Kom proe hier bier! 

Waar? R43, Hermanusweg

Kontakbesonderhede: 082 542 6484

Dié plaas spog met ’n brouery en restaurant. Honingklip maak Belgiese boetiekbiere wat glo ’n besonderse ‘twist’ bied. Hulle gebruik ’n kombinasie van plaaslike en ingevoerde mout en hops om ’n egte smaak te vervolmaak.

Die Saison-bier is een van Honingklip se gewildstes en het vars geure. Kyk of jy die speserye en vrugtesoorte in die nasmaak kan proe. Die Honingklip-eienaars eksperimenteer graag met nuwe bierresepte. Dié biersoorte word dikwels in kleiner hoeveelhede geproduseer en is dan slegs by die brouery beskikbaar. 

Ietsie om aan te knibbel? 

• Betty Blue Bistro (126 Main Rd, Hermanus – 028 125 0037)

Dié bistro is ideaal vir ontbyt en middagete. Die word volgens kleure gegroepeer. Die geel-ontbyt is ’n moet! Geniet mielie-koekies, roereier, geel soetrissies en ’n geel-slaai as goeie begin vir jou dag! Of wat van ’n pannekoek? Skep jou eie soet of sout variase. 

• Pear Tree Bistro (Village Square, 81 Marine Drive, Hermanus – 028 313 1224)

Pear Tree is ’n ontspanne eetplek wat op die strand geleë is. ’n Mens kan binne of buite sit. Die spyskaart is ietwat meer afgerond met happies soos aranchini en tiramisu met lemoen-room en koffie-karamel. 

• Peregrine-padstal(N2 & R321, Grabouw)

Peregrine is in 1964 gevestig en is tot vandag toe een van die gewildste padstalle in die land. Hulle lekkernye sal jou mond laat water – van pasteie tot vars appels.Of kry vir jou vars appelsap – die is nie verniet appelwêreld nie. Die bakkery het ’n gesellige atmosfeer terwyl die boetiek-kafee wegneemetes kan gee as jou tyd min is.

Ander uitstappies naby Hermanus

• Grotto-strand (Grotto-straat, Hermanus)

Dit is dikwels lekker oor naweke gehaltetyd saam met jou gesin deur te bring. Vat hulle strand toe! Grotto-strand is ’n Blouvlagstrand en bekend vir die lang stuk sand waarop ’n mens heerlik kan stap. Hier is ook swemplek, parkeerplek en ’n parkie vir die kinders. 

• Hermanus-markie (Op die hoek van Fairwayslaan & Jose Burmanrylaan, Hermanus)

Dié rustige plaasmarkie is ideaal vir die hele gesin. Hier is vele kosstalletjies wat enige fynproewer opgewonde sal maak: worsrolletjies, pasteie, plaaslike kase, vars sap, boetiekbiere en uitstekende koffie is maar net ’n paar van die heerlike produkte wat hier beskikbaar is. Die markie is elke Saterdag van 09:00-13:00. Skakel gerus 072 883 3894 vir navrae. 

• Klipgat-grot 

Dié grot is naby die De Kelders-visvangdorpie geleë. Die wandelroete begin by Gansbaai se hawe. Die grot is van historiese belang en ’n belangrike deel van die kulturele erfenis. Die grot is vir die eerste keer in 1992 ontdek en ondersoek. Jy kan ook deur Hermanus tot by die Walker Bay-natuurreservaat ry en seelangs na die grot stap.

Kom les jou dors met Dors, nuwe episodes op Vrydae om 20:00 met heruitsendings op Saterdae om 17:00 op VIA, (DStv-kanaal 147.)