Buiten dat die aanlegte gesluit is volgens die regering se vereistes, verwag die vervaardigers dat nuwevoertuigverkope in die volgende dekade gaan daal.

Motorhandelaars sit met die hande in die hare weens ’n skerp afname in verkope en vrees dat dit etlike jare gaan duur voordat verkope reg oor die wêreld, ook in Suid-Afrika, na normaal gaan terugkeer.

Weens die verpligte inperking gaan nuwe voertuie ook voortaan deur mediaverklarings bekend gestel word – totdat daar sekerheid is dat die pandemie hokgeslaan is. Die bekendstelling van Suzuki se S-Presso is op die nippertjie gekanselleer en was op 18 Maart die eerste voertuig in Suid-Afrika wat op digitale wyse bekend gestel is.

Coronavirus
Coronavirus

Die S-Presso is gevolg deur die Kia Sorento op 19 Maart, en die digitale bekendstelling van die nuwe Toyota Corolla het op 25 Maart plaasgevind.

Teen druktyd het BMW in Amerika egter besluit om nié werk by sy reusagtige Spartanburg-aanleg in Suid-Carolina te staak nie. Dít te midde van die sluiting van strande, skole en universiteite in daardie staat. Die Spartanburg-aanleg bou die X3, X5 en X7 wat almal belangrike modelle is vir die maatskappy.

Al BMW se aanlegte in Europa is weens die pandemie gesluit asook Suid-Afrika se Rosslyn-aanleg wat die gewilde X4 bou.

Mercedes-Benz in Amerika wou ook uithou en aanhou bou, maar die verskaffing van onderdele het einde Maart opgedroog nadat subkontrakteurs en die Duitse moedermaatskappy gesluit het.

Motorvervaardigers soos Tesla, General Motors en Ford oorweeg dit nou om mediese asemhalingstoestelle te bou omdat motorvervaardiging oor die volgende paar jaar waarskynlik gaan afneem terwyl Covid-19 moontlik gaan versprei.

GM en Ford is in amptelike samesprekings met die Amerikaanse en Britse regering oor die haalbaarheid van die plan, terwyl Elon Musk getwiet het dat Tesla ook bereid is om te help.

Coronavirus
Nuusbrokkies: Mei 2020
Coronavirus
Nuusbrokkies: Mei 2020
Coronavirus
Nuusbrokkies: Mei 2020

Kia het op Woensdag 25 Maart aangekondig sy Yancheng-aanleg in China word aangepas om maskers te maak omdat daar ’n wêreldwye tekort is. Sy aanlegte in Georgia, Amerika, Slowakye en Indië is teen druktyd gesluit.

Die Chinese motorvervaardiger Geely het ’n virusbestande manier bedink om nuwe voertuie by klante af te lewer: Mense hoef nie ’n handelaar te besoek om hulle nuwe ryding te gaan haal nie; jy bestel bloot jou voertuig op Geely se webwerf, beklink die transaksie elektronies en jou gesteriliseerde voertuig word dan voor jou deur afgelewer. ’n Hommeltuig bring die sleutel minute vóór aflewering na jou huis toe.

Die Amerikaanse motorwedrenorganisasie Nascar het sy eerste digitale wedren aangebied: die eNascar Pro Invitational Series. Renjaers het agter die stuur van digitale renmotors geklim en op ’n digitale renbaan met mekaar meegeding. Die wedren is op die aanlyn-videospeletjiediens iRacing uitgesaai.

Formule 1-renjaers wend hulle ook tot digitale wedrenne en die Britse renjaer Lando Norris het in Maart vanjaar teen onder andere Valeri Bottas van Mercedes en Nicholas Latifi van Williams te staan gekom. Dié wedren is op Twitch aan 170 000 kykers gewys.

In positiewe nuus berig die nuusdiens Reuters werk by die Donfeng-motoraanleg in Wuhan, China, is hervat. Wuhan was die bron van die jongste coronavirus, maar die Wêreldgesondheidsorganisasie het bevind die siekte is in bedwang daar. Donfeng bou die Peugeot Landtrek-bakkie waaroor ons laasmaand berig het.


Lees al die nuusbrokkies wat in ons Mei-uitgawe verskyn hier.