Die goeie nuus is renosterstroping het wel afgeneem in 2018, in vergelyking met vorige jare (769 renosters gestroop, teenoor meer as 1 000 renosters elke jaar tussen 2013 en 2017)*. Drastiese ingrypings word egter op die proef gestel in die stryd om dié syfers verder te verbeter in Suid-Afrika, wat rondom 80% van die wêreld se renosterbevolking bevat. 

Weg was onlangs betrokke by ’n unieke ervaring: Die onthoring van ’n renoster. 

Ons het aangesluit by Outlook Adventures, ’n organisasie wat bewaringsoperasies in verskeie private en nasionale parke in Suid-Afrika uitvoer. Jy kan betaal om by só ’n operasie aan te sluit en hand by te sit met sekere dele van die proses, ná ’n omvattende inligtingsessie.

Foto: Verskaf, Haval
Foto: Verskaf

Die groep is in ’n klein, private wildreservaat in Limpopo. Dié reservaat se renosterbevolking word almal stelselmatig onthoring, en die operasie verloop glad. ’n Helikopter spoor binne tien minute die renosterbul op; ons volg in ’n wildkykvoertuig. Die renoster word met ’n pylgeweer verdoof, en sy oë en ore bedek om te keer dat hy angstig raak.

Foto: Marcelle van Niekerk
Foto: Verskaf, Haval
Foto: Verskaf

Hierna word die horing met ’n kettingsaag verwyder. Dis gelukkig pynloos: ’n renoster se horing bestaan uit keratien, dieselfde as ’n mens se vingernaels, en groei ook terug. 

Foto: Verskaf, Haval
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf, Haval
Foto: Verskaf

Ons help om die renoster om te rol (dit verg ’n paar spanpogings...) en verseker dat sy bene in die regte posisie is om maklik op te staan.

Foto: Verskaf, Haval
Foto: Verskaf

Die afgesnyde horing word met ’n slypmasjien gelyk gemaak, en met ’n smeersalf bedek, voordat hy wakker gemaak word.

Foto: Marcelle van Niekerk
Foto: Marcelle van Niekerk

Kort hierna vaar Meneer die bos in asof hy niks meer as ’n manikuur gehad het nie. 

Maar hoe effektief is renoster-onthoring teen stropery? Onthoring is ’n relatief nuwe ingryping in Suid-Afrika, maar vind toenemend plaas namate ’n skerp toename in stroping sedert 2008. 

Ons het by die kenners aangeklop.

“Dis ’n voordelige strategie wanneer dit saam met ander teenstroping-ingrypings beoefen word, soos wetstoepassing en sekuriteit,” sê dr. Andrew Taylor, ’n bewaringswetenskaplike van die Trust vir Bedreigde Wildlewe.  

“Studies het bevind dat dit nie ’n effektiewe strategie op sy eie is nie, aangesien renosters wat onthoring is, steeds soms gestroop word vir die klein stukkie horing wat oorbly.

“Om die horing te verwyder verminder die beloning vir stropers. Dit moet ’n punt bereik waar die geld vir die horing te min is vir mense om die risiko te neem om ’n renoster te stroop.” 

Onthoring moet deur ’n opgeleide veearts gedoen word, anders kan die renoster infeksies opdoen of die horing kan sleg teruggroei. Dié risiko is deesdae egter laer namate diereartse meer vertroud raak met die proses.  

Dit moet ’n punt bereik waar die geld vir die horing te min is vir mense om die risiko te neem om ’n renoster te stroop

Erik Sandström van Outlook Adventures sê die onthoringsprogram is duidelik effektief sedert dit in private wildreservate in KwaZulu-Natal toegepas is vanaf 2015. Tussen 2010 en 2015 is 25% van alle renosters wat in KwaZulu-Natal gestroop is, op private wildreservate doodgemaak.

Van 2015 het dié persentasie gedaal tot 5%, wat ooreenstem met die onthoringsprogram wat daardie jaar vir die eerste keer geïmplementeer is.

“Spesifieke reservate in Limpopo waar ons ook onthoringsprogramme doen, het sedertdien geen diere weens stroping verloor nie. Dit werk as ’n teenstropingsmetode wanneer dit rég gedoen word. Dit moet ook in samewerking plaasvind met ewe belangrike strategieë soos sekuriteit en opvoeding.”

En hoe vaar die renosters sonder hulle horings in die wild?

“Geen drastiese gedragsveranderinge is gevind in renosterbevolkings wat onthoring is nie,” sê Sandström. “Daar is ’n wanpersepsie dat kalfies doodgaan weens renosterkoeie wat hulle nie kan verdedig nie, maar daar is geen bewyse hiervan nie. Meer navorsing is wel oor dié vraag nodig.” 

Onthoring bly egter ’n duur oefening. Die motorvervaardiger Haval het betaal vir dié onthoring as deel van ’n wyer bewaringsprogram waarby hy betrokke is. 

“Ons kan sien hoe die aantal renosters wat gestroop word, afneem weens bewaringspogings, maar dit is uiters belangrik dat meer sake-ondernemings hierby betrokke raak. Dis ’n duur oefening, en bewaringsorganisasies kan dit nie op hulle eie regkry nie,” sê Sandström.

*Bron: savetherhino.org