Canon het moontlik die goue middeweg gevind met die M50. En dís hoekom...

Wat spieëllose kameras betref, het Canon onlangs twee reuse-treë vorentoe gegee. Die twee modelle wat die mark laat regop sit het, is die EOS R en die M50.

Iets vir die 5-ster-ouens

Net ’n paar sinne oor die EOS R, want ons het nog nie een self in ons hande gehad nie. Dié kamera is Canon se eerste volraam-spieëllose kamera. Hy het verskeie indrukwekkende funksies, maar die een wat die oë laat rek, is sy klasleidende 5655 AF-punte (nie ’n tikfout nie!), wat die kamera byna bonatuurlike vermoëns in swak lig gee.

Stel jou voor wat jy met 5655 AF-punte kan doen as jy die sterre in die Kgalagadi afneem! Die EOS R vergelyk prysgewys met Canon se 5D-reeks, wat beteken dis vir fotograwe wat al ’n bietjie ernstiger is as die mik-en-druk-ouens.  

canon
Die M50 is klein maar getryn
canon
Foto: Verskaf
canon
Die M50 met die 15-45 mm-lens
canon
Foto: Verskaf

Iets vir die boskamp-ouens

Die ander kamera van Canon waarvan reisfotograwe moet kennis neem, is die M50. Canon bemark dié buksie aan fotograwe wat tot nou toe met die selfoon foto’s geneem het, maar nou ’n bietjie ernstiger raak oor hul fotografie. Moet egter nie dink dit is ’n intreevlakkamera nie. Dis veel meer as dit. Met die M50 het Canon ’n “sweet spot” getref: Hy is lig genoeg dat jy hom oral kan saamneem, en goed genoeg dat jy dit vir gehaltefotografie kan gebruik. 

canon
Op die hoogste spits op die Inkaroete met die Canon M50 om die nek
canon
Voor die katedraal op die Camino de Santiago
canon
Teetyd op die Camino, met die M50 byderhand

Ek het die Camino in Spanje én die Inka in Peru met die Canon M50 om my nek gestap, en kan die volgende dinge uitlig.  

• Die M50 is Canon se eerste spieëllose kamera wat 4K-video’s neem. Omdat 4K-video’s tamaai groot is, verkies ek dit steeds om in HD video’s te skiet sodat ek dit maklik op sosiale media kan deel, maar dis lekker om te weet dat jy die funksionaliteit het. Jy sal met selfvertroue ’n trouvideo hiermee kan skiet.

Die gehalte is fenomenaal. Hieronder is ’n video wat in ’n skemerdonker katedraal in Santiago geskiet is. Ek kon nie ’n driepoot gebruik nie omdat kameras nie daar toegelaat word nie – ek moes dit skelm afneem. Let op hoe vinnig en dodelik akkuraat verstel die M50 sy fokus sodat die bewegende wierookbak die hele tyd skerp bly.

• Die fotogehalte is uitstaande. Dit word moontlik gemaak deur eienskappe soos die DIGIC 8-beeldprosesseerder, die “Auto Lighting Optimiser”, “Digital Lens Optimiser” en “Highlight Tone Priority”.

• Die kamera het die perfekte balans tussen grootte en funksionaliteit. Die kamera trek die skaal op 387 gram en is klein genoeg dat jy dit as “cute” wil beskryf. Maar die gewig beteken jy kan dit om jou nek hang as jy stap of in jou handsak druk. Ideaal vir reisfotografie. Ek het die kamera elke dag by my. 

canon
Die Canon M50 was perfek vir my reis

• Die spieëllose kameras kan egter lense ruil, en met ’n spesiale ring pas ál Canon se EF-lense op die M50. Hoewel jy dus waarskynlik net die 15-45 mm- of 18-150 mm-lens gaan saamneem op ’n staptog, het jy die opsie om lense te wissel en die kamera ook vir makrofotografie of astro-fotografie te gebruik. Jy sal selfs ’n zoemlens kan gebruik om ’n voël doer ver op die tak in die Wildtuin af te neem.

canon
'n Bewegende suikerbekkie in erg bewolkte weer

• Ek dink die amptelike syfer vir sy batterylewe is 235 foto’s per herlaaiing, maar ek het amper vier keer soveel foto’s uit die battery gekry op die Inka. Jy moet net jou gesonde verstand gebruik en die kamera afsit wanneer jy dit nie gebruik nie. 

• Die selfie-funksie (waarmee jy die kamera se raakvenster kan omdraai om jouself af te neem) klink dalk vir jou na iets wat net tieners kan gebruik, maar dit maak die kamera ook ideaal om selfhelpvideo’s of “vlogs” op te neem. 

• Die kamera praat met jou slimfoon sodat jy die foon as sluiter kan gebruik. Niemand hoef dus meer te hardloop om deel van die groepfoto te wees nie. Jy maak die kamera op ’n driepoot staan en druk die sluiter in jou hand. Die wifi-en Bluetooth-konnektiwiteit beteken ook dat jy maklik foto’s op sosiale media kan deel. 

• Die kamera se raakskerm kan as ’n sluiter gebruik word, wat dit soveel makliker maak vir makrofotografie. Jy druk eenvoudig op die skerm waar jy die kamera wil laat fokus, en die M50 doen die res. 

canon
Die blommetjie en die bytjie is moontlik gemaak deur die raakskerm wat as sluiter gebruik kan word

• Die kamera is ook in swart beskikbaar, maar die wit het nogal die koppe laat draai en was dikwels ’n aanknopingspunt vir gesprekke met oorsese stappers en kamera-entoesiaste. 

• Die tydsverloopfunksie (“time lapse”) is iets wat ek dikwels gebruik. Die M50 het drie verskillende tydverstellings hiervoor, na gelang van hoe vinnig die voorwerpe beweeg.

• Sy prys. Vir minder as R10 000 kan jy ’n kamera koop wat “saam met jou kan groei”. Namate jou fotografievaardighede ontwikkel, kan jy lense bykoop en nuwe dinge beproef. Orms het verskillende pakkette beskikbaar. 

Gerda Engelbrecht het die Canon M50 gebruik as deel van ’n blogreeks in Spanje en in Peru. Jy kan die foto’s gaan kyk by weg.co.za

www.canon.co.za