Die nuwe generasie Toyota Corolla Sedan is in Maart 2020 bekendgestel om die Corolla-driemanskap saam met die sportiewe luikrugmodel (“Hatch”) en die waarde-vir-geld Quest te voltooi.

Mooi en plat

Die eerste ding wat jy opmerk van die nuwe Sedan is die vaartbelynde sportiewe ontwerp. Die Corolla is laer en breër, en die rondings van die enjinkap wat deur die LED-hoofligte afgerond word, maak ’n sterk indruk. Die LED-agterligte gee die Corolla beslis ’n moderne voorkoms. Die XS-sedan het 16 duim-allooiwiele, terwyl die sportiewe XR se 18 duim-allooiwiele nie maklik misgekyk sal word nie.

Is sy byt so goed soos sy blaf? 

Dis alles goed en wel dat ’n ryding goed lyk, maar kan hy ook sy spiere op die pad bult? Met die Corolla is die antwoord beslis ja! Die toppunt van die reeks, die XR, word aangedryf deur die nuwe TNGA-2.0-liter-petrolenjin wat beskikbaar is in ’n sesspoed-handratmodel of ’n “tienspoed”- aaneenlopend veranderlike oordragratkas (die sogenaamde “continuously variable transmission” of CVT-ratkas). 

Die 2.0 liter-enjin lewer 22 kW krag en 27 Nm wringkrag meer as sy voorganger, en het nou 125 kW krag en 200 Nm wringkrag wat glad nie te versmaai is nie.

Jy sou verwag het dat hy dors moes wees, maar danksy sy hoë vlak van verrigting en gevorderde tegnologie bied die nuwer model beter brandstofverbruik as die vorige petrolenjin. Sy gekombineerde siklussyfer van 6,0l/100km vir die outomatiese CVT-weergawes en die 6,5l/100km vir die handratweergawe is meer as respektabel. Die middelslag XS het ’n 1.8 liter-enjin wat 104 kW lewer, maar dis net in die outomatiese CVT-model beskikbaar.

Foto: Verskaf
Die Corolla Hatch

Hoe lyk hy binne?

Verder het Toyota ook aansienlike verbeterings aangebring wat betref gerief, gemak en veiligheidskenmerke, om die nuwe Corolla ’n afgeronde, premium sedan te maak. Die nuwe dubbelmik-veringstelsel wat agter gebruik word, en wat nou ’n standaardkenmerk van al die Corollas is, dra heelwat daartoe by.

Waar die intreevlak Quest op praktiese eienskappe en veelsydigheid fokus, en die Hatch op voorkoms en verrigting, is die Sedan se sterk punte sy ontwerp en tegnologie.

Die ontwerp- en tegnologie-etos kan deurgaans in die kajuit van die Sedan gesien word, waar die nuwe Corolla werklik “alles het”. Teen ’n prys vanaf R372 700, kom die 1.8 XS CVT uit met LED-hoofligte, drukknop-aansluiter, kruisspoedbeheer, outomatiese klimaatbeheer, trukamera, fantastiese Toyota Display Audio-stelsel, ’n multifunksionele vertoonstelsel, stembeheer sowel as Apple CarPlay® en Android Auto™-funksionaliteit.

Wat veiligheid betref, het die model sewe lugsakke (ook by die bestuurder se knieë), elektroniese parkeerrem, heuwel-bystand (“Hill Assist Control”) en stabiliteitskontrole.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
 

Die vlagskip 2.0-liter XR, wat by R412 300 begin, het elke denkbare luuksheid en veiligheidskenmerk ingesluit. Onder sy standaard-eienskappe tel “Smart Entry”, Bi-LED-hoofligte met Outo “High-Beam”, tweekleurige 18 duim-allooiwiele, en ’n elektrochromatiese agterspieël, leerkombinasie-sitplekke, stuurwiel met pedale (CVT), sowel as Toyota se veiligheidstelsel wat insluit Pre-Botsingaktivering, ’n blindekolmonitor, aanpasbare kruisspoedbeheer en baanwisselingalarm.

Die nuwe Sedan is getrou aan sy leuse van #HasItAll. Dit bou verder op die Corolla se ikoniese reputasie vir betroubaarheid en waarde, maar sy prys en verrigting is nou ook vere in sy hoed.

Verder kan jy kraglewering en voorkoms as ’n gegewe aanvaar – dis immers ’n Corolla.

Die pryse vir die Corolla Sedan is as volg:

Corolla 1.8 XS CVT: R372 700

Corolla 2.0 XR manual: R412 300

Corolla 2.0 XR CVT: R425 200

Gaan na www.toyota.co.za/corolla vir meer inligting.