CEEJEE PRETORIUS, Groblersdal skryf: Ek is bevoorreg om my hele lewe lank minstens een keer per jaar Kruger toe te gaan. Ek het al baie diere op my lewenslysie afgemerk: ’n Afrikaanse sivetkat, ’n luiperdwyfie met twee welpies en selfs ’n Egiptiese aasvoël.

’n Dier wat my egter bly ontwyk, is die witleeumannetjie van die Shishangaan-trop wat hou in die Singita-konsessiegebied oos van die Satara-ruskamp.

Wel, in Oktober verlede jaar het ons hom gesien! Ons was die enigste voertuig langs die S100 toe hy en sy broer opstaan uit die koelte en oor die pad stap.

Ons het later gehoor dat ’n ander leeumannetjie probeer het om hom en sy broer uit die trop te dryf ’n week voor ons besoek. Die twee broers het ’n hele paar seerplekke gehad. Ons het hom ’n paar keer gewaar, ook saam met sy trop. Dit het gelyk asof die seerplekke op sy rug vinnig gesond word.