Kaapse Natuurbewaring het onlangs aangekondig sy reservate gaan in fases oopmaak volgens die regulasies van grendeltyd. Dié reservate het eerste oopgemaak: De Hoop-, Keurbooms-, Jonkershoek-, Hottentots Holland-, De Mond-, Walkerbaai-, Robberg-, Outeniekwa-, Limietberg-, en die Sederberg-natuurreservaat (Algeria). 

Volgens Fase 2 is die volgende reservate nou ook oop: Kogelberg-, Rooisand-, Vrolijkheid-, Gamkaberg-, Goukamma- en die Swartberg-natuurreservaat. Grootvadersbosch-natuurreservaat maak 6 Julie oop, en die Marloth-natuurreservaat maak 10 Julie oop. 

De Mond-natuurreservaat
De Mond-natuurreservaat

Daar is ’n daaglikse beperking op aantal besoekers per staproete (tussen 20 en 100 mense): Kyk hier watter beperkings geld elke roete.

Alle besoekers moet ’n masker dra. By die ingangshek moet besoekers hulle hande ontsmet en sal hulle liggaamstemperatuur gemeet en besonderhede neergeskryf word. By reservate met geen gekontrolleerde hekke nie moet stappers sosiale afstand handhaaf en alle veiligheidsmaatreëls volg.

Geen georganiseerde stapgroepe word toegelaat nie – besoekers moet verkieslik in pare stap. Piekniekplekke, oornagroetes en -verblyf is steeds gesluit. 

Besoekers moet stappermitte telefonies (087 087 8250, 074 936 2139/062 318 4987 oor naweke) of aanlyn (booking.capenature.co.za) koop; stappermitte sal nie by die hek te koop wees nie. Wild Card-lede kan ook telefonies hulle stappermitte kry, of e-pos reservation.alert@capenature.co.za – teen geen ekstra koste nie. Jy kan ’n stappermit koop tot 10 vm. op die dag wat jy ’n reservaat wil besoek. Die reservate is oop van 8 vm. tot 4 nm.

Lees nog vrae en antwoorde hier

Jonkershoek-natuurreservaat
Jonkershoek-natuurreservaat