Ford het 85 werknemers by sy Silverton-aanleg in Pretoria van die produksievloer gehaal om hulle toe te spits op die vervaardiging van gesigmaskers. ’n Indrukwekkende 190 000 maskers is reeds in kartonbokse verpak en gestuur na waar dit die nodigste is.

Ford het hom ook by die Rooikruis aangesluit en twee Ranger-bakkies aan dié organisasie beskikbaar gestel.

Toyota Suid-Afrika het tot op hede 23 000 gesigmaskers vervaardig en dit nie net vir Toyota-werknemers in daardie provinsie gegee nie, maar ook aan die KwaZulu-Natal se gesondheidsektor geskenk. Altesame 900 maskers is in Mei vanjaar by die Prins Mshiyeni-hospitaal in Umlazi afgelewer en sowat 10 000 is na ander hospitale en klinieke.

Nissan
Nissan
Toyota
Toyota
Volkswagen
Volkswagen

Haval Suid-Afrika het saamgespan met Boxer Stores in Alexandria, Mpumalanga, en 152 kospakkies geskenk aan die Rays of Hope-stigting om minder bevoorregte gesinne te voed. Elke kospakkie sal een gesin glo vir vyf maande aan die gang kan hou en sluit in rys, koekmeel, mieliemeel, stampmielies en kookolie.

Mazda SA het sedert 5 Mei aangebied om alle Mazdas van geregistreerde verpleegpersoneel gratis te diens gedurende vlak 5 en 4 van die inperkingstyd (ongeag die ouderdom van die voertuig). “Ons begryp watter belangrike rol voertuie speel in mense se alledaagse lewe. Om dapper verpleegpersoneel te ondersteun met ’n bietjie ekstra gemoedsrus is vir Mazda ’n eer,” sê Craig Roberts, besturende direkteur van Mazda SA.

Isuzu Suid-Afrika het nóg bakkies aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit van gesondheid geskenk om Covid-19 te beveg. Verlede maand het ons geskryf oor die aantal Isuzu’s wat in daardie stadium aan liefdadigheidsorganisasies oorhandig is, maar dié syfer groei maandeliks.

Mitsubishi Suid-Afrika het die rugbyskeidsregters Jaco Peyper, Rasta Rashivenge en Bafana Nhleko ondersteun toe hulle met Bafana se eie Mitsubishi ASX vertrek het om kospakkies by die L’Avenir-plaaswerkersgemeenskap in die Kaap af te lewer. Rashivenge het ook die OK-minimark in Houtbaai genader om kos aan die omliggende nedersettings te skenk. In samewerking met Mitsubishi doen hy geruime tyd al uitreikingswerk om jong mense in die minder gegoede dele rondom Houtbaai by rugby te betrek.

Dan het Volkswagen Suid-Afrika sy Port Elizabethse aanleg aan die plaaslike regering beskikbaar gestel as ’n verpleegeenheid waar 4 000 pasiënte, onder wie hoësorgpasiënte, behandel kan word. Die Duitse federale regering het R107 miljoen in Volkswagen Suid-Afrika belê vir dié doel. Die aanleg sal pasiënte behandel tot Maart 2021 en die nasionale departement van gesondheid sal die projek bestuur. 

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook