Conqueror is bekend vir sy modulêre plaatstrukture, en Echo gebruik hoofsaaklik veselglas vir die romp, maar Bush Lapa fokus op materiale soos vlekvrye staal en aluminium.

Bush Lapa het sy deure in 2010 op Worcester oopgemaak en later uit sy nate gebars – soveel so dat die aanleg Paarl toe geskuif moes word. Intussen het hulle ’n tak oopgemaak in Centurion én ’n handelaarskap in Pretoria.

Loftus Caravan City in Johannesburg het nou ook ’n Bush Lapa-franchise op die been gebring, en nóg ’n handelaar net buite Pinetown het in KwaZulu- Natal oopgemaak. Die nuutste ontwikkeling is dat Bush Lapa nou die internasionale mark betree – die eerste besending is reeds na Australië verskeep.

Die eienaar, Jannie Oeschger, sê hulle het hulle hele reeks gestuur en nie net enkele modelle nie. Die waens moet wel aangepas word vir die Australiese regulasies, maar word hier kant en klaar gebou. Die kleur verskil ook effens van dié van die plaaslike reeks, én die name is aangepas.

Die Gogga-reeks word die Hopper, die Ratel die Badger en die Boabab hou sy naam. Teen die tyd wat jy dié tydskrif lees, het 1 200 Bush Lapa-waens reeds uit die aanleg gerol.

Kontak: 021 870 1277/38; info@bushlapa.com; bushlapa.com 

* Lees nog nuusbrokkies hier