Die voëlkenner Faansie Peacock gee ’n paar teorieë oor wat dié ongelukkige duif oorgekom het. 

Johan Fourie van Centurion skryf: Ek het die duif in my tuin afgeneem. Die duif het nie gelyk of hy sukkel nie. Soms trap die regterpoot die pen raak, maar dit was die enigste ding wat die duif sigbaar gepla het. Hy het pap geëet en gevlieg tot in ’n hoë boom. Ek weet dis ’n mite dat ’n ystervark sy penne uitskiet en ek kan nie dink dat ’n ystervark hier sal hou nie. Die Rietvleidam is wel sowat 13 km hiervandaan. Enige idees oor wat hier kon gebeur het?

Die voëlkenner Faansie Peacock antwoord: Johan se foto’s het ’n spul kenners op die Biochat-forum laat kopkrap.

Die pen het skynbaar die duif se regterkantse borsweefsel gepenetreer, maar die vlerk gemis, en het dus geen uitwerking op die voël se vermoë om te vlieg, vreet of loop nie. Die wond is waarskynlik kleiner as wat dit lyk, aangesien die dik laag dekvere dinge verbloem. Die oorsaak van dié ongewone frats is ’n raaisel. Dit mag wees dat die duif toevallig te naby aan ’n ystervark gekom het en so ’n duur les geleer het, maar dit is onwaarskynlik. 

Ystervarke kan nie hulle penne skiet nie, maar mense kan wel. Dit is dus moontlik dat daar ’n derdeparty betrokke was. Ystervarkpenne is gewilde komponente van ’n verskeidenheid tuisgemaakte wapens en lokvalle. As die voël wel geskiet is, is die hoek van die pen egter ’n vraagteken. 
’n Onlangse studie van die interaksie tussen voëls en die Noord-Amerikaanse ystervark (Erethizon dorsatum) het bewyse gevind van 17 gevalle en nege voëlspesies wat die skerpkant van ystervarkpenne leer ken het. Die finale uitkoms van baie gevalle is onbekend, maar bykans die helfte van die voëls het beswyk. 

Dit mag wees dat die duif toevallig te naby aan ’n ystervark gekom het en so ’n duur les geleer het, maar dit is onwaarskynlik.

Die meerderheid van hierdie gevalle was van roofvoëls (arende, jakkalsvoëls, valke, groot uile) sowel as kraaie; die laasgenoemde se nuuskierigheid en opportunisme het waarskynlik hulle ondergang beteken. ’n Geval van ’n korhoenderwyfie met penne in haar bors, stel voor dat dié voël, wat op die grond nesmaak, dalk beseer is toe sy haar eiers probeer beskerm het: Hoewel ystervarke hoofsaaklik vegetariërs is, is dit al aangeteken dat die Noord-Amerikaanse spesie soms voëleiers te eet. Dit kan wees dat die kalsium in die eierdop eintlik die teiken is, aangesien ystervarke graag aan bene knaag. 

Johan was verbaas om in voorstedelike Centurion ystervarkpenne aan te tref, maar in der waarheid is hierdie aanpasbare diere eintlik redelik wyd verspreid in groen stroke in andersins beboude gebiede, en kom hulle in baie van die munisipale natuurreservate en landgoedere in en om Pretoria voor.
Ek twyfel of die duif vir lank sal oorleef. Selfs al genees die wonde, sal die pen altyd ’n hindernis bly.