Dink buite die boks

’n Modulêre kampwa wat jy soos boublokkies inmekaar pas tot jy die wa het wat by jou behoeftes pas – dít is waarmee Albre de Villiers van ADV Trailers in Centurion vorendag gekom het.

Die onderste deel van die wa bestaan saam met die onderstel uit ’n plat vlak wat herinner aan ’n platbak-insleepvoertuig. Hierop pas dan ’n raamwerk waarin tot vier ewe groot houers pas, elk met ’n deur aan die kopkant. Tot twee daktente kan dan bo-op die raamwerk met sy houers pas, en wanneer die daktente toegeslaan is, slaan ’n dakrak hieroor plat.

Die geheim – en slim idee – hieragter lê in die vier houers. Elkeen is langwerpig (1,3 x 0,6 x 0,6 m), en jy kan van een tot vier van hulle in die raamwerk pas. Die houers is leeg en jy kan dit dus toerus met dít wat jou kamplewe gerieflik maak.

Twee van die houers se deksels sit aan die stertkant van die wa en die ander twee links voor.

’n Leë houer werk goed as pakplek vir kampgoed soos stoele, tafels, ’n grondseil en dies meer. Albre maak ook ander kamptoerusting wat in die bokse pas. ’n Dubbele laaistelsel waarop tot ses ammokiste pas, is ’n voorbeeld. Selfs ’n ys-vrieskas pas gemaklik in ’n houer op sy glyraam en dieselfde geld vir Albre se kombuiseenheid. Dit trek soos ’n tipiese buitekombuis uit die wa (uit die boks) en het onder meer ’n tweeplaatstoof, mikrogolfoond, ’n raamwerk waarin ’n los skottel pas, en ’n laai met sponsvorms vir jou kampbekers.

Albre het ook sy eie daktent ontwerp wat bo-op pas, een met ’n deur op die punt én aan die linkerkant. Die raamwerk is groot genoeg vir twee daktente langs mekaar.

Die hele storie het stutte wat uitslaan. Dan kan jy die sleepwagedeelte onder die raamwerk uittrek en dit kan net so in die kampplek staan terwyl jy jou quadfiets op die plat sleepwa laai om iewers anders te gaan speel.

BVM: 1 800 kg

Prys: R120 000-R360 000

Kontak:  072 658 3811;  advtrailers.co.zaalbre@silverx.co.za

Meer opsies vir Tonga

Die Tonga-veselglaswoonwa, wat nog betreklik nuut op die mark is, het ’n paar opsies bygekry.

Die Tonga se uitglykombuis is uniek, maar jy kan nou ook een sónder ’n kombuis bestel. In die plek van die kombuislaai maak ’n deur soos ’n enjinkap oop. Dié deel het seil- en gaasvensters en laat meer lug en lig deur in die wa. Met die kombuiseenheid het jy ’n paar klererakkies aan die binnekant. Daarsonder word die deel by die koppenent ’n groot oop rak.

Digby die koppelstuk kry die romp nog ’n deurtjie. Dis ’n koelboks, kompleet met sy eie prop.

’n Watertenk (40 l) pas nou links agter in die Tonga. Die tenk se kraan is buite – as jy die kop druk, loop die water.

Verder is die tent effens aangepas. Voorheen is die seile gespan met veselglaspale buite die tent. Die nuwe tent kry verstelbare pale wat die tent van binne span en vou dan ook saam met die tent op. ’n Los veselglastafel met aluminiumpote kom ook by en pas in die deur waar die tent wegvou.

BVM: 750 kg

Prys: Vanaf R105 000

Kontak:  021 945 2142; tongasa.com; admin@tongasa.com 

’n Dubbel, asseblief

Bush Lapa het sy eerste dubbelaswa bekend gestel. Volgens die eienaar, Jannie Oeschger, het hy talle versoeke gekry om ’n groot boswoonwa vir vier mense te bou, een sonder panele wat uitslaan, sodat jy nie seil tussen jou en die natuur het nie.

Die Gravelroader het dus nie ’n bed wat uitslaan nie, maar ’n vaste koningingrootte bed en twee stapelbeddens vir die jonges. Selfs die dak is solied, sonder ’n opwipgedeelte.

As jy dus met jou Gravelroader in die kampplek opdaag, hoef jy net die stoepdak op te slaan – makliker (en vinniger) kan dit nie.

Die badkamer met sy stort, toilet en wasbak is ingebou binne die wa. Pleks van Bush Lapa se gewone inlyn-gasgeiser kry die Gravelroader ’n Hansen-geiser, wat omtrent ’n skaalmodel is van ’n gewone huisgeiser.

Dit is ook die eerste Bush Lapa-model wat ’n hangkas én glasvensters pleks van gaasvensters kry.

Die buitekombuis het nie net ’n langer werkblad as die ander modelle nie, maar jy kry ook dubbel soveel kaste in die romp.

In die plek van die gebruiklike gietystergasstoof kry die Gravelroader ’n Dometic-tweeplaatgasstoof.

Net soos al die ander Bush Lapa-modelle word die Gravelroader van 3CR12- vlekvrye staal en aluminium gebou. Items soos die lugreëling is opsioneel, en jy kan kies of jy een op die dak wil installeer of binne, onder een van die banke.

BVM: 2 500 kg

Prys: Vanaf R592 250

Kontak:  021 871 1607;  bushlapa.commarketing@bushlapa.com 

Aha, hier’s ’n woonwa!

Aha Outdoor Systems is bekend vir sy abbawaens, maar het nou ook ’n woonwa, die Mobile Cabin, gebou.

Die nuweling is in meer as een opsig uniek. Jy klim byvoorbeeld nie met ’n trappie in die wa nie, maar met ’n loopplank – dus kan mense in ’n rolstoel ook regkom. Dieselfde geld vir die binne-uitleg.

Die hele kombuis is agter een groot deur links by die neus ingebou. Wanneer jy die deur oopmaak, het jy onder meer toegang tot ’n wasbak-en-stoofkombinasie, jou ys-vrieskas, ’n rak of wat vir kruideniersware, en die inlyn-gasgeiser heel links. As jy die deur toemaak, het jy steeds van binne af toegang tot die hele kombuis.

’n Mens kan die binnekant van die Mobile Cabin in twee verdeel: waar die loopplank deur die deur kom, is ’n enorme stortgedeelte links, met regs ’n lekker groot bed. Volgens Dawie Maas, die eienaar, het die Mobile Cabin die grootste bed van alle woonwaens (1,8 x 1,7 m, net-net kleiner as koningsgrootte).

Items soos die lugreëling, mikrogolfoond, ys-vrieskas, dubbelbatterystelsel (met ’n sonpaneel) en twee gassilinders is standaard.

Vir sy grootte is die Mobile Cabin lig. Sy nettogewig is 660 kg en het ’n brutovoertuigmassa van 750 kg. Jy het dus nie ’n spesiale rybewys nodig om hom te sleep nie.

BVM: 750 kg

Prys: R385 250

Kontak:  012 804 6111 of 083 653 4642; ahaweb.co.za; info@ahaweb.co.za

Armadillo kry XTR302-baba

Armadillo het nie net sy nuutste model, die XTR302, bekend gestel nie, maar al die bestaande modelle is ook effens aangepas.

Die XTR302 kry ’n deur regoor die bestaande instapdeur – dié word gebruik vir ’n aantrekkamer en stortgedeelte. Daar’s ook geen seilpanele tussen jou en die buitekant nadat jy die wa opgeslaan het nie (behalwe die storttentgedeelte). Jy het wel ’n soliede deur wat jy saans kan toetrek.

Net soos in die ander modelle skuif die noodwiel se bêreplek van die onderstel af op na die stert van die wa, en al die waens het nou ook ’n permanente loodgieters- en gaspypnetwerk.

’n Stoepdak van 3,5 m is voortaan ook standaard en dieselfde een pas op al die modelle. Die XTR302 is bedoel vir twee mense, slaan binne 15 minute op en pas in ’n standaardmotorhuis.

BVM: 1 800 kg

Prys: Vanaf R289 000

Kontak:  021 981 2992; xog.co.zainfo@xog.co.za 

Nuwe woonwabouer laat waai

Iemand wat ’n ou hand is met die bou van koelkamers het nou sy kennis ingespan en sommer ’n hele reeks woonwaens gebou wat hy Scorpion Trailers noem.

J.P. Horn, eienaar van Insulated Trailer Designs, bou nie minder nie as vier modelle. Die Scorpion Lite is geskoei op die Amerikaanse teardrop-soort waens – ’n bed-op-wiele met die kombuis in die stertgedeelte. Die Scorpion Classic is effens groter, maar in dieselfde styl. Dié het ’n koningingrootte bed, maar ook ’n driekwartbed wat uit een van die panele plat slaan. Die Scorpion Toy Hauler het laaiplek vir fietse of ’n motorfiets, en die Grand, die grootste van die vier, is die volgrootte woonwa.

Omdat die Grand se kombuis ook in die stert is, is die hele linkerpaneel, wat gewoonlik die kombuis huisves, oop. Hier is wel ’n rak wat oopslaan vir twee los plastiekskottels en ’n droograk, en ’n oop deel waarop jy ’n TV kan staanmaak.

Die grootste weelde van die Grand is al die oop ruimte. Daar’s twee koningingrootte beddens waarvan die een omtrent halfpad uit die wa trek, soos ’n laai – wat natuurlik ruimte in die wa skep. Die Scorpion-modelle het ’n gegalvaniseerdestaal-onderstel, en die raamwerk én al die panele is van aluminium.

  • Lite: R99 500; BVM 750 kg
  • Classic: R129 500; BVM 1 600 kg
  • Toy Hauler: R95 500; BVM 1 600 kg
  • Grand: R179 500; BVM 1 600 kg

Kontak:  081 2833 005; scorpiontrailers.co.zainfo@scorpiontrailers.co.za

BorderX sien ’n geleentheid

BorderX is nog nuut in woonwakringe, maar min vervaardigers gaan hom klop met sy nuwe Extreme-model se groot inklimdeur. Omtrent die hele stertgedeelte is ’n deur (1,2 x 1,2 m). Werner Pretorius sê dit is juis so gebou om rolstoelvriendelik te wees. Soos jy by die oop deur staan, strek die dakgedeelte tot bo jou met die vloeroppervlak nog ’n entjie verder voor jou. Dit beteken jy klim ook makliker in en uit.

Die Extreme het ’n vlekvryestaal-onderstel, onafhanklike vering en twee skokbrekers aan elke kant. Die panele bestaan hoofsaaklik uit ’n sintetiese materiaal en die kaste binne is van aluminium. Die konfigurasie is aanpasbaar en kan volgens ’n koper se behoefte ingerig word. Die koningingrootte bed is aan die neuskant ingebou. Die buitestort slaan regs by die neus uit en die noodwiel sluit ’n wielnaaf met sy wiellaer in.

Met die opwipdak afgeslaan pas die Extreme in ’n standaardmotorhuis.

BVM: 1 300 kg of 1 600 kg

Prys: Vanaf R249 000

Kontak:  082 929 0824;  borderx.co.zainfo@borderx.co.za

Conqueror vat nuwe koers

Conqueror, bekend vir sy frisgeboude bos- en woonwaens, het nou ’n model tussen die twee style woonwaens gebou wat heel gepas die UEV Hybrid gedoop is. (UEV – of Urban Escape Vehicle – word reeds vir Conqueror se laaste boswoonwareeks gebruik, maar Hybrid verwys na die vermenging van die twee style.)

Die Hybrid is soortgelyk aan Invader se Duo en die romp herinner aan ’n opslaanwa omdat die dak met lugdrukbuise lig om ’n binnevertrek te skep.

As die dak gelig is, trek ’n bed uit oor die disselboomkant met seile wat daaroor span om dit deel te maak van die binnekamer. Philip de Vries van Conqueror sê die konsep is niks nuuts nie, maar dit is as ’n prototipe gebou om te kyk wat kopers se reaksie is.

Wat ’n mens wel nié op enige ander wa sien nie, is dat al die pakplek buite ook van binne af bereik kan word. Dit beteken jy kan die wa in ’n beperkte ruimte – soos jou motorhuis – pak sonder om hom uit te trek.

Die boumateriale is dieselfde as wat Conqueror vir sy bestaande UEV-reeks gebruik – dit sluit in onafhanklike vering met dubbele skokbrekers. Die Hybrid kry, net soos die Companion-model, ’n opslaanstort by die stert.

BVM: Nog nie vasgestel nie, maar dit behoort in die omgewing van 1 500 kg te wees.

Prys: R299 000

Kontak: 016 349 6533;  conqueror.co.zainfo@conqueror.co.za

Vagabond kry ’n bulletjie

Die Vagabond, wat op die tradisionele teardrop gegrond is en heeltemal van veselglas is, het ’n derde boetie, die Rogue, bygekry. Dié is meer gemik op veldrytoestande.

Die Rogue kom byvoorbeeld standaard met ’n 12 V-220 V-ys-vrieskas en ekstra pakplek by die kombuis. Die stoof skuif weg van die stert na die hoek van die linkerpaneel wat meer ruimte laat in die kombuis.

Die stoof self staan op ’n glyraam wat jy weg van die romp af kan trek sodat jy nie met vetspatsels teen jou wa sit nie. Wanneer jy sleep, vou die stoof se tafel weg en die stoof kom los van die raam. Dus kan jy hom in die wa vervoer. Links onder die kombuis kry die Rogue ekstra bêreplek waarin ’n ammokis pas.

Die gassilinder kry ’n netjiese staanplek op die modderskerm en onderlangs het hy selfs glystawe as jy die dag ernstig is oor veldsleep.

BVM: 750 kg of 1 400 kg

Prys: R169 950

Kontak:  074 601 0271;  vagabondsa.co.zabryce@vagabondsa.co.za 

Stealth klim op ’n bakkie

Stealth het hom binne ’n jaar of twee goed gevestig in die mark. Nou, sê Garry Coady, die eienaar, is dié vervaardiger met die nuwe Bakkie-Mate eintlik terug waar hy aanvanklik begin het.

Hy wou oorspronklik wegspring met abbawaens, maar soos hy woonwaens begin bou het, het dit momentum gekry en die Bakkie-Mate het agterweë gebly... tot nou toe.

Die Bakkie-Mate bestaan uit ’n skulpraamromp (monocoque) wat uit twee veselglaskante bestaan wat gelas word – net soos met sommige bote. Om die Bakkie-Mate ligter te maak is die panele nie van saamgestelde stof nie, maar veselglas.

’n Leë eenheid weeg omtrent 500 kg, wat beteken jy het nog ’n goeie 250 kg laaigewig as jy kyk na die gemiddelde dubbelkajuitbakkie se dravermoë.

Om die ewewig reg te kry word die eenheid se swaartepunt bo die wiel gehou, ongeag of dit op ’n lang bak, korter bak of dubbelkajuitbakkie pas. Pote om die eenheid af te haal sodat jy dit in die kampplek kan los is vir nou nié standaard nie, maar wel ’n opsie. Die bed is koningsgrootte, maar jy kan dit verander na ’n dubbelbedgrootte as jy die kussings anders pak.

Bykomend tot Stealth se bestaande woonwareeks het hy nou ook ’n Sprinter-reeks bekend gestel. Dit is ’n ligter en goedkoper weergawe van die XR-model – daar’s ’n staalonderstel met ’n e-coat-laag, die isolering op die neus en stert is minder (hoewel dit steeds aan markvereistes voldoen), en daar’s nie ’n uitglykombuis of gastoerusting nie. ’

n Los skottel en droograk pas in ’n raam langs die romp en ’n induksieplaat is standaard. Die skuifdeure vir die binnekaste is weggedoen en jy kry ’n volle hangkas regs van die bed waar die ander model ’n bedkassie het.

Bakkie-Mate: R199 500; droëgewig 460-480 kg

Sprinter: Vanaf R279 500; BVM 1 400 kg

Kontak:  stealthcaravans.co.za 

Nuwe Exclusive wys gesig

Jurgens het onlangs sy reeks vernuwe, maar nié al die modelle gelyktydig verander nie. Eerste aan die beurt was die gewilde Penta, en nou kry die grootmeneer van die reeks, die Exclusive, sy kans.

Steeds kenmerkend van die Exclusive is sy dubbele as, maar pleks van die donker strook aan die onderkant van die romp waarmee ’n mens ouer Jurgens-modelle vereenselwig, is die nuweling heeltemal wit.

Die deur het voorheen by die stert gesit, maar skuif nou vorentoe, tussen die wiele en die A-raam. Boonop slaan die nuwe buitekombuis nou omtrent bo die wiele uit, en jy het ook ’n groter mikrogolfoond van 28 l. Omdat die deur geskuif het, lyk die binne- uitleg heeltemal anders. Die badkamer was voorheen in die stert met die bed aan die neuskant. Nou is die eethoekie in die neus en die slaapkamer in die stert. Die badkamer skuif na die middel van die wa en sluit in ’n kassettoilet, stort en wasbak.

Net soos die Penta kom die res van die Jurgens-reeks voortaan sonder gas en jy maak kos op ’n induksieplaat. Die Exclusive het ook geen 12 V-toestelle nie. Die yskas werk met 220 V-krag.

BVM: Teen druktyd nie beskikbaar nie.

Prys: Nie beskikbaar nie.

Kontak: 080 001 4802

Summit skud sy vere reg

Summit het sy vlagskip, die Kilimanjaro, heeltemal herontwerp, sê Franscois Mulock Houwer van dié vervaardiger.

Die eethoekie skuif nou na links voor, en die bed – wat van kant tot kant strek – kry ses groot laaie wat onder dit uittrek. Die skuifruite het plek gemaak vir oopslaanvensters met ’n gaasskerm en blinding. Die Kilimanjaro het nou ook plek vir ’n kassettoilet, en die meganiese opwipdak lig elektries. Maar die heel spoggerigste is die uitslaantrappie met sy strookligte.

Elke trapvlak het ’n strook liggies op die kant sodat jy mooi kan sien waar jy moet trap. Die Kilimanjaro se kombuislaai is digby die stert.

BVM: 1 650 kg Prys R386 900

Kontak: 012 329 2259;  pretoriacaravans.co.za 

Badger bou unieke abbawa

Nadat Badger onlangs vier woonwaens bekend gestel het, het sy Camper – ’n abbawa vir bakkies – as uitvloeisel van die woonwaens verskyn.

’n Mens kan maar sê dis ’n Badger-woonwa sonder wiele wat agterop ’n bakkie pas, maar hy is 10 cm smaller as die woonwaens se 170 cm. Tog bly die uitleg hoofsaaklik dieselfde – soos die unieke regterpaneel wat in die geheel uittrek om deel van die bed te vorm. Anders as die woonwaens met ’n koningsgrootte bed het die Camper ’n dubbelbed.

Net soos die woonwaens het die abbawa ’n 12 V-220 V-kragstelsel. Die buitekombuis, ’n kompakte weergawe van dié in die woonwaens, trek steeds links uit die romp. Die yskas staan binne digby die neus, en die Camper kry stutte waarop hy kan staan as jy hom van jou bakkie wil afhaal.

Droë-gewig: 225 kg

Prys: R115 000

Kontak:  082 490 1117;  badgercaravans.co.zaadventure@badgercaravans.co.za

Unipod verander panele

UniPod Toy Haulers bou, soos die naam aandui, “woonwaens” waarmee jy ook jou grootmensspeelgoed kan karwei.

Die waens het dus plek om byvoorbeeld jou motorfiets in te laai, maar wanneer jy aflaai, is hier plek waar ’n bed uitslaan.

Die BushPod XL is een so ’n model, maar Brandon Hardie verduidelik die tussenlaagpanele is verander na ’n veselglasbuitelaag met ’n sintetiese heuningkoekbinneste.

Verder kry die kaal aluminiumstroke nou ’n poeierverflaag, en die opwipdak – wat opslaan aan die agterkant waar jy inklim – is 60 cm breër as voorheen. Dit skep meer ruimte in die wa, hoewel Brandon-hulle steeds dieselfde dubbelbed inbou.

BVM: 1 500 kg

Prys: R199 500

Kontak:  072 192 2845;  unipod.co.zasales@unipod.co.za 

Mobi Lodge kry ’n nuwe gewaad

Deel van die immergewilde Mobi Lodge is dié veselglaswoonwa se sandkleur afwerking. Nou, sê Leon Ras, verander sy 2020-modelle na wit én daar is nog ’n paar veranderinge.

Een daarvan is ’n panoramiese venster pleks van die vensterdeur in die linkerpaneel bo die buitekombuis. Volgens Leon is dit gewild onder klante – hulle praat van die Mobi Lodge se “grootskerm”.

Buiten ’n stoepdak wat oor die kombuisgedeelte span, pas ’n soortgelyke dak nou oor die uitglybed aan die ander kant van die romp. Kopers kry boonop ’n opsie vir ’n bed wat elektries uitskuif – gerieflik vir mense in ’n rolstoel. Die stoepgedeelte kan nou ook as afsonderlike vertrek toespan. Die raamwerk waarin die wasbak en droograk pas, verander ook na twee vlekvryestaalwasbakke met ’n opswaaiglasblad bo-oor.

En die remme, wat voorheen vir 2,5 t gegradeer is, kan nou 2,8 t hanteer. Nietemin bly die BVM onveranderd.

BVM: 1 750 kg of 1 950 kg

Prys: Vanaf R478 000

Kontak:  082 899 9999;  mobilodge.comleon@mobilodge.com

Gray nóg veiliger

Fred Oosthuizen se Gray-woonwa is een van die swierigste én grootste woonwaens op die pad. Teen 8 m lank en met ’n BVM van 2 500 kg het jy ’n allemintige sleepvoertuig nodig.

Die wa is omtrent soos ’n hotelsuite toegerus, maar Fred het nog ’n paar veranderinge aangebring. Die teenswaai-koppelstuk en Al-Ko se teenswaairembeheer is nou standaard. Die mikrogolfoond wat binne gestaan het, skuif buitentoe en het sy eie kas net links van die deur. Fred laat pasgemaakte veranderinge toe as dit by die binneafwerking en kleurskemas kom.

Die wasbak, wat voorheen links uit die romp getrek het, skuif nou nader aan die stert, en ’n ekstra induksieplaat pas in waar die wasbak voorheen was.

BVM: 2 500 kg

Prys: Vanaf R525 000

Kontak:  084 470 0802;  customcampers.co.zasales@customcampers.co.za 

Okto bied ’n groter keuse

Okto is een van die nuwer padwavervaardigers met twee modelle, die Villa en Cabana. Nou het dié vervaardiger ’n variant op albei modelle bekend gestel. Die Villa En-Suite is ’n Villa met ’n badkamer.

Dié is in die stert, digby die deur, in die plek van die eethoekie. Soos jy voor die badkamer staan, is die storthokkie links in die hoek, die wasbak in die middel en die kassettoilet heel regs teen die muur. Woody Loftus wat die bemarking van Okto behartig, sê dis nou die enigste padwa met ’n opwipdak wat ’n ingeboude badkamer het.

Omdat die yskas teenaan die badkamer staan, is dié se deur ook verander sodat dit van regs af oopmaak. Die nuwe Gravellor het weer dieselfde uitleg as die Cabana, maar met hom kan jy grondpad aandurf. Die onderstel is versterk en die wa het 15”-wiele pleks van die 14”-weergawes. Die Gravellor kry ook ’n drukventilasie-opening in die dak wat help om die stof uit die wa te hou terwyl jy sleep.

.Verder kry hy modderflappe en geruite plaat aan die onderkant van die panele asook ’n bosbreker wat om die neus loop. Die veselglasdeksel oor die disselboom is vervang met ’n plat plaat waarop jy ’n sakkie hout of twee kan vervoer.

Nog nuwe toevoegings is ’n geiser en watertenk plus ’n stortkop met sy verlengstuk in die regterpaneel waarlangs jy ’n storttent kan prakseer.

Villa En-Suite: R389 000; BVM 1 500 kg

Gravellor: R389 000; BVM 1 700 kg

Kontak:  084 471 9674;  oktocaravans.co.zainfo@okto.bz

GT Campers ‘bou’ ’n speelkamer

Anders as ander boswaens het GT Campers se waens ’n unieke eienskap: Die deel wat van die wa af oorslaan sodat die tent bo-op oopvou, word die vloer van die tentvertrek. Nou het die eienaars die tent ’n ent verder geneem met die Libra-model: ’n tentvertrek kom aan die voorkant van die bestaande tent vas – hulle praat van ’n “kinderkamer”.

Die drie kombuislaaie wat voorheen uit die neuskas getrek het, kry nou ’n ekstra laai waarin al jou eetgerei en speserybottels pas. Die geiser wat in die voorste kas aan die regterkant van die wa ingebou was, pas nou op ’n raam wat uitgly, en ’n katrolstelsel staan op die disselboom sodat jy die tent alleen kan op- en afslaan.

BVM: 1 500 kg

Prys: Vanaf R152 000

Kontak:  012 770 3633;  gtoffroadtrailers.co.zasales@gtoffroadtrailers.co.za 

Panther se Onca is hier!

Panther, wat bekend is vir sy klein veselglaswoonwaens, het sy eerste volgrootte padwa, die Onca, gebou. Die eienaar, Martin van der Westhuizen, verduidelik hoewel die kleiner waens gewild is, is daar tog van sy klante wat “alles” in ’n wa soek.

In die stertkant is ’n eilandbed ingebou, en soos jy inklim, is die klein eethoekie links met die yskas in die verste hoek. Gewoonlik plaas vervaardigers die yskas bo of naby die as, maar Martin sê die yskas is lig genoeg om te staan waar hy is. Die volgende nuwe modelle gaan wel ’n groter eethoekie kry sodat dit kan platslaan as ’n enkelbed.

Ook die yskas gaan skuif en met ’n dubbeldeurmodel vervang word. Die buitekombuis is bo die linkerwiel en die wa het geen gastoerusting nie – die Onca kry dus ’n induksiestoof. Net soos Panther se klein waens bestaan die Onca hoofsaaklik uit veselglas.

BVM: 1 320 kg

Prys: R279 900

Kontak:  082 416 2578;  pantheraa.co.zamartinpanthercc@gmail.com

Okapi maak pakplek

Nadat Nayela sy Okapi op verlede jaar se Woonwaskou bekend gestel het, is ’n paar klein veranderinge nou aangebring.

Die buitekombuis se bordekas is dieper gemaak, en die deur aan die agterkant wat jy van binne af tot die kas kon oopmaak, is ’n permanente paneel. Die klerekas digby die verste hoek van die bed kry rakke – voorheen was dit hangplek. Die onderste deel van die Okapi se romp is ’n houtskool kleur, maar jy kan nou ook kakie kies.

BVM: 1 750 kg

Prys: R495 000

Kontak:  058 863 1027;  nayela.co.zainfo@nayela.co.za

Motorhome-World wys sy eerste paneelwa

Die Discoverer-reeks ryhuise van Motorhome-World het ’n baba ryker geword.

Dennis Bouwers, mede- eienaar van Motorhome-World, sê dis die eerste keer dat dié vervaardiger ’n paneelwa-ombouing as deel van sy reeks beskikbaar stel.

Die Discoverer Journey kry sy gestalte in ’n Fiat Ducato-paneelwa, en al is dit nou een van die goedkoopste produkte wat hy bied, geld dieselfde hoëgehalte-afwerking vir die Journey. Die hele stertgedeelte is twee sitbanke regoor mekaar wat in een enorme bed platslaan. As jy die agterdeure oopmaak, pas hier selfs ’n tent, ingeval jy ’n “vertrek” wil aanlas. Soos in baie ander ryhuise swaai die voorsitplekke om sodat jy na die binnekant van die ryhuis kan kyk.

Die inklimdeur is uiteraard ’n groot skuifdeur in die linkerpaneel, en selfs met die deur uit die pad span ’n gaasgedeelte oor die opening om insekte uit te hou. Dieselfde geld vir die voorste syruite en voorruit wat met ’n blinding toetrek om dit privaat te maak.

BVM: 3 500 kg

Prys: Vanaf R849 850

Kontak: 021 577 3863;  motorhome-world.cominfo@motorhome-world.com

Chobe se staalneus groet

Die Chobe is een van Echo4x4 se gewildste boswoonwaens, maar sy hoekige neuskas maak nou plek vir een van veselglas.

Dit maak sin, want die nuwe kas het ’n meer modieuse vorm en bestaan net soos die romp nou ook uit veselglas. Nie net verleen dit aan die Chobe ’n mooier voorkoms nie, maar met die veselglaskas weeg die Chobe ook ’n paar kilogram minder.

BVM: 1 500 kg

Prys: Vanaf R273 000

Kontak:  012 345 3333;  echo4x4.co.zaechoacc@echo4x4.co.za 

Quantum bou sy droomwa

Quantum, wat hom toespits op luukse padwoonwaens met ’n vaste dak, het nog twee modelle by sy reeks van vier gevoeg.

Die nuwe Oasis neem die vaandel as vlagskipmodel oor by die Grand Infinity en word slegs op bestelling vervaardig. Teen 8,385 m is hy meer as ’n meter langer as die Grand Infinity, maar albei kom standaard met min of meer dieselfde toerusting.

Die Grand Infinity het wel slaapplek vir tot drie mense, terwyl die Oasis ’n stapelbed vir twee het – dus altesame vier mense. Die badkamer is ook nie ’n gekombineerde eenheid nie – die toilet staan nou eenkant. Buite by die stert is ’n kas wat klaar bedraad is vir ’n TV.

Aan die ander kant van die stert gly ’n fietsrak op ’n glyraam uit die romp as jy die stapelbed aan die binnekant opslaan. Voortaan kom al die Quantum-modelle met ’n modulêre stoeptent met sypanele wat aan mekaar vasrits. Dit beteken jy kan ’n deurpaneel plaas presies waar jy dit wil hê. Die Quantum Comfort kry ook ’n variant, die Comfort Family. Buiten die slaapplek vir vier in die Comfort het die nuweling plek vir nóg twee mense.

Quantum Oasis: R625 000; BVM 2 095 kg

Quantum Comfort Family: R369 000; BVM 1 660 kg

Kontak: quantumleisure.co.za