Wie skrik vir ’n pap band?

Hier in die Kalahari moet ’n meisie haar staan ken, of jy nou mooi gerok is of nie.

Ons boer sowat 80 km duskant Askham, en mense wat dié deel van die wêreld ken, sal weet hier is niks sommer net om die draai nie. Ek en my driejarige dogter, Elmé, het onlangs by my vriendin Petra Knoetze gaan tee drink. Petra-hulle bly 70 km ánderkant Askham, wat beteken van ons af is dit 150 km tot by hulle.

Ons is gewoond aan dié soort afstande, maar op pad terug, by die Grootaarpan, voel ek die bakkie swik in ’n draai en ek hou stil. Die regteragterband is pap, maar in ons geweste is dit nie ’n ongewone gesig nie.

Daar staan ek en my dogter langs die pad... nogal met ’n vrag soutlek agterop die Isuzu. Ek kry gou die moersleutel, die noodwielslinger en die domkrag gereed sodat ek die noodwiel kan opsit. Vir my is die moeilikste deel om die wielmoere los te kry, maar ek het al geleer jy gee die moersleutel ’n ordentlike trap of twee en die moer kom los. Maar dis ook moeilik om die slinger deur al die gleuwe en gaatjies gedruk te kry sodat jy die noodwiel onder die bak kan laat sak.

Terwyl die bakkie veilig staan met die handrem op, kruip klein Elmé met haar netjiese rokkie, vellies en al onder die bak in en help om die slinger op die regte plek te kry. Dis net hier waar ek sien dis ’n foto-oomblik. Ek hoop die man wat eendag dié meisie vir ’n trouvrou aansien, ken sy staan.

LIZ-MARI MARAIS Askham 

Liz-Mari wen ’n Booxe Original Boot Box ter waarde van R1 695. Dié plastiekkis pas in ’n Toyota Fortuner se laairuimte en is gelyk met die vloer wanneer die deksel toe staan.

Dis net die plek vir items soos jou herwinningstoerusting en noodhulptassie. Dit word gemaak van duursame plastiek en het aluminiumskarniere. Dis dus meer as net ’n bêreplek – hier is selfs plek vir die kinders se sporttoerusting, jou ekstra stel oefenklere of waardevolle items wat jy buite sig wil hou. Booxe se Ultimate Boot Box pas ook in ander fabrikate.  booxe.co.za


Kyk die oulike bussie!

Ek en my vrou, Dorothea, was in Junie in Salzburg, Oostenryk, waar ons ’n interessante artikel in die tydskrif Wirtschafts Nachrichten gesien het. Die artikel handel oor selfrybussies. Die stadsraad beplan om die verkeer te verlig deur dié bussies te gebruik. Hulle is outomaties en ry sonder ’n bestuurder op ’n bepaalde roete.

Die bussie kan in albei rigtings ry en daarom lyk die voor- en agterkant dieselfde. Nou het ek ’n vraag: Kan sulke bussies nie dalk as ’n ryhuis ingerig word nie?

Dalk kan Sanparke se mense hulle gebruik en byvoorbeeld as ’n wildkykvoertuig in die Krugerwildtuin inspan. Dit kan selfs handig te pas kom om reisigers na en van lughawens te neem.

Heelwat elektriese motors is op Oostenryk se paaie te sien, en ons het oral langs die strate kragpunte vir elektriese motors gesien. Dalk is dié soort bussies die mobiliteit van die toekoms, of “mobilität von morgen”, soos hulle in Duits sê.

NICO STEENBERG Kleinfontein, Rayton

Soet met die suur

Ons het dit geniet om by ATKV se Goudini-spa te kamp, maar sal eerder langnaweke verby hou. Oor die September-langnaweek het ons van die Donderdag af by die oord gaan kamp.

Dit was geweldig koud die eerste aand – seker oor die nabygeleë berge wat met sneeu bedek was. Gelukkig het die weer vinnig verander en die laaste paar dae was lekker warm. Die Donderdag was dit rustig en stil in die kampplek, maar dit het net gehou tot die Vrydag rondom middagete.

Die manne met hulle woonwaens en tente het op die kampplek toegesak... en die stilte was daarmee heen. Ons sal eerder langnaweke en vakansies dié gewilde oord vermy. In die badkamers was daar omtrent ’n verkeersknoop en die geriewe het gesukkel om by te hou.

Ek en my vrou, Lameesh, en ons twee kinders, Isaiah (10) en Nesha (8), geniet dit om naweke kampplekke te besoek, maar verkies stilte. Ons almal geniet die kamplewe en deur ’n voorbeeld te stel hoop ek dat die kinders ook kamp aan hulle kinders sal bekend stel.

Tog, al was die Goudini-naweek nie heeltemal wat ons gehoop het dit sal wees nie, bly elke kampgeleentheid ’n ervaring op sy eie.

ANDRÉ VAN DER BERG Bellville

Hier kom die water!

Na aanleiding van die skitterende artikel oor die Richtersveld in die Oktober-uitgawe kan ek vir die skrywer van die artikel ’n antwoord gee oor hoe die watertenks by Kokerboomkloof gevul word.

Dave Buchanan skryf: “Die ablusiegeriewe se waterbron is vier 10 000 l-tenks wat tussen reusagtige rotse versteek staan. Dis onseker hoe die tenks volgemaak word. Dalk is daar ’n boorgat naby.

Wel, die water word al die pad van die Oranjerivier af aangery met ’n Bell 6x4-lorrie. Agterop die lorrie is ’n watertenk van waar die water oorgepomp word.

Ek werk by ’n bande-onderneming, en toe die foto geneem is, was ons hoeka besig om nuwe bande op die waterlorrie te sit.

WILLEM VAN DER MERWE Springbok