Dié nuweling vervang die Kavango as die vervaardiger se vlagskipmodel en is ook vir die Australiese mark bestem.

Die Kunene spog met ’n hele klompie nuwighede. Waar die Kavango se bed agter van muur tot muur strek, kry die Kunene ’n bed met ’n gang langsaan. Die stortgedeelte is steeds buite die deur oorkant die deur waar jy inklim, maar Willie sê dis ’n unieke stort wat glad nie lyk soos dié wat in die Kavango is nie. (Dit was egter nog nie op die skou te sien nie.)

Buiten die bed agter, slaan een ook oor die A-raam oop. En onder die matras is ’n ekstra kas waar jy beddegoed kan pak.

Echo4x4
Die Kunene se bed strek nie van muur tot muur nie.
Echo4x4
Die Kunene se bed.

Willie het die Kunene se vensters – van veiligheidsglas – spesiaal vir die wa laat maak. Hy sê dis die enigste boswoonwa van sy soort waarvan die hele venster kan oopmaak; gewoonlik skuif die een venster voor die ander een verby. Van die binnekaste het ’n hortjie- skuifdeur voor, en ’n groot skerm wat bo die venster opgerol is, kan laat sak word as jy privaatheid soek.

Echo se standaardwaens is beige en die Tec-reeks donkergrys, maar die Kunene laat ’n mens twee keer kyk, want hy is heelwat ligter – amper wit.

Vir jou Kunene kan jy een van drie soorte vering kies: Echo se eie onafhanklike vering, AL-KO se onafhanklike vering of bladvere.

Agterop die wa pas ’n fietsrak.

Saam met die Kunene het Willie-hulle ook ’n Legend-afwerking vir die Chobe-, Kavango- en Echo4-modelle aangekondig. Dit is ’n beperkte reeks met dieselfde liggrys kleur as die Kunene. Én dan het Echo sy heel kleinste waentjie gewys – die splinternuwe piepklein Space Bug-bagasiewaentjie is omtrent heeltemal van plastiek. Leeg weeg hy net oor die 130 kg. Hy het ’n BVM van 750 kg.

Die syfers: Kunene 6,015 (l) x 2 (b) x 2,225 m (h); tarragewig 1 280 kg; dravermoë 1 220 kg; BVM 2 500 kg.

Prys: Kunene R445 000; Chobe Legend R285 500; Kavango Legend R350 000; Echo4 Legend R160 000; Space Bug R13 500.

Kontak: 012 345 3333; echo4x4.co.zaechoacc@echo4x4.co.za


Lees al die nuusbrokkies wat in ons April-uitgawe verskyn hier.