Kogmanskloof Odyssee – Die Groot Avonture van ’n Klein Jagter

deur Emile Badenhorst (self uitgegee)  

“Die beste storievertellers het geweet dat stories soos die wind was...” Dít lees jy vroeg in Emile Badenhorst se boek, en hierna waai die sinne jou voort, al op die spoor van die klein jagter van die Kogmanskloof, //Kabbo.

Die nare Groot Grysmuishond en sy broer, Groot Bobbejaan, neem //Kabbo gevange en hou hom aan in ’n grot. Ná ’n nag vol drome word //Kabbo wakker in die grot, waar die lug ruik “soos soet gras”. Hy ontsnap, en ontmoet vir Suster Ystervark in die voetpad – sy gee vir hom ’n sak gevul met al die winde, behalwe een, die westewind. Hy mag nie die sak oopknoop nie, maar later die dag woel sy jakkalshond die sak oop, en die winde ontvlug en kry vatplek in die Kogmanskloof. Só begin //Kabbo se epiese tog terug na sy mense toe.

Emile is die museumbestuurder op Montagu in die Klein-Karoo en gaan kundig en sensitief om met die Khoisan se storieskat – en hy weef daarby die draad van die Griekse held Udysseus. Emile se suster, Maraja Badenhorst-Burger, se illustrasies beeld die mitiese droomwêreld briljant uit. Dis ’n boek wat grootmense én kinders sal geniet.

R130 (posgeld uitgesluit) by emilebadenhorst22@gmail.com

– Toast Coetzer


Klassieke Afrikaans

Weg stof 'n klassieke Afrikaanse boek af.
Drie swerwers in Suidwes

Drie swerwers in Suidwes

deur W.A. de Klerk

Afrikaanse Pers-Boekhandel (Edms.) Bpk., 1949

Heruitgegee deur Protea. R200 by proteaboekwinkel.com

Wat is dit in Suidwes wat jou bekoor, wat jou hart gryp en dit nie maklik weer laat los nie? Waarom wil die Suidwesters op g’n ander plek ter wêreld woon nie? Wat is dit wat die swerwer weer en nog weer terugbring na dié grootse aarde en met die weersien die ou, diep onrus van die bloed laat voel? Miskien het dié vrae by ons opgekom toe ons in die vroeë ure van daardie wintermôre die koers noordwaarts inslaan. Voor ons het die onbekende en die weke van avontuur gelê. Elkeen van ons drie stuks het vantevore al heelwat rondgeswerf. Nou was dit die tog deur Suidwes... dramatiese Suidwes, waaroor ons die vorige agt maande tot vervelens toe gesels en gedroom het. Ja, ons het met groot verwagting gegaan. Ons verwagtings is vervul. Dikwels is hulle oortref. Ons het ongemak verduur en soms swaargekry. Dit was maar ’n klein prys vir die rykdom wat ons teruggebring het.

Met hierdie aangrypende woorde dek die skrywer en dramaturg Willem Abraham de Klerk (1917-1996) die tafel vir een van die mees klassieke reisverslae in Afrikaans: Drie swerwers in Suidwes.

De Klerk was ’n pionierskrywer wat ’n reusebydrae gelewer het tot die Afrikaanse letterkunde met onder meer dramas, romans, prosa en reisverslae.

Ek het hierdie boek, ’n vroeë druk, onlangs in ’n tweedehandsboekwinkel in Johannesburg gevind. (’n Meer onlangse herdruk is gelukkig tans beskikbaar by Protea Boekwinkel.)

Dit is die eerste van sy boeke wat gaan oor reise in die destydse Suidwes en Angola. De Klerk sou uiteindelik met Drie swerwers oor die einders (1953) en ’n Swerwer op die sonpad (1959) sorg vir ’n fassinerende drietal reisverslae.

In 1948 het De Klerk saam met twee maats, Helmuth Andrag en Josias van der Merwe, uit die Kaap gereis.

By Goodhouse se pont het hulle die Oranjerivier teen sterk skemer oorgesteek. Dis Suidwes self nou! En dis ’n Suidwes-pad. Die besef ons terdeë as dit heel gou eenvoudig twee dowwe spore word wat heen en weer tussen die skrik­wekkende swart koppe deur slaan. Kort-kort voer dit ons deur droë rivierlope. Later besef ons dat die spoor sommer die breë bedding van ’n rivier self gekies het. Die berge sluit weer nouer saam, swarter vlekke teen die swart van die duister. Al wat sigbaar bly, is die lang ligstreep voor, die wit glinsterbaan wat ons soos ’n gevoelige voelhoring vooruitgaan.

Die drie vriende reis wyd en besoek onder meer die Visriviercanyon, Lüderitz, Windhoek, Spitzkoppe en Brandberg. Hulle volg ook die spore van twee Duitse geoloë, Henno Martin en Hermann Korn, wat ’n paar jaar tevore in die Tweede Wêreldoorlog in die Namib gaan skuil het om die interneringskampe vry te spring.

Hierdie avontuurverhaal is met verwondering, wysheid en deernis geskryf. Ek beveel dit aan vir almal wat al self deur Namibië gereis het én diegene wat dit nog graag eendag wil doen.

Padmusiek

Soul Ou

deur James Phillips

James Phillips was ’n Suid-Afrikaanse liedjieskrywer en sanger wat in die 1980’s naam gemaak het met sy groepe Corporal Punishment, Illegal Gathering en The Cherry Faced Lurchers. Onder die naam Bernoldus Niemand en die Swart Gevaar het Phillips ook deelgeneem aan 1989 se Voëlvry-toer, wat sy protesmusiek aan ’n (effens) breër gehoor bekend gestel het.

As dit nie was vir sy dood in 1995 nie, sou hy vandag dalk so bekend gewees het soos Koos Kombuis – want sy sosiale kommentaar, vernuf met woorde en beskrywings van Suid-Afrika en sy mense is nét so skerp.

Gelukkig is daar opnames om na te luister, en hierdie akoestiese solo-album met van sy bekendste liedjies is die beste plek om te begin. Jy gaan ’n traan of drie pik, jou voet soms lekker laat tik op die ritme en dan sommer iets onthou uit jou jeug waarvan jy lankal vergeet het.

R69 by Google Play Store

– Toast Coetzer 

Bestel 'n DVD
Daar’s ook ’n nuwe dokumentêre film oor Phillips se lewe. Bestel die DVD van The Fun’s Not Over by rogueproductions@mweb.co.za vir R150 (posgeld uitgesluit).