BMW se aanleg in Rosslyn buite Pretoria het vanjaar 300 nuwe robotwerkers bygekry. Die robotte is nodig om nuwe X3-modelle vir Suid-Afrika en Europa te bou.

Dis reg, die Duitsers ry in BMW’s wat in Suid-Afrika gebou word! Dit behoort eintlik nie ’n skok te wees nie aangesien dieselfde Rosslyn-aanleg in 2002 die JD Power-toekening gewen het as die beste motoraanleg ter wêreld.

Die 300 nuwe robotte het darem niemand se werk gesteel nie. Inteendeel, BMW se ingenieursakademie lei 300 nuwe vakleerlinge per jaar op, en altesame 2 000 geskoolde ambagsmense is al van daar af na die aanleg se vloer geskuif.
  • BMW se belofte om toenemend omgewingsverantwoordelik te wees is versterk deur die dienste van die Bio2Watt-bioëlektrisiteitstasie buite Bronkhorstpruit te gebruik. Bio2Watt omskep jaarliks 40 000 t beesmis en 20 000 t ander organiese afval deur middel van ’n gistingsproses in vlambare gas. Die gas word dan gebruik om kragopwekkers aan te dryf wat 4,2 gW elektrisiteit in Eskom se kragnetwerk stoot. BMW kry dan korting in ruil vir hulle bydrae tot die nasionale kragvoorsiening.

    BMW Suid-Afrika hoop om teen die einde van 2018 slegs alternatiewe en volhoubare energiebronne te gebruik. Dit vergelyk goed met BMW Duitsland se mikpunt om dieselfde doelwit teen die jaar 2020 te behaal.
Die Bio2Watt-bioëlektrisiteitstasie.

  • Omdat 30% van BMW se verkoopsyfer te danke is aan die X-modelle, het BMW se Waterval-tak in Midrand ’n “leefstylpark” uitgelê. Van November af kan jy R2 750 betaal vir ’n professionele 4x4-kursus op ’n 1,3 km lange hindernisbaan. Die baan is spesifiek ontwerp om die viertrekstelsels van BMW se X-modelle te laat uitblink. 

    Weg Ry & Sleep se Cyril Klopper het op die baan gery (wat met sy besoek nog nie voltooi was nie) en hy beaam dit sal BMW-eienaars beïndruk. Buite die hindernisbaan is daar ook ’n abseilkabel, drafroetes en ’n BMW-winkel waar jy BMW-klerasie kan koop en aan duur ingevoerde koffie kan teug. Dit klink soos ’n lekker plek vir ’n blink Stefaans, maar dalk minder lekker vir Koos Kakamas.


Lees al die nuusbrokkies wat in ons November-uitgawe verskyn hier.