Foto's: Lynne Wilde

Ons het ’n huis reg teenaan die Krugerwildtuin. Dis naby die Malelanehek en aan die Krokodilrivier; ons stoep kyk dus direk in die wildtuin in.

Ek en my man, Chris, het een oggend op die stoep gestaan en kyk vir twee buffels wat op die oorkantste rivieroewer in die son lê. Ek het foto’s geneem met my Canon 5D Mk. III met ’n Sigma 150-600 mm-lens.

Chris sien toe skielik ’n luiperd – ons dink dit was ’n wyfie. Sy het uit die bosse verskyn om te kom water drink. Sy was nie ver van waar die buffels gerus het nie, maar het verby hulle gestap sonder om twee keer te kyk.

Op patrollie

Nadat sy klaar gedrink het, het sy op die oewer langs gestap – weer reg verby die buffels – en onder ’n boom gaan lê.

Sekondes later het sy weer opgespring, en ons het gedink sy stel belang in ’n troppie rooibokke wat naby wei. Sy het in tipiese “leopard crawl”-styl begin bekruip en het gefokus gelyk om haar volgende maaltyd te vang.

Paraat...

Die buffels was natuurlik nie deel van haar plan nie, en sy het hulle geïgnoreer – al was hulle slegs enkele meters van haar. Maar toe gebeur iets ongewoons. Een van die buffels begin háár bekruip!

Die buffel het so saggies nader gesluip (ja, blykbaar kan buffels ook katvoet wees) dat die luiperd blykbaar totaal onkant betrap is toe sy ’n onverwagte horing in die boud kry! 

Maar wat kom hier aan?
Buffel sluip nader...
...en Luiperd wis van niks!

Sy het in die lug gespring van die skrik en die hasepad gekies, haar maaltyd vergete. Sy was nie ernstig beseer nie en het na die beskutting van die bos verkas om haar wonde (en ego...) te lek.

Skoert!
#hasepad!

Dit was een van die mees unieke tonele wat ons nóg gesien het, want die gedrag van die luiperd én die buffel was totaal en al onverwags.

Lynne Wilde, Malelane
"Ek was drie jaar oud toe ek die Kruger die eerste keer saam met my ouers besoek het. As kind het ons een of twee keer per jaar gegaan, maar sedertdien is ek gereeld daar.

“Ons het ook ons eie kinders – nou reeds volwassenes – seker drie keer per jaar Kruger toe geneem. Omdat ons nou so naby die Malelanehek bly, kom ek weekliks in die park. Ons is bevoorreg om in ’n land te bly waar soveel van ons diere in hulle natuurlike habitat bewaar word.

“Ek hou van die gevoel van opgewonde afwagting wanneer jy die Kruger binnery. Wat gaan ek sien? Dalk ’n trop leeus, of sommer ’n klein maar spesiale voëltjie? Die Kruger stel nooit teleur nie!”
WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za.



Hierdie artikel het in Weg #164  (Junie 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.