Die Flag-diereplaas word goed versorg. Dis ’n netjiese, skoon plek – nogal indrukwekkend as jy dink dat hier meer as ’n duisend diere en voëls kloek, runnik, snork, kraai, seil, vlieg en galop! Die meeste diere word gered uit haglike omstandighede en kom sterk dan aan op hierdie hedendaagse Dr. Dolittle-plaas.

Hier is oorgenoeg om die kleinspan heeldag besig te hou, en dit kos ook nie ’n plaas se geld nie. “Ek het op ’n droogte-geteisterde suikerrietplaas grootgeword,” sê Gen Chisholm, eienaar en surrogaatma van honderde dierasies.

“Omdat ek met min grootgeword het, wil ek graag gesinne bedien. Ek wil nie mense se sakke ruk nie; ek wil vir hulle waarde vir hulle geld gee.”

Oor naweke en op openbare vakansiedae is hier verskeie vertonings en aktiwiteite – van Barney, die dinosourus, tot ’n hele string Paw Patrol-karakters.

Drentel teen 12.30 nm. af na die melkery en kyk hoe hulle koeie melk. Kinders kan probeer om ’n koei te melk net voor die Mickey en Minnie-muis-vertoning om 1.45 nm. Later die middag kan jy na reptiele (likkewane, slange...) kyk as jy nie te skrikkerig is nie.

Dit word gevolg deur ’n superheld-vertoning – kom skud blad met Spider-Man!  Kinders kan ook die plaas te perd verken. Ritte kos R12 elk. Of jy kan op ’n trekker of miniatuurtrein spring. Jy kan ook die plaasdiere kosgee. ’n Sak voer kos R12. Bring ’n koelboks en braai in die boma, of kyk hoe die perde in die veld wei terwyl jy piekniek hou. Jy kan ook ’n cappuccino (R22) in die koffiewinkel bestel terwyl die kinders hulle gô uit speel.

Hoe kom ek daar? Die Flag-diereplaas is 12 km noord van Ballito. As jy op die N2 is, neem afrit nr. 214 deur Salt Rock. Volg hierdie pad vir 5 km. Die roete is goed gemerk.

Toegangstarief: R52 p.p. Dit sluit alle vertonings en aktiwiteite in (behalwe die perde- en treinritte).

Oop: Elke dag van 9 vm.-4.30 nm.

Meer inligting: 032 947 2018; flaganimalfarm.co.za