Stuur jou vrae gerus na redakteur@weg.co.za.


KARIEN LE ROUX van Struisbaai skryf:

Hierdie blou skulpie het my aandag getrek. Ek sou graag wou weet wat die krap se naam is?

Die seelewekenner GEORGINA JONES antwoord:

Die borrelskulpslak, Janthina janthina, hang onderstebo op die seeoppervlak. Die slymerige borrels is ’n soort vlot wat die slak laat dryf. Die slak word net gesien as dit op die strand uitspoel.

Dit vreet onder meer bloublasies. Die krap is ’n Columbus-krap en kom algemeen voor saam met die slakke.

Ek vermoed die krap is nie ’n goeie swemmer nie en dit hang dalk aan die slak se “vlot”. Ek dink nie dit vreet die slak nie, maar aas dalk sy oorskiet of van die slak se eiers.


ROB DICKIE van Kaapstad skryf:

Ons het op ’n gompou afgekom naby die afdraai na die Auchterlonie-piekniekplek in die Kgalagadi-oorgrenspark. Ons was verbaas om ’n dooie meerkat in sy snawel te sien!

Die gompou het veld-in gestap, die meerkat laat val en weggestap. Ons was nuuskierig of ’n gompou ’n meerkat sou vang, maar het tot die gevolgtrekking gekom dat die meerkat waarskynlik doodgery is.

Die gompou het veld-in gestap, die meerkat laat val en weggestap...

Ons het later die res van die gesin teëgekom wat soek vir hulle maat. Ek hoor graag wat julle kenners dink.

MICHO FERREIRA, ’n senior afdelingsveldwagter in die Kgalagadi-oorgrenspark antwoord:

Dis moeilik om ’n antwoord te gee as ’n mens nie al die feite het nie, byvoorbeeld hoe oud was die gompou, hoe groot was die meerkat, ensovoorts. Gompoue verkies insekte, veral miskruiers; klein reptiele soos akkedisse en verkleurmannetjies; en sade, bessies, bolle en selfs akasiagom.

’n Soogdier so groot soos ’n meerkat is nie ’n algemene eetding vir ’n gompou nie – dis waarskynlik hoekom die voël die meerkat laat gaan het. Dit kan wees dat dit ’n jong voël was wat bloot uit nuuskierigheid die knaagdier opgetel en toe besef het dit is te groot om te sluk.

Dit kan ook wees dat daar reeds maaiers op die karkas was, wat ’n gewilde happie vir insekvretende voëls is. Ek stem saam met Rob – die meerkat is waarskynlik doodgery.


KARIEN KRÜGER van Pretoria skryf:

Ek het dié twee pofadders in die Kgalagadi-oorgrenspark afgeneem.

Ek het aanvanklik gedink hulle baklei, maar later het iemand my vertel hulle doen ’n soort paringsdans?

Die slangkenner JOHAN MARAIS antwoord:

Karien is reg – dis twee mannetjies wat baklei. Dis ’n soort stoeiery waar die sterk mannetjie die swakker een grond toe probeer druk. Die wenner kry die wyfie!


DALE GAIT van Camperdown skryf:

Ek hou dié ruspes sedert Mei dop. Dit lyk asof hulle bloot in sirkels beweeg. Daar was honderde van hulle, maar sommige het gevrek.

Dit lyk asof hulle snags skuiling soek en die volgende oggend loop hulle weer in sirkels. Kan Duncan help?

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord:

Die treintjieruspes, van die Anaphe panda-mot, loop gewoonlik nie in ’n sirkel nie, maar ’n lang ry. Hulle marsjeer só tot hulle by ’n plek uitkom waar hulle ’n groot gemeenskaplike kokon spin en saam in papies verander.

Daar kan tot 600 kokonne in ’n groot beursieagtige struktuur (’n “bagnet” in Engels) wees. Die sy in dié beursie het van die ruspes se stekelrige hare in en kan dus nie vir kommersiële doeleindes gebruik word nie.

Dit is dus baie sleg as hulle so in ’n sirkel loop, want hulle gaan uiteindelik vrek. As jy op so iets afkom, verbreek die ketting sodat hulle veld-in kan loop.