Die Mookgophongse vervaardiger Challenger het nóg ’n reeks gevoeg by sy indrukwekkende versameling sleepwaens: Hulle het ’n waentjie ontwerp wat sy lyf ewe veel sleep- en kampwa kan hou.

Die nuwe Cross-Over-reeks is omtrent ’n bagasiesleepwa wat ’n mens in só ’n mate kan toerus dat jy uiteindelik ’n boswa het.

Die meeste standaardsleepwaens het nie ’n sydeurtjie met ’n glyraam of hoekstutte of ’n agterdeur wat platslaan as werkblad nie. Wat nog te sê ’n drarak waarop ’n daktent pas, met inglyplek vir ’n kamptafel daaronder! Twee 12 V-kragpunte? Vergeet net daarvan.

Dís egter wat Challenger met die Cross-Over regkry, en dié wa is nommerpas vir kampeerders wat kleiner wil begin. Toegeruste boswaens is nie goedkoop nie – vandag kry jy ’n klompie modelle wat net so duur is soos padwaens. Met die Cross-Over kan jy met ’n basiese wa begin en dan luukshede bylas soos dit jou sak of behoeftes pas. Dit sluit in onder meer ’n glyraamstelsel vir die agterdeur en ’n tweeplaatgasstoof met ’n gasbottel. Daar’s ook ’n houtdrarak, ’n 42 l-watertenk en ’n kragpak met ’n omskakelaar.

Die standaard-Cross-Over is gemik op slepers met ’n gewone ligtevoertuigrybewys, want die brutovoertuigmassa (BVM) is op 750 kg vasgestel. Dit beteken wel die wa kom sonder inloopremme, maar ’n remstelsel is ’n opsie. Dieselfde geld vir skokbrekers.

Die Cross-Over-reeks is net in kakiekleur beskikbaar, maar daar’s drie modelle. Die basiese uitleg van die Caprivi, Kalahari en Sahara is dieselfde en hulle verskil hoofsaaklik in lengte (van 2 525 mm tot 3 135 mm). Die Kalahari en Sahara se hoogte en grondvryhoogte is danksy die 15”-wiele hoër as die Caprivi met sy 14”-wiele.

Prys Teen druktyd was die Cross-Over-reeks se pryse nog nie beskikbaar nie.

Kontak 014 743 1151 sales@challengertrail ers.co.za; challengertrailers.co.za


Lees nog nuusbrokkies uit ons Januarie-uitgawe hier.