Dié melkplaas in die gelyknamige boomryke buurt is regtig pure plaas. Koeie staan elke middag gedienstig in ’n ry om gemelk te word – kom kyk tussen 3 nm. en 4 nm. hoe dit gedoen word.

Kalwers lê op ’n strooimatjie en wag vir kinders om vir hulle te kom kuier. Hoenders skrop waar ook al hulle ’n plekkie kry en kolganse dryf op die plaasdamme rond. Hier is selfs ’n paar swane ook!

Sit aan by die Deck-restaurant langs die deli – die hamburgers (R85) en hoenderfrikkadelle met murgpampoentjie en feta (R70) is heerlik – of by die opelug Barn-restaurant – hier’s op Saterdae ’n braai-buffet (R150 p.p.) en op Sondae ’n “chef’s carvery” (R160 p.p.).

Kalwers lê op ’n strooimatjie en wag vir kinders om vir hulle te kom kuier...

Met ons besoek was hulle besig met opknapwerk aan die laasgenoemde restaurant en die konferensiegebou langsaan – ’n trouvenue word ook beplan. As dinge volgens plan verloop, sal die opknappings in Junie afgehandel wees.

Intussen doen die Barn sake onder ’n Bedoeïentent. Terwyl julle wag vir julle kos kan die kinders speel op klimrame, ’n springkasteel of trekkers op die netjiese grasperke.

Al twee die restaurante het lekker nagereg-opsies, maar gaan stap liewer deur die deli vir iets soets – van Bar One-roomys tot ystervarkies – of iets souts soos salami of springmielies.

Hier’s allerlei wonderlike goed: Beetgegeurde sout, stroop met geroosterde neute, steengemaalde meel... én jy kan vars rou melk koop teen R52 vir 5 liter as jy reeds ’n emmer (R25) het.

Maar wag, ek dwaal af. Kry ’n eetdingetjie by die deli en stap ’n draai deur die plaas. Gaan sit op ’n stomp langs een van die damme tot jy weer kans sien vir die stad.

Wat pla? Onthou dis ’n pláás – ’n koeimiswalm gaan elke nou en dan jou neusgate tref.

Oop: Die deli is daagliks oop van 8 vm. tot 6 nm., die Deck-restaurant van 8 vm. tot 5.30 nm. en die Barn-restaurant van 8 vm. tot 5 nm.

Waar? Die plaas is in Nellmapius-rylaan (M31) naby die Centurion-gholflandgoed.

Kontak: 012 667 4822; irenefarm.co.za