As kind was Go Birding in the Transvaal (jinne, ek verklap my ouderdom) een van my gunstelinggidsboeke. Te danke aan dié boek bevind ek en my pa ons ’n lenteoggend in die Bloemhofdam-natuurreservaat.

Die gids het belowe ons sal allerlei besonderse spesies van die droër Wes-Transvaal te sien kry. Voëls soos die dwergvalk, rooioorslangstertjie, priritbosbontrokkie, dubbelbanddrawwertjie... En ons hét heelwat opgespoor. Ek was in die sewende hemel tot op daai oomblik toe ons al met die modderige rand van ’n pannetjie langs aanstap en daar skielik ’n ent vorentoe ’n ontploffing van skril fluite en ’n gefladder op die grond is.

’n Grysbruin voëltjie met twee swart strepe oor sy bors was erg beseer. Toe ek en my pa naderkom, het die arme ding van ons af probeer wegkom. Ek sal die toneel nooit vergeet nie: Die druipende stertvere, die hulpelose gerondflap met slegs een vlerk en veral hoe die voël kort-kort inmekaargesak het. Hy was heeltemal uitgeput.

Ek was oortuig sy een vlerk is gebreek en wou met alle mag help. Maar telkens wanneer ek nadergaan, het hy weer weggeskarrel. Eindelaas moes ek en my pa hom met rus laat en terugstap motor toe.

Daai voël was ’n driebandstrand-kiewiet. ’n Mens sien hulle gewoonlik by enige binnelandse watermassa; of dit nou ’n poeletjie of ’n meer is. Jy hoor gereeld hoe hulle snags roep terwyl hulle rondvlieg, dalk op soek na ’n nuwe watertuiste wat nog nie opgeëis is nie?

Die strandkiewietfamilie sluit van ons algemeenste waadvoëls in. Seevakansietyd moet die vaalstrandkiewiet omtrent arm druk met kinders en sonbaaiers vir ’n lappie sand; en tydens droogtes trek die geelborsstrandkiewiete só dig by ’n waterbron saam dat neste skaars ’n meter uitmekaar lê.

Maar die strandkiewietspektrum sluit ook skaars kalante in, soos die Kentse strandkiewiet, byvoorbeeld, wat in Suider-Afrikaanse gidsboeke verskyn bloot op grond van ’n enkele optekening: ’n Karkas wat in 1984 aan die Skedelkus gevind is.

Strandkiewiete sluit in standvoëls, trekvoëls, swerfvoëls, partytjiepoppe, alleenlopers, landspesies én half-waterbewonende voëls.

Foto: Toast Coetzer
Foto: Toast Coetzer

Een soort strandkiewiet – die rooibandstrandkiewiet – is selfs aangepas om in panne met erge soutwater te leef. Dié dinge het ek oor baie jare geleer. Maar ek sou eers heelwat later nóg een van hulle talente ontdek: bedrog.

Slegs vier van die tien Suider-Afrikaanse strandkiewietspesies broei ter plaatse. Die res verkas tydens ons winter na die Noordelike Halfrond om hulle kuikens daar groot te maak. Maar voordat hulle ouers word, moet die strandkiewiete eers paar en dít is nou vir jou ’n omslagtigheid!

Die mannetjie bekruip die wyfie waar sy gehurk sit, streel haar soms eers ’n rukkie met sy pote en spring dan op haar rug. Daar sit en balanseer hy homself dan sowat twee minute voordat hy aan haar nek vasbyt en paar. Met dié daad afgehandel, trek hy hulle albei agteroor totdat die twee kiewiete op hulle rûe met hulle pote in die lug lê. Mnr. Strandkiewiet verdien beslis ’n paar punte vir voorspel, maar hy kan gerus aan sy pillow talk skaaf!

Die strandkiewiet se nes is ’n bra vervelige ontwerp. Dis gewoon ’n ronde holtetjie wat die voël vorm deur sy bors in die sand te druk en dan om en om draai terwyl hy die grondjies onder hom wegskop. Die geelborsstrandkiewiet het uitgepluis dat hy sy eiers mooi kan versteek deur dié beweging andersom uit te voer en skop sy nes toe elke keer wanneer hy dit verlaat. Binne sekondes is die eiers onder ’n lagie sand.

Die nes is gewoonlik naby water, hoewel die driebandstrandkiewiet soms tot ’n halfkilometer van ’n oewer af nesmaak. ’n Broeipaar kies gewoonlik ’n plek waarvandaan hulle goed kan sien, met genoeg klein voorwerpe wat rondlê om die kuikens goed met die agtergrond te laat saamsmelt: klippies, mishopies, gruis, flaminkvere... Die nesholte word ook met skulpies, visbeentjies, modderstukkies en takkies uitgevoer. Vir bykomende kamoeflering word die eierdoppe met krabbels, ringe en vlekkies oortrek.

Net soos by ander waadvoëls broei die kuikens eers op ’n gevorderde stadium uit en verlaat dan die nes binne enkele ure. Hulle is skattig: Klein donsbolle met groot pote wat agter hulle ouers aantrippel. Wanneer gevaar dreig – hetsy in ’n meeu, hond of simpatieke jong voëlkyker – hurk die kuikens dadelik en word byna onsigbaar.

En dán volg Ma of Pa se bedrog: ’n Toneelstuk volg waartydens die strandkiewiet maak of hy seergekry het en flappend op vlug slaan. Die hoop is dat dit die aanvaller se oog sal vang en hy dan liewer die beseerde voël agternasit en sodoende van die kleingoed af wegbly.

Ek is beslis daardie dag by die Bloemhofdam mislei! Maar genadiglik kommer my seunshart nou nie meer oor ’n beseerde strandkiewiet nie.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook