Die beste manier om ’n oorbietjie uit te ken is aan die swart stert.

Oorbietjies se basiese sosiale struktuur is ’n rammetjie met een of twee ooitjies en hulle kleintjies. Die ramme is baie territoriaal en merk hulle gebiede met mishope en deur ’n afskeiding van hulle wangkliere op plante te vryf. Die ooie is nie so territoriaal nie en beweeg soms uit die ram se gebied. Maar as daar genoeg kos beskikbaar is, bly hulle in die ram se gebied.

Hoewel die oorbietjie redelik algemeen voorkom in sekere dele van Afrika – selfs in oorvloed op plekke in Sentraal-Afrika – word hulle in Suid-Afrika as bedreig beskou. Een van die redes hiervoor is dat hulle habitat aan’ t verdwyn is. Graslandgebiede is gewild vir die plant van gewasse. Saam met kommersiële boerdery dra swak brandpraktyke, mynbou, erosie en oorbeweiding alles indirek daartoe by dat die oorbietjie se habitat krimp.

Nog ’n bedreiging is onwettige jagpraktyke. Jagtogte met honde en strikke wat gestel word, het van die oorbietjiebevolkings in Suid-Afrika uitgeroei. Selfs onvolhoubare trofeejag het ’n rol gespeel – wanneer daar te veel permitte uitgereik word.

As ’n oorbietjie bedreig voel, gee dit ’n skerp fluit as alarm. Maar ongelukkig bly hulle doodstil staan totdat die gevaar ’n paar meter van hulle af is, wat beteken hulle is maklike teikens vir jagters. As hulle wel laat spaander, galop hulle net ’n kort entjie weg, en probeer eerder hulleself kamoefleer.

Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) bestuur ’n paar bewaringsinisiatiewe en die publiek kan ook ’n bydrae lewer, veral as jy weet oorbietjies kom op jou eiendom voor. Meld ook enige onwettige jagpraktyke aan. Gaan na www.ewt.org.za vir meer inligting.