LENA NEL, Pretoria, skryf:

Ek het in die April 2018-uitgawe (Weg #162) gelees van die stapgids Caiphus Mthabela en kort daarna ’n drie dae lange roete (42 km) in die Drakensberg saam met hom bespreek.

Ons het begin stap by die Mweni-kultuursentrum in die voetheuwels van die Noordelike Drakensberg.

Ons het die eerste dag sowat 7 km gestap en naby ’n stroom in die omgewing van Shepherd’s Cave oornag. Die yskoue water het ons asem weggeslaan, maar swem is mos verpligtend op ’n staptog!

My man, De Wet, is 40 en ek in die laat 30. Ons is albei fiks en was opgewonde om die volgende oggend die Mnwenipas uit te klim. Halfpad teen die berg op was ek nie meer so vrolik nie. Maar dit was die moeite werd – ons het sprakeloos bo op die platorand gesit en middagete geniet, met die berg se stilte wat in ons ore suis.

’n Groepie kinders en honde het uit die bloute aangestap gekom. Ek en De Wet sit daar ge-Osprey en ge-First Ascent in ons reënjasse en spoggerige stapskoene. Hulle het ’n paar reënstewels, komberse en uitgewaste klere aan. Caiphus vertel dat hulle daagliks by die berg op- en afklim.

Ná ’n ruk het hulle opgestaan en weer verdwyn. Die weer het begin opsteek en Caiphus het besluit dat ons eerder aan die voet van die Rockeriespas moet slaap as op die platorand.

Hoe erg kan die afklim wees, het ons gereken. Erg genoeg! Ons het agt uur gestap daai dag. Aan die voet van die pas het ’n paar spierverslappers en ’n yskoue swem ons moeë lywe gelawe.

Op die laaste dag het ons stuk-stuk in die reën tot by die Mnweni-sentrum gestap. Die tyd in die berg was ’n geestelike ervaring; en ook ’n kosbare tyd vir ons huwelik. Ons beveel dit ten sterkste aan... dalk net vóór 40!