Sy bakkieplanne is geruime tyd al bekend, maar dit lyk asof hy hernude aandag gee aan sy elektriese skepping nadat ’n mededinger, Rivian-motors, ’n bestelling van 100 000 elektriese afleweringsvoertuie by Amazon.com ontvang het.

Ons het in Februarie vanjaar berig oor die Rivian-bakkie en bespiegel of dit ’n werklikheid gaan word. Rivian se eerste produksieweergawe is in die pylvak en dit lyk of Tesla nie agterweë wil bly nie.

Tesla het reeds ’n elektriese vragmotor bekend gestel, die Tesla Semi, maar vervoermaatskappye byt maar traag daaraan. Elon is berug daarvoor dat hy spertye mis en soos heelparty genieë blyk sy kop vol muisneste te wees.

Een ding is egter seker: As daar een ou is wat ’n haas uit ’n hoed kan pluk, dan is dit ons eie Elon.