Dis Sondagoggend in Khartoem en my week het pas begin – soos in baie Moslemlande is die werksweek hier van Sondag tot Donderdag. Ek werk hier as Engels-onderwyser en onderwyseropleier.

Wanneer ek my voet uit my woonstel sit, is die eerste tuk-tuk (of riksja, soos dit genoem word) reeds langs my. “Sbaa alkheer!” (Goeiemôre!) roep die bestuurder vriendelik, en ek spring in.

Riksjas is berug vir hulle vreeslose benadering tot aankomende verkeer. Hulle dartel tussen verkeersbane soos haastige hoenders: Slaggate moet gepypkan word.

Die sakekern van die stad – waar my kantoor geleë is – is buite perke vir riksjas om die verkeerslas te help verlig. Daarom klim ek af by die volgende buurt, bekend as Khartoem 2. Nou is dit net ’n kort ent se stap kantoor toe.

Riksjas is berug vir hulle vreeslose benadering tot aankomende verkeer. Hulle dartel tussen verkeersbane soos haastige hoenders: Slaggate moet gepypkan word.

Maar eers lei my neus my na ’n vrou wat in die skadu van ’n boom sit. Sy verkoop ’n verskeidenheid melkerige teesoorte, maar ek’s op soek na dit wat ek reeds op ’n afstand geruik het: klein oliebolle wat “zalabiya” genoem word. Dié word besprinkel met suiker, het ’n harde korsie en is sag in die middel – heerlik!

Vir 10 Soedannese pond (sowat R7) koop ek genoeg vir my kollegas. Dit kom neer op 10 zalabiya, maar omdat ek reeds ’n gereelde klant is, kry ek ’n paar pasella.

Op kantoor aangekom, deel ek die zalabiya uit. Dan ontmoet ek ons motorbestuurder, Ali. Hy moet my na Omdurman neem, waar ek vanoggend gaan klasgee. Ek kry met ’n effense gesukkel die deur van sy getroue wit Giad (’n sedan wat plaaslik vervaardig word) oop en klim in.

Dis onmoontlik om oor Khartoem te praat sonder om die Nylrivier te noem. Daar’s eintlik twee Nylriviere, want Khartoem is gebou by die samevloeiing van die Wit- en Blounyl. Hiervandaan vloei hulle as een rivier noord na Egipte.

Die meeste mense woon óf in Bahri óf in Omdurman, maar werk in Khartoem. Die brûe oor die Blou- en Witnyl verbind die woonbuurte met die sakekern, wat veroorsaak dat die verkeer soms op die brûe opdam. Gelukkig het ek vir Ali, wat die verkeer met tipiese Khartoemse entoesiasme takel. Ek kan dus terugsit en die uitsig oor die rivier geniet.

Na afloop van my klas tel Ali my weer op en ons ry langs dieselfde roete terug kantoor toe. Iewers was ’n ongeluk wat die verkeer ophou. Dis ’n goeie tyd vir my om my Arabiese frases te oefen. “Asma’a!” sê ek trots, en wys na die verkeersknoop. Ali skud sy kop. Ek klink vaagweg soos ’n Jordaniër as ek Arabies probeer praat, verduidelik hy. (Ek het voorheen in Jordanië gewerk.) “Zahmat,” korrigeer Ali. Dís wat die Soedannese sulke verkeer noem. Dan help ek hom weer met sy Engels. Ons oefen nuttige frases soos: “Sign here, please.”

Die brug waarop ons gestrand sit, is die Revolutionary Bridge. Dis in die koloniale jare in Indië gebou en stuksgewys deur die Britte hierheen verskeep. ’n Paar reiertjies vlieg verby om die kontras tussen die vreedsame rivier en die geroesemoes van die stadsverkeer te voltooi.

Boontjies is ’n stapelvoedsel in die Soedan en word reeds van vroegdag af sag gekook. Teen elfuur is dit tyd vir fool en dan vergader almal wat honger is, om ’n gemeenskaplike bak bone.

In die verte, op die oewer van die Witnyl, kan ek ’n groep mans op lae stoeltjies om ’n tafeltjie sien sit. Dié groepie sê vir my hoe laat dit nou is: elfuur. Dis tyd vir “fool”, oftewel boontjies. Boontjies is ’n stapelvoedsel in die Soedan en word reeds van vroegdag af sag gekook. Teen elfuur is dit tyd vir fool en dan vergader almal wat honger is, om ’n gemeenskaplike bak bone. Sesamolie word bygegooi en die bone fyngemaal, sommer met die onderkant van ’n 500 ml-Cokebottel. Daarna word komyn, rissies, tamaties, komkommer, kaas of hardegekookte eier bygevoeg. Jy eet dit met vars brood.

Wanneer ek weer op kantoor kom, is van my kollegas ook besig om fool te geniet. Hulle nooi my en ek sit aan – ek het nog twee klasse vanmiddag en wil nie vaak word nie; dus eet ek nie te veel nie.

Teen die einde van my werksdag verkies ek om die 5 km terug woonstel toe te stap. Somertemperature hier is konstant hoog in die veertig, en daarom wag ek gewoonlik tot die son sak voordat ek wegspring. Nou kan ek talm waar ek wil, staan en luister na die tiptolle en by stalletjies inloer wat my aandag trek. Dis maklik om mango’s, droë hibiskus (dit word as tee gedrink) en jogurt straatlangs koop.

Teen sesuur is ek by die huis. Nou kan ek my skoene uitskop, ’n vrugtemaaltyd berei en my voorbereiding vir die volgende dag begin doen.