Ek het ’n plekkie in my tuin gemaak vir voëltjies voer en foto’s neem. ’n Houtkapperpaartjie het gereeld kom draai. Ek het toe ’n garingboomstomp vir hulle reggesit en hulle het dadelik ’n nes gemaak en begin broei.

Een middag het ek ouder gewoonte my kamera op die driepoot opgestel en ’n paar foto’s geneem. Ek het geweet die houtkappers is in die nes en my kamera op die ingang van die nes gefokus en toe gaan rugby kyk.

Later sien ek uit die hoek van my oog beweging by die nes – ’n mossie was by die ingang doenig. Ek het opgespring en net verwoed die knoppie gedruk sonder om eens deur die oogstuk te kyk.

Op die foto gryp die houtkapper die mossie van agter af. Die houtkapper het, ná die skermutseling, met ’n bek vol vere gesit nadat die mossie ontsnap het!

Die voëlkenner PROF. ADRIAN CRAIG het die volgende te sê gehad:

Dit wil voorkom asof daar ’n tekort is aan geskikte gate vir voëls wat in gate nesmaak, maar nie hulle eie gate kan boor nie.

Dit gebeur dikwels dat mossies en spreeus ’n bestaande nes sal ondersoek. Dié soort gedrag is kenmerkend aan gryskopmossies wat nesbou in boomholtes of ander gate. Houtkappers sal hulle nes verdedig en selfs hard byt!

Wat interessant is hier, is dat dit ’n gewone Kaapse mossie is wat kom loer – dié mossie bou tradisioneel ’n slordige stokkiesnes in ’n boom.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #134 (Desember 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.