In Mei 2015 het Erns Grundling na Europa gereis en die Camino Francés, die bekende pelgrimstog in Spanje, gaan stap. Hy het nie gegaan om ’n Weg-artikel of boek te skryf nie, maar byna twee jaar later is Elders – My 1025 km langs die Camino op die rakke. Sy kollega en vriend Toast Coetzer het vir hom ’n paar vrae gevra. 



Hoekom het jy besluit om die Camino te stap? 


Ek het die eerste keer van die Camino gehoor toe ek in 2004 by LitNet gewerk het en ’n telefoononderhoud met die Brasiliaanse skrywer Paulo Coelho gevoer het. Sy boek The Pilgrimage het sedert die jare tagtig vir ’n herlewing langs dié eeue oue roete gesorg. Maar ek het eers einde 2014 besluit om te gaan stap. ’n Ernstige verhouding het toe onverwags geëindig, ek was uitgebrand en oorwerk, wou wegkom van alles en almal – ook van skryf – en ek was onvoorbereid, oorgewig, beseer en onfiks. Ek moes eenvoudig iets doen en het toe maar besluit om vir veertig dae te gaan stap.  


Watter deel van die roete het jy gestap? 


Daar is verskeie roetes in Frankryk, Spanje, Portugal en selfs wyer, maar almal eindig by die katedraal in Santiago de Compostela, die stad in die noordweste van Spanje waar die dissipel Jakobus glo begrawe lê. Ek het besluit op die Camino Francés, die bekendste roete, wat in Saint-Jean-Pied-de-Port begin, aan die voetheuwels van die Pireneë in Frankryk, en dan wes strek deur die noorde van Spanje, deur onvergeetlike stede soos Pamplona, Burgos en León. Hierdie roete is sowat 820 km lank, maar ek het daarna Forrest Gump-agtig geraak en vir nóg ’n week aanhou stap: na Finisterre, Muxía en weer terug na Santiago de Compostela.


Het jy blase gekry? 


Nee, nie ’n enkele blaas oor meer as ’n duisend kilometer nie! Een van my vriende, Robert van Oostenryk, was minder gelukkig – ek het hom later Mister Blister gedoop! Ek het voor die Camino ’n inligtingsessie van die plaaslike Confraternity of St. James (csjofsa.za.org) bygewoon en die wyse raad gevolg om trail running-skoene eerder as stapstewels te koop. Met my blou Salomon-skoene, enkelhoë sykoussokkies en Vaseline was ek gepantser teen blase. Dalk was ek ook net baie gelukkig... 


Watter soort mense het jy padlangs ontmoet? 


Ek het alleen gaan stap, maar daagliks wonderlike mense van regoor die wêreld raakgestap: ’n jong dokter van Japan, ’n 76-jarige oupa van Kanada wat saam met sy 13-jarige kleinseun gestap het, ’n musikant van West Virginia in Amerika, ’n groepie Spaanse lewensgenieters, ’n oulike Mexikaanse meisie wat haar eie reisagentskap besit, ’n wiskundejuffrou van Korea... en selfs ’n paar gawe Suid-Afrikaners! 


Hoekom dink jy is die Camino deesdae so gewild onder Suid-Afrikaners? 


Suid-Afrikaners is lief vir die buitelewe én vir stap. Die Camino is bekostigbaar (ek kon met 30 euro per dag eet, drink en slaap) en baie veilig. En dit bied ook ’n geleentheid vir introspeksie en ’n digitale detoks, sou jy so iets verkies. Ek het sonder ’n selfoon, kamera of horlosie gaan stap – dit was fantasties om so vry te voel en werklik in die oomblik te kon leef.  


Wie kan dit gaan stap? 


Om Hennie Aucamp buite konteks aan te haal: Die Camino is “slegs vir almal”. Jy hoef beslis nie net te gaan om een of ander hartseer of lewenskrisis te gaan verwerk nie, hoewel dit dikwels die geval is of die saadjie plant. 

Baie mense gaan stap die Camino ook vir Spanje se natuurskoon, vir fiksheid, of om ’n avontuur saam met vriende of geliefdes aan te pak. Jy hoef ook nie Katoliek of ’n gelowige te wees nie. Maar ongeag jou redes, vermoed ek die Camino praat iewers met elkeen se binneste begin. 


Wat was die moeilikste deel van Elders om te skryf? 


Die moeilikste deel was om Elders te skryf! Veral tussen my Weg-reise en -sperdatums deur. Gelukkig het my redakteur, Pierre Steyn, vir my die ruimte gegee om aan die boek te werk. Ek het besluit om die boek as ’n soort reisverhaal en memoir te skryf. Hoewel dit nie ’n gids is nie, behoort iemand wat die Camino self wil gaan stap heelwat wenke raak te lees en ’n idee te kry van hoe dit is. Vir my was die grootste uitdaging om oor persoonlike herinneringe en verhoudings te skryf. Ek hoop ek kon dit oral met die nodige deernis doen. 


In een sin: Wat het die Camino jou geleer? 


Jy kan altyd verder stap as wat jy dink – jy kan ook altyd verder dink terwyl jy stap.


Elders word uitgegee deur Queillerie en kos R250 in boekwinkels en by e-handelaars soos Takealot, Loot en Graffiti Boeke. 


Klik hier en staan 'n kans om 'n getekende eksemplaar te wen!