Foto's Leon Botha

Echo4x4 se nuwe vlagskip neem behoorlik die voortou wat betref ontwerp en uitleg. Die maatskappy spesialiseer in boswaens en boswoonwaens, en vir die woonwaens gebruik hy deur die bank veselglas. Die waens is stewig, maar staan geen tree terug as dit kom by afronding nie – kyk maar na die binnekaste: Dit lyk of dit uit ’n Boeing kom.

Die stortgedeelte trek steeds uit die regterpaneel soos in die Kavango, maar spog met ’n splinternuwe ontwerp. Verder strek die oorgroot glasvensters, mooi gelyk met die bakwerk, al teen die romp af en sorg vir ’n sjiek voorkoms. Boonop het die Kunene twee dubbelbeddens, en met sy onafhanklike vering keer niks jou gesin om Afrika binne te vaar nie. 

Kry jou staan

Nadat jy die vier hoekstutte afgeslaan en uitgedraai het, moet die opwipdak eerste lig vóór jy verder kan opslaan.

Anders as die Kavongo-model waarvan dak net aan die een kant lig, lig die Kunene se dak parallel met die romp. Maar dié dak het nie twee gasstutte aan elke kant nie, maar net een – in die middel by ’n skermeganisme. Binne en op die punte van die dak is twee unieke hefboomhandvatsels wat jy omswaai om die dak moeiteloos te lig. Dis ’n vindingryke en vars ontwerp wat min inspanning verg.

Met die dak gelig kan jy nou die voorste bed uitvou. Dit slaan uit die romp oop oor die A-raam, en soos jy die bed oorswaai, vou ’n voetstuk uit wat dit dan by die koppelstuk steun. Die tentgedeelte bo dié bed is amper soos ’n daktent, hoewel die boseil wel vas is aan die opwipdak. Dit heg onder, verby die rand van die opwipdak – ’n ontwerp wat ’n moontlike lek verhinder.

Twee U-rame slaan binne die tent op om die nok en die raamwerk by die punt van die bed te vorm. Vier veerlatte wat onder die matras by die koppenent gebêre word, pas nou elk op ’n hoek van die boseil om dit netjies te span. (Terloops, ook onder die matras is ’n vlak kas waar jy dinge soos ekstra swemklere of handdoeke kan pak.)

Die storthokkie wat uit die regterkant van die romp trek, is op dieselfde plek as in die Kavango, maar Willie Grobler, die eienaar van Echo4x4, het hierdie patent netjies vir die Kunene aangepas. Van af buite lyk dit bloot soos ’n deur regoor die instapdeur, maar dit trek parallel weg van die romp af om die storthokkie te vorm. Die trog en deurskynende dak van die hokkie vou tot teenaan die deur se binnekant terug, maar slaan uit wanneer jy die hokkie uittrek. Die deurskynende dakkie rus op die skouer van die romp en die trog haak by die vloer in.

Tussen die dakkie en die trog is ’n permanente seil wat met klitsrits by die romp heg om die hokkie af te rond. Die hokkie het sy eie twee hoekstutte wat jy elk met ’n sperratmegansime en ’n strop oor die bopunt van die poot vastrek sodat dit stewig op die grond staan.

Hierdie hoekstutte is uniek aan Echo se waens, maar as jy met tien duime geseën is, is dit nogal ’n storie om uit te slaan. Binne is die trog 26 cm diep en die stortdakkie 1,96 m hoog.

Huis se kombuis

Die buitekombuis is links van die Kunene en trek omtrent as ’n geheel op ’n groot laai tussen die deur en die neuskas uit die romp.

Die versonke tweeplaatgasstoof sit dwars op die punt van die laai met die ys-vrieskas teenaan die romp – ook dwars. Twee toegevoude blaaie oor die stoofgedeelte vou elk na die kant toe oop om weerskante ’n staanplek onderskeidelik vir die wasbak (links) en die droograk (regs) te maak. ’n Kraan met ’n swaaikop sit links in die blad sodat jy warm en koue water in die los wasbak kan tap. Die stoof het ook ’n glasblad bo-oor ingeval jy dit nie gebruik nie en meer werkplek soek.

As jy nóg neersitplek rondom die kombuis nodig kry – soos om die borde uit te pak wanneer jy opskep – kan jy die los vlekvryestaaltafel opslaan.

Twee laaie trek verder op die punt van die kombuislaai uit. Jou borde, bekers, glase en dies meer pas in die onderste een, terwyl die boonste een ’n vlak ruimte is vir opskeplepels of selfs ’n boksie koekies of twee.

Vir meer pakplek – om byvoorbeeld kruideniersware te bêre – moet jy omstap na die ander kant van die Kunene.

Naas die storthokkie, aan die A-raam se kant, is ’n kas met drie laaie. Dis nommerpas vir items soos blikkieskos en graankos. Die kas staan regs in die opening met langsaan ’n oop gedeelte as jy iets groters soos ’n ysmasjien hier wil bêre. Dié kas is in dieselfde ruimte as waar die ys-vrieskas aan die ander kant uittrek. (Die bêreplek vir die wielmoersleutel en nooddriehoek is aan die binnekant van die deur.)

Die gassilinders en gasgeiser staan op die disselboom teen die romp agter ’n veselglasskerm.

Die skerm het skarniere en kantel na die koppelstuk se kant toe sodat jy die silinder se kraantjie kan oopdraai. Dis in elk geval nodig vir meer ventilasie by die geiser.

Buiten die stort en wasbakkraan wat ook van hier af warm water kry, is daar ook ’n warm- en kouewaterkraan by die romp. 

Klim in

Om die goggas uit jou slaapplek te hou is daar ’n gaasdeur wat die hele voordeur bedek – dit is iets wat ’n mens hier en daar op boswoonwaens sien, maar dit hoort eintlik op alle waens.

Soos jy by die Kunene inklim, is die uitvoudubbelbed natuurlik links, die stort voor jou en die ander bed regs.

Dié oop ruimte in die wa is een van die Kunene se groot pluspunte. Twee volwassenes kan maklik hier weg van mekaar af staan en aantrek sonder dat die een die ander ’n elmboog in die heup gee. Dis omtrent 1,3 x 1,4 m groot.

Die uitvoubed is 142 cm breed en taamlik hoog van die grond af – 88 cm. Dis dus gemakliker vir die jong klomp om hier in te wip.

Die kragboks met al sy stroombrekers, smeltdrade, batterylesings en ’n twee- en driepuntkragprop is direk links van die deur. Die ligskakelaars is regs van die boks.

Soos jy van die deur af na die agterkant van die wa kyk, is die bed teenaan die regterkant met ’n ruim gangetjie van 50 cm breed links.

Die smukhoekie met sy wasbak en spieël (en ’n rakkie of drie) is tussen die begin van die gangetjie (by die hoek van die bed) en die stort.

Nog ’n kas is regs by die instapdeur en het ’n groot oop rak waarin ’n mikrogolfoond kan pas. Onder dit is ’n kas met ’n hortjieskuifdeur met drie rakke.

Die ander pakplek in die wa is weerskante van die bed bo teen die dak. Dis twee langwerpige kaste waarvan die deure plat na jou toe oopmaak – amper soos die handbagasieruim in vliegtuie. Dis uniek en ’n slim gebruik van ruimte.

In elkeen van die muurpanele langs die bed is ’n groot skuifvenster (141 cm lank – amper so lank soos die bed self) wat hope lig deurlaat. Hierdie vensters is aan die buitekant versonke en loop dus gelyk met die bakwerk. Boonop word dit verder afgerond met blindings wat van bo af oor die venster laat sak word. Dis eenvoudig, maar werk soos ’n bom.

Die bedkassie staan op die punt van die gangetjie en spog met ’n twee- en driepuntkragsok. Die een wat teen die muur slaap, het darem ’n rakkie wat groot genoeg is vir ’n bril en selfoon. Aan albei kante – en bo die bed – is ’n leeslampie, elk met sy eie skakelaar, waarvan die skynhoek verstel kan word.

Buiten die ekstra pakplek onder die bed pas ’n opsionele kassettoilet by ’n oop rak onder die voetenent van die bed in.

Wat is ingesluit en wat nie?

Die onafhanklike vering en die EPP MK2-kragboks, stort, twee jerrykanne, gasstoof, 120 l-watertenk, 12 V-waterpomp en binnewasbak met sy kraan is standaard op die wa. Van die opsionele ekstras sluit in die 700 W-20 l-mikrogolfoond (R1 393), 3 kg-gassilinder (R642), bedrading sodat die sleepvoertuig die Kunene se battery kan herlaai (R1 989), en ’n Fresh Jet Dometic 2200-vloerlugreëling (R24 990).

Die administrasie- en registrasiegeld is (R2 568).

Stertlangs

Die noodwiel pas agter teen die romp met ’n jerrykan aan weerskante. Ook weerskante van die noodwiel, maar nader aan die dak, is twee vlak kassies, elk met twee rakkies en ’n deurtjie. Van jou gereedskap kan hierin pas, of vuuraanstekers, stormbande en daardie Fredlin-prop (vóór dit weer soek raak).

In die middel bo is ’n rak waarin ’n sakkie of twee braaihout kan pas, en onder die noodwiel is ’n haak as jy dalk ’n fietsrak wil monteer.

Die tegniese goed

Lengte: 6,015 m

Breedte: 2 m

Hoogte: 2,225 m

Nokhoogte binne-in: 1,875 m

Nettogewig: 1 260 kg

Dravermoë: 1 090 kg

BVM: 2 350 kg

Wielgrootte: 15”

As: Onafhanklike vering met ’n kronkelveer en skokbrekers aan elke kant.

Prys: Vanaf R471 326

Plus

  • Die opwipdak se opligmeganisme is ’n stukkie vindingryke ingenieurswerk. 
  • Die storthokkie is prakties en slaan maklik uit. 
  • Die oop ruimte in die wa is ’n luukse.
  • Die groot vensterruite met hulle rolblindings is modieus en boonop prakties.

Minus  

  • Die sperrat-voetstutte van die storthokkie werk goed, maar dit neem tyd om baas te raak. 
  • Die hoofbed het net een bedkassie. 
  • Die Kunene is net vir gróót sleepvoertuie bedoel.

Ry & Sleep het die prototipe van die Echo Kunene by die vervaardiger geleen. Ry & Sleep sê Met sy betreklike lae tarragewig het die Kunene as woonwa een van die hoogste brutovoertuigmassas in die land – 2 350 kg. Jy kan dus meer as ’n ton laai, maar jy het ’n bul van ’n sleepvoertuig nodig.


Woonwatoets
Woonwatoets
Handelaarsnetwerk

Hoofkantoor in Centurion, 3 eie winkels in Gauteng en Kaapstad. Totaal van 14 handelaars landwyd. Echo voer ook uit na Namibië, Brittanje, Australië, die VSA en Kanada.

Kontak: 012 345 3333; echo4x4.co.za; echoacc@echo4x4.co.za