Ja, jy het reg gelees: Die nuwe Urus is nie ’n eerste vir Lamborghini nie. Die Amerikaanse weermag het die maatskappy in die laat jare sewentig genader om met ’n doelgerigte voertuig vorendag te kom, maar die projek het doodgeloop.

Die ontwerp was darem nie verlore nie, want ’n padweergawe, die LM002, het in 1986 die lig gesien. In die volksmond het hierdie model as die Rambo Lambo bekend gestaan en hy was een van dié karre van sy tyd.

As ’n mens na vandag se mark kyk, het sportnutsvoertuie ’n omwenteling veroorsaak. Jy kry een in elke kleur en geur: van klein stadskarretjies regdeur tot ’n bielie van ’n kar met sewe sitplekke. Lamborghini het nou besluit om dié gewilde styl voertuig deel van sy arsenaal te maak. 

Om plek te maak vir die Urus het die vervaardiger die vloeroppervlakte van sy aanleg in Sant’ Agata, Italië, verdubbel tot 160 000 m², en 500 nuwe mense is aangestel om die verwagte produksie te absorbeer.

Soos wat ’n mens kan verwag, tref die Urus jou oog op die vertoonvloer, maar dis nie net ’n kwessie van instap en ’n tjek uitskryf nie.

Die Urus blyk só gewild te wees dat daar reeds ’n wagtydperk van ’n jaar is. Die uitvoerende hoof en voorsitter van Automobili Lamborghini, Stefano Domenicali, het by die bekendstelling van die nuwe vertoonlokaal in Century City, Kaapstad, gesê 70% van die bestellings vir die Urus kom van nuwe klante.

Die dubbelturboaangejaagde 4 l-V8-enjin is glo nuut en spesifiek vir die Urus ontwikkel, maar ’n mens sien enjins met ’n soortgelyke kapasiteit en hoëdrukluginspuitstelsel wat Lamborghini se moedermaatskappy in Audi-motors gebruik. Nietemin lewer die kragtige enjin ’n allemintige 478 kW (teen 6 000 r.p.m.) en ’n ordentlike 850 Nm (teen 2 250 r.p.m.).

As jy daarmee kan wegkom, keer niks jou om die spoednaald tot 300 km/h te druk nie, maar ’n gesonde bankbalans van ’n miljoen of drie is ’n voorvereiste.

Al vier die wiele trek en word met ’n agtspoed-outomatiese ratkas deur ’n Torsen middelste ewenaar en wringkrag-vektor aan die agterste ewenaar gekoppel. ’n Mens kan gewis nie die Urus miskyk nie. Die bakwerk is hoekig met sterk lyne en laat ’n mens dink aan ’n vuurpyl of vliegtuig wat na die horison mik.

Ons kon ongelukkig nie self agter die stuur inskuif nie, maar binne is dit heelwat ruimer as wat ’n mens verwag. Maar die uitleg en beheerknoppies laat ’n mens dink aan die kajuit van ’n vegvliegtuig. Wanneer ’n mens die enjin aanskakel, bulder hy die ene Lamborghini, ’n klank wat die koppe laat draai.

Afhangend van hoe jy jou spesifieke Urus toerus, is daar verskeie bestuursmodusse waaruit jy kan kies: Strada (straat), Sport en Corsa (snelren) is die standaardmodusse, en dan is daar ook Terra (grond), Sabbia (sand) en Neve (sneeu).

Die Urus het verstelbare lugvering en die agterwiele is ook aan die stuurwiel gekoppel. Soos ’n mens verwag, is die enjin se werkverrigting verstommend. Sy 0-100 km/h-versnelling is net 3,6 s, en om by 200 km/h uit te kom neem 12,8 s. Eers teen 305 km/h roep hy halt.

NUWE KARRE KOM SAAM MET NUWE WINKELS. Nie net is die Urus ’n nuwe model nie, maar Lamborghini het ’n nuwe handelaarskap by Century City in Kaapstad oopgemaak. Maar as jy hier kom aanklop, moet jy geduldig wees: Die Urus blyk plaaslik so gewild te wees dat jy dié Kersgeskenk dalk eers volgende jaar gaan kry.

Lamborghini se plaaslike verkope word deur LSM-verspreiders behartig onder leiding van Toby Venter, besturende direkteur (wat ook die plaaslike agent vir Porsche en Bentley is.)

Prys Net onder R3,5 miljoen.

Kontak  021 419 0595 


Lees hier nog nuusbrokkies uit ons September-uitgawe.