Stuur jou vrae gerus na redakteur@weg.co.za.


ROELENE MARX van Pretoria skryf:

Ons het op hierdie arme rooibokram afgekom naby die Longwe-uitkykpunt by die Engelharddam in die Kruger. Het hy seergekry, of het hy kanker? Dit lyk ongemaklik – sal hy weer regkom of is hy leeukos?

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord:

Ek het by twee veeartsvriende aangeklop: Dit kan wees dat die draaiing van die testes die bloedvate afgesnoer het.

Die foto is te ver om met sekerheid te kan sê of die skrotum pers lyk weens die afsnoering en of dit bloot die normale swart vel is wat sigbaar is weens die verlies van hare. Dit kan ook ’n testikulêre gewas wees, maar dis baie seldsaam. Dis geweldig pynlik en jy sou dit aan die dier se kondisie en liggaamshouding kon sien.

Die rooibokram lyk eintlik heel gesond, veral as 'n mens in ag neem dat die foto in September geneem is – die einde van die winter. Die bok wei; dus wil dit voorkom of daar niks met sy eetlus skort nie.

Uit ’n mens se oogpunt lyk die toestand uiters ongemaklik, maar uit ’n dier s’n – dat oorlewing alles is – dalk minder so. Indien die toestand sy vermoë om roofdiere te ontwyk belemmer, is sy dae getel. Indien nie, behoort hy nog heelwat sonsondergange te sien.


DAVID DYER van Kaapstad skryf:

Nadat ek in die Oktober 2018-uitgawe gelees het van die leukistiese diere op die V&A-blad het ek dié apie in die Dwesa-natuurreservaat onthou. Ek het die apie twee keer gesien – op twee vakansies. Dis ongelooflik dat hy oorleef. Ek sou dink dat die wit kleur hom ’n makliker teiken maak vir roofdiere?

CLIVE LEWIS van Johannesburg skryf:

Ek het dié ligte rooibok afgeneem naby die Muzandzeni-piekniekplek in die Kruger. Ek besoek die Kruger al 50 jaar en dis die eerste keer dat ek so iets sien.

Die natuurlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord:

Ek antwoord David en Clive saam. Leukisme is aangeteken vir ’n verskeidenheid van spesies, tog is daar nie betroubare data oor hoe gereeld dit voorkom in ’n betrokke spesie of in die algemeen nie. Dit is 'n tekort aan melanien weens die uitdrukking van ’n resessiewe geen; ons weet dus dat die voorkoms daarvan verhoog indien leukistiese diere in ‘n geslote gebied soos ’n wildplaas of omheinde natuurreservaat voorkom.

Die algemene indruk is dat leukistiese diere nie lank oorleef nie, want hulle kan nie so goed kamoefleer nie. Tog is daar baie voorbeelde van volwasse leukistiese diere in die natuur. Dié rooibok is byvoorbeeld nie meer ’n lammetjie nie. Dit lyk wel asof diere wat in groter en nouer sosiale strukture lewe, soos rooibokke of blouape, ’n beter kans het op oorlewing. Daar is tans egter nie onweerlegbare bewyse na enige kant toe nie.


STEWIE THERON van die Fraserburg-distrik skryf:

Twee jakkalsvoëls het op my plaas op ’n windpompplatform nesgemaak. Toe ek op ’n dag daar opklim om te kyk of daar al kuikens is, kry ek dié braaksel op die rand van die nes. Ek neem aan dis die mannetjie wat die kos vir die wyfie aandra. Die skilpaddoppie kan ek verstaan, want dit lyk na ’n klein skilpadjie, maar die ystervarkpenne? Vang ’n jakkalsvoël klein ystervarkies?

Die voëlkenner FAANSIE PEACOCK antwoord:

Roofvoëls vreet wel skilpaaie deur te pik aan die ledemate wat uitsteek of om die skilpad van ’n hoogte af te laat val. In dié geval het die jakkalsvoël waarskynlik die hele skilpadjie ingesluk en staatgemaak op die kragtige sametrekkings van die krop om dit te verteer. Jong skilpaaie is aansienlik sagter as die volwassenes.

Daar is bewyse dat groot arende soms ystervarke vang, maar dis skaars. In die meeste gevalle is die risiko groter as die beloning. Jakkalsvoëls vreet meestal klein diere soos knaagdiere, hase, muishonde, paddas en ander reptiele. ’n Volwasse ystervark is dus ’n groot prooi vir ’n jakkalsvoël. Dit kan seker penne van ’n ystervarkkleintjie wees, maar dié voël het waarskynlik die penne per ongeluk ingekry terwyl hy geaas het op ’n ystervarkkarkas wat in die pad lê.

Stewie se waarneming van dié roofvoël se braakbal lewer ’n waardevolle bydrae tot ons begrip van sy ekologie. Sowat ses tot twaalf uur nadat ’n roofvoël gevreet het, bring hy ’n braak-bal van onverteerbare materiaal op: vere, pels, skubbe, beentjies en nog wat. Dis ’n doeltreffende manier om dié voëls se dieet te bestudeer – probeer dit gerus as jy uile op jou erf het