Wanderlust – A History of Walking

deur Rebecca Solnit, Granta

Rebecca Solnit is ’n bekende Amerikaanse skrywer, geskiedkundige en aktivis wat reeds 20 boeke op die rak het. Wanderlust is reeds in 2001 gepubliseer en in 2014 heruitgegee.

Enigeen wat al ver en lank gestap het, behoort saam met Solnit te stem wanneer sy skryf: “Walking, ideally, is a state in which the mind, the body, and the world are aligned, as though they were three characters finally in conversation together, three notes suddenly making a chord. Walking allows us to be in our bodies and in the world without being made busy by them. It leaves us free to think without being wholly lost in our thoughts.”

Solnit ontsluit die geskiedenis van stap op ’n fassinerende manier: Sy put uit inspirasie van die Griekse filosowe, die Romantiese era se digters, groot figure in wêreldletterkunde en bergklimmers.

Sy skryf met insig en deernis oor alle maniere van stap: labirinte, die platteland, berge, pelgrimstogte en selfs protesoptogte op straat.

Wanderlust is ’n ongewone boek wat jou op nuwe maniere sal laat kyk na iets so eenvoudigs en alledaags soos stap.

R259 by takealot.com


Padmusiek

Hoop daai boom is oukei

deur Riku Lätti

In ’n meer regverdige wêreld waar profete wel in hulle eie land geëer word, was Riku Lätti al lank ’n huishoudelike naam en het sy albums platinumverkope behaal.

Met sy Wasgoedlynprojek het Riku ook die afgelope paar jaar baanbrekerswerk gedoen om skeppende musici in hulle eie omgewing op te neem. Dié nuwe album se 13 liedjies is ’n eklektiese kragtoer wat Riku saam met sy vrou, Jackie, en die MarkTunes Band (Mark Ellis op baskitaar en Jean Tunes Marais op tromme) aangepak het.

Of hy nou ’n klavier, trekklavier of elektronika as begeleiding gebruik, is Riku se musiek altyd vars, vernuwend en hoogs luisterbaar – of jy nou agter lorries op die N1 of in die wye Tankwa-Karoo ry.

En wat die gehalte van sy lirieke betref, som “Heilig” alles op: “Heilig om te sterwe / want dit dwing ons om te leef / dit heg waarde aan die lewe / dit heg waarde aan die dood.”

R79,99 op iTunes | R49,95 by Google Play


Klassieke Afrikaans

Weg stof ’n klassieke Afrikaanse boek af.

Huppelkind

deur W.O. Kühne Tafelberg, 1958 (nuwe heruitgawe in 2018; R245)

Met ’n wip en ’n trap seil Huppel oor die polle – trippel-trippel deur die grassies, huppel-huppel oor die plassies. Hy peil diekant toe en die wolke seil daardie kant toe, en die vleiwind pluk aan sy kuif. O, hy voel so lekker verspot. Huppel-huppel saam met die wind, trippel-trippel, Huppelkind!

Ek het as sesjarige ure lank in my ouma Charlotte Rens se woonstel op Uitenhage op die mat gelê en deur die ses dun Huppel-boekies geblaai. Dit was saam met die destydse Afrikaanse Kinderensiklopedie van die eerste Afrikaanse stories wat ek geniet het.

Wilhelm Otto Kühne (1924-1988) is gebore op Graaff-Reinet en het later as ’n onderwyser, joernalis en jeugskrywer gewerk. Hy het 20 kinderboeke geskryf. Sy Huppel-boeke, wat van 1958 tot 1960 as 6 afsonderlike verhale uitgegee is, was van meet af aan baie gewild en word vandag beskou as klassieke Afrikaanse kinderliteratuur.

Kühne was in 1960 die eerste ontvanger van die C.P. Hoogenhout-toekenning vir die laaste boek in die reeks, Huppel verjaar.

Vanjaar het Tafelberg ’n nuwe heruitgawe, en vir die eerste keer is al die verhale in een bundel, met Kühne se vrou, die illustreerder Dorothy Hill Kühne, se mooi illustrasies. ’n Nuwe geslag lesers (die boek is gemik op kinders van tot ses jaar oud) kan nou kennis maak met hierdie gawe karakter en sy oupa:

In die middel van die wêreld in die middel van ’n vlei, het ’n vrolike knapie by sy oupa gebly. Sy naam was Huppel. Die huisie in die middel van die wêreld in die middel van die vlei se naam was Aan-die-Beek. En die straatjie voor die huisie in die middel van die wêreld in die middel van die vlei het ook ’n naam gehad. Sy naam was Krom-en-skeef. Huppel se oupa was ’n visser. Bedags het hy sy hoeke in die diep kuile tussen die riete laat sak. Snags het hy sy nette in die stroom gespan. Dan sit Huppel maar in die middel van die vloer, in die middel van die huisie, in die middel van die wêreld, in die middel van die vlei en speel.

Maar Huppel sit nie net heeldag in die huisie nie. Hy wil graag ’n maatjie hê en gaan op ’n avontuur op soek na Lekkerland. Hy ontmoet karakters soos Fiefman, Vlak-Floors en Steek. Vlak-Floors het ook twee handlangers, die waterdruppels Wielie en Walie, wat sy waterwa vir hom dra. En dan is daar ook Vlei-Floors, ’n groot lummel met bakore...

Met die herlees van Huppelkind is ek opnuut bewus van Kühne se liriese skryfstyl:

Die Lekkerland se pad is ’n lang, lang pad wat in die rondte loop. Hy slinger deur die bosse en hy kronkel om die rante tot daar waar sy end moet wees. En dáár begin hy weer! Hy dwaal deur die vleie en hy boggel oor die bulte en op een plek raak hy weg. Maar onder die braambos begin hy weer en hy drentel al om en om en om die diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie.

W.O. Kühne se Huppelkind word nie verniet op eie bodem in dieselfde asem genoem as A.A. Milne se Christopher Robin-karakter nie. Dis klassieke Afrikaans op sy beste!