handdoeke, beddegoed en eetgerei word verskaf. Elke eenheid het ’n bad (met warm water) en daar’s een buitestort wat gedeel word.

Jy maak lig met kerse en kook op gas. Die eenhede het nie yskaste nie, maar daar is een gemeenskaplike yskas beskikbaar waar jy jou bederfbare kos kan bêre.

Hoe kom ek daar?

Die Gamkapoortdam is – soos die kraai vlieg – net sowat 38 km van Prins Albert af. Maar moenie vir dié Karoodorp mik as jy by die dam wil uitkom nie, want die pad wat voorheen van Prins Albert af hierheen gelei het, is nie meer rybaar nie (moenie jou GPS glo nie!).

Die dam is ook skaars 23 km suid van die N1, maar dis óók nie hoe jy hier uitkom nie. Uit die noorde moet jy die Gamkapoortdam van Laingsburg se kant af benader – en maak sommer tenk vol daar, want jy gaan verder ry as wat jy dink.

Koop jou proviand aan, want Gamkapoortdam is ’n buitepos, en so afgesonder as wat kan kom. Volg die R323-teerpad suidwaarts uit Laingsburg, eers oor die Rooinek- en dan die Witnekkepas. Ongeveer 29 km van Laingsburg af hou die teerpad op. Dis mooi wêreld: uielande, lusernlappies en vrugteboorde.

Omtrent 42 km later draai die R323 suidwaarts, deur die Seweweekspoort – maar jy moenie wegdraai nie, hou reguit (ooswaarts). Binne 6 km staan jy aan die bopunt van die gevaarlike Bosluiskloofpas. Trek af waar dit veilig is, en slaan die toneel voor jou gade. Die landskap val weg, af, en af, en af. Doer ver, versteek in die kreukels, skuil die Gamkapoortdam, nog sowat 18 km verder, en 500 m laer as die bopunt van die pas.

Dis mooi wêreld: uielande, lusernlappies en vrugteboorde.

Hoewel die totale afstand van Laingsburg na die dam skaars 100 km is, moet jy jouself sowat twee uur gee om die roete te ry. Indien jy Gamkapoortdam uit die suide – die Klein-Karoo – se rigting nader, is Calitzdorp en Ladismith die naaste dorpe (albei is sowat 70 km ver).

Volg die R62 tot by die afdraai na Seweweekspoort, en ry noordwaarts deur die poort. By die noordelike bek van die poort draai jy regs na Gamkapoortdam, en volg dan dieselfde pad soos hierbo beskryf teen die Bosluiskloofpas af. Ry met ’n bakkie of sportnutsvoertuig met goeie grondvryhoogte.

Kontak

Hier is nie selfoonontvangs nie. Stuur ’n e-pos na Fox Ledeboer met jou foonnommer – hy sal jou terugskakel.

gamkapoortdam@gmail.com; gamkapoortdam.co.za