EDEONA PARKERSON, Pretoria, vertel:

Ons het onlangs vakansie gehou in Schoemanskloof in Mpumalanga. Daar stel iemand voor dat ons op pad huis toe ’n draai maak op die dorpie Kaapsehoop. Dis ’n idilliese plekkie! Die dorpie is bekend vir sy wilde perde, blouswaeltjies en grasvelde vol rotsformasies.

Ons het die perde reeds buite die dorpie langs die pad teëgekom. In die dorpie se hoofstraat geniet hulle beslis voorrang. Hulle was min gepla deur mense, totdat ’n merrie hard in ons rigting gerunnik het – sy wou haar vulletjie beskerm. Die rotsvelde lê oral om die dorp en lyk soos iets uit ’n Camelot-feëverhaal. Dié rotsformasies is soos stil wagte wat almal se kom en gaan dophou.

Ons het ook oom Doep in die hoofstraat ontmoet. Hy en sy seun het ’n paar van die geskiedkundige huise op die dorp opgeknap. Hy vertel die uitsigte rondom die dorp het destyds die Nederlandse immigrante herinner aan die mooie Kaap, vandaar die naam.

Die wilde perde wei al sowat 100 jaar hier sedert die Anglo-Boereoorlog. Oom Doep skat hier is sowat 130 perde.

Hier’s geen tekort aan restaurante en handwerkwinkeltjies (juweliersware, glasware en pottebakery) nie. En almal groet jou in die strate.

Die dorpie is net drie uur se ry van Pretoria en Johannesburg (op die netjiese N4) af – dis beslis ’n besoek werd.