Ver onder jou kon jy ’n rivier deur die inheemse woud sien vloei, gevoed deur die Motitsi-waterval aan die oorkant. Maar as jy die besonderse woud van nader wou sien, moes jy die Big Swing doen... En wie kan nou enigiets inneem as jy met toegeknypte oë so vinnig val? 

Dinge het in 2017 verander met die bou van ’n unieke panoramiese hysbak wat jou 51 m af neem tot in die woud self, waar jy met 600 m se plankiespaaie en hangbrue op ’n sirkelroete die woud en al sy wonders kan ontdek. Dié hysbak is indrukwekkend, maar dis die woud self wat jou asem wegslaan!

Dis een van die min oorblyfsels van die eens enorme en oeroue Afromontane-woude wat ’n mens nou net plek-plek in Suid-Afrika kan vind. Die Knysna-woude is ’n goeie voorbeeld hiervan, asook kolle woud in die Amatolaberg.

Daar is op die plankiespad strategiese plekke waar jy kan asem skep en geïllustreerde inligtingsborde kan lees sodat jy weet waarna jy kyk, wat jy hoor en wat jy ruik. Al jou sintuie word geroer wanneer jy hier stap. Jy hoor die val en gekabbel van die Motitsirivier, die geroep van paddatjies en dalk die gekras van ’n Knysna-loerie, jy ruik die diep aardse reuk van mos en nat grond en oral om jou sien jy varings wat uit rotswande groei en stinkhoutbome wat reik na ’n kolletjie son doer bo. Die roete is in samewerking met bewaringkundiges uitgelê en nêrens vertrap jy die woud nie.

As jy klaar die woud verken het, ry jy weer tot bo. Bestel by die Lift Café vir jou ’n Bockwurst en skyfies (R65) en ’n Long Tom Lager (R45) en kies buite op die stoep ’n tafel waar jy rustig oor die ravyn kan tuur. Plaaslike kunstenaars en handelaars het ook hier winkeltjies en stalletjies.

Hoeveel kos dit? R190 vir volwassenes, R130 vir kinders en pensioentrekkers. ’n Bewaringstarief van R20 vir volwassenes en R10 vir kinders word ook gehef. Jou dagkaartjie laat jou toe om soveel kere as wat jy wil by die hyser op en af te ry.

Waar? Net buite Graskop op die R533 na Hazyview.

Oop: elke dag tussen 8.30 vm. en 5 nm. 066 305 1572; graskopgorgeliftcompany.co.za