Stewie Theron van die Fraserburg-distrik  skryf: Twee jakkalsvoëls het op my plaas op ’n windpompplatform nesgemaak. Toe ek op ’n dag daar opklim om te kyk of daar al kuikens is, kry ek dié braaksel op die rand van die nes. Ek neem aan dis die mannetjie wat die kos vir die wyfie aandra. Die skilpaddoppie kan ek verstaan, want dit lyk na ’n klein skilpadjie, maar die ystervarkpenne? Vang ’n jakkalsvoël klein ystervarkies?

Die voëlkenner FAANSIE PEACOCK antwoord:

Roofvoëls vreet wel skilpaaie deur te pik aan die ledemate wat uitsteek of om die skilpad van ’n hoogte af te laat val. In dié geval het die jakkalsvoël waarskynlik die hele skilpadjie ingesluk en staatgemaak op die kragtige sametrekkings van die krop om dit te verteer. Jong skilpaaie is aansienlik sagter as die volwassenes.

Daar is bewyse dat groot arende soms ystervarke vang, maar dis skaars. In die meeste gevalle is die risiko groter as die beloning. Jakkalsvoëls vreet meestal klein diere soos knaagdiere, hase, muishonde, paddas en ander reptiele. ’n Volwasse ystervark is dus ’n groot prooi vir ’n jakkalsvoël. Dit kan seker penne van ’n ystervarkkleintjie wees, maar dié voël het waarskynlik die penne per ongeluk ingekry terwyl hy geaas het op ’n ystervarkkarkas wat in die pad lê.

Stewie se waarneming van dié roofvoël se braakbal lewer ’n waardevolle bydrae tot ons begrip van sy ekologie. Sowat ses tot twaalf uur nadat ’n roofvoël gevreet het, bring hy ’n braak-bal van onverteerbare materiaal op: vere, pels, skubbe, beentjies en nog wat. Dis ’n doeltreffende manier om dié voëls se dieet te bestudeer – probeer dit gerus as jy uile op jou erf het.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook