Foto: Natalie Gabriels

Elsa Joubert beweeg van haar gemakstoel na een by ’n ronde tafel langs ’n groot venster wat wes kyk na Leeukop en Vlaeberg.

“Ek het soveel probleme met my bene gekry,” sê Elsa, wat reeds twee heupvervangings gehad het. “Ek kan nie meer lekker loop nie, ek verloor my balans.” Haar versorger, Cynthia Mtini, sit ’n glas water met ’n blou strooitjie voor haar neer.

Ek sit skuins ná drie op ’n Vrydamiddag by Elsa in haar tweekamerwoonstel op die derde verdieping van Berghof, ’n aftreeoord in Tuine, Kaapstad.

Sy deel dié rooibaksteengebou saam met sowat 60 ander inwoners. Die gemiddelde ouderdom van die inwoners hier is 88.

Die kort reis van stoel na stoel staan noodgedwonge in sterk kontras met die Elsa wat haar eerste boek, Water en Woestyn, 60 jaar gelede gepubliseer het. Daarin vertel sy hoe sy vroualleen met ’n kamera, tikmasjien en min reisigerstjeks deur Afrikalande soos Uganda, die Soedan en Egipte gereis het om die oorsprong van die Nyl tot by sy mond te volg.

Sy skryf in haar eerste boek: “Veral wou ek alleen gaan, omdat mens soveel meer afhanklik en soveel meer ontvanklik is as jy alleen gaan.”

Elsa is as reisskrywer ’n pionier wat wyd gereis het deur Afrika, Europa, die Amerikas en die Verre-Ooste. Haar reise was nie net geografies nie, maar ook van mens tot mens.

Sy het later as invloedryke romansier ons letterkunde verryk met bekroonde boeke soos Die Swerfjare van Poppie Nongena (1978) – wat in 13 tale vertaal is – en Die Reise van Isobelle (1995).

Nou is Elsa as 95-jarige met haar nuwe boek, Spertyd, die oudste Afrikaanse skrywer wat steeds publiseer. “Man, ek hou nie van spertye nie,” sê sy met ’n laggie, “maar toe ek vir my seun Nico [Steytler] sê ek het nie ’n spertyd vir dié boek nie, het hy my gou herinner ek moet dit klaarmaak voor my eie deadline.”

"Ek is nou letterlik in die laaste skof, min mense raak ouer as 95. Dit is nou maar so, jy het nie ’n sê oor hoe lank jy kan leef nie."

Dit was juis Nico wat haar aangemoedig het deur te sê: “Ma het altyd vreemde plekke besoek en daaroor geskryf. Nou lê die kontinent van die ouderdom voor; betree dit en skryf daaroor.”

In Spertyd doen sy eerlike selfondersoek oor die oudwordproses op ’n nie-sentimentele manier. Sy skryf ook met humor, soos oor die loopraam wat sy StomJapie gedoop het.

Elsa buig vorentoe en neem eers ’n slukkie water. “Dit is ’n snaakse posisie waarin ek nou is. Ek is nou letterlik in die laaste skof, min mense raak ouer as 95. Dit is nou maar so, jy het nie ’n sê oor hoe lank jy kan leef nie.”

Sy beskou die ouderdom as ’n onbekende kontinent vir elkeen wat lewe. “Jy weet nie of jy van alles ontneem word en of jy vrolik gaan aangaan tot die einde nie. En nie twee ouderdomme is dieselfde nie.”

Sy glo nie in die stelling dat jy net so oud is soos in jou gedagtes nie. “Dis rubbish,” sê sy ferm. “Jy’s net so jonk of oud soos jou liggaam jou toelaat.

“As jy dit besef, dan voel jy nie skuldig nie. Jy moet ook nie so gesentreerd wees op jouself en net aan al jou kwale sit en dink nie. En jy moenie kla nie, want as jy kla, word dit swaarder vir jouself en almal om jou.”

Om eie besluite te neem

Sy het Spertyd geskryf in haar studeerkamer, in die woonstel oorkant die gang van waar ons sit en gesels.

Haar roetine was om soggens vir ’n paar uur te skryf, daarna te rus en weer in die namiddag vir ’n uur te werk.

Haar kleindogter Isabeau Steytler het haar met die manuskrip se tegniese aspekte gehelp. “Ek het op die rekenaar gewerk en net betyds opgehou, want my vingers tik nie meer so presies nie. ’n Rekenaar is vir my soos ’n seekat – jy werk so lekker en dan kom daar ’n poot uit en bederwe alles, hy stop of hy doen iets. Ek het ook nog nooit ’n selfoon gehad nie, ek is dom met masjinerie of sulke goed.”

Elsa se man en sielsgenoot, die skrywer Klaas Steytler, is in 1998 aan kanker oorlede. Sy skryf dikwels oor hom in Spertyd, soms net ’n paragraaf of ’n sin wat boekdele spreek: “Ek verlang na Klaas – waar is Klaas?”

Sy woon al 16 jaar hier in Berghof. “Skryf het die laaste twintig jaar vir my sinvol gemaak. Ek is een van daardie mense wat vra: Hoe moet ek weet wat ek gedink het as ek nie sien wat ek geskryf het nie? Dit klink seker ’n bietjie simpel, maar my gedagtes en opvattings kom geleidelik as ek sien wat ek sê.”

"Ek is een van daardie mense wat vra: Hoe moet ek weet wat ek gedink het as ek nie sien wat ek geskryf het nie?"

Sy skryf sy sal graag die hiernamaals wil binnegaan met ’n notaboekie en BIC-pen. Wat sal ’n moontlike eerste aantekening in die hiernamaals wees, wil ek weet.

Elsa aarsel vir ’n paar oomblikke. “Nee man, dit is ’n bietjie te ver vir die verbeelding.”

Die dood is noodwendig een van die groot temas in haar boek. “Ek dink die dood word oral so onderspeel, ek weet nie of dit gesond is vir ons almal nie. Mense is maar bang, hulle praat liewer nie daaroor nie. Al waarop ek op my ouderdom kan reken, is dat ek sal doodgaan. Maar dalk is dit ook ’n taboe in my gedagtes. Maar dis ’n kwaal van ons tyd, alles in die tydskrifte gaan oor hoe om jou lewe te verleng.”

Ons gesels nog ’n paar minute oor die dood voordat Elsa opmerk: “Soos die skoolseun wat vir my skoonpa – wat ’n inspekteur was in die Vrystaat – gesê het: ‘But sir, you ask very heavy asks.’ Dit is baie heavy asks waaroor ons nou praat.”

Sy skryf in Spertyd oor haar laaste groot reis, toe sy in die tagtig was: ’n trein-en-bustoer deur die Noord-Kaap en Namibië. Sy het saam met ’n vriendin getoer en plekke soos Augrabies, Kolmanskop, Windhoek, Etosha en Swakopmund besoek. Elsa het egter op dié reis erg gesukkel met duiseligheid – sy praat van haar “draaikop”.

Sy het besef die fisieke beweging van so ’n toer is een te veel vir haar as tagtigplusser.

Sy skryf oor haar tuiskoms: “My woonstel is vir my ’n redding, ’n heenkome, ’n skuiling. [...] Ek kan stil lê en die bome agter die vensterruite sien, mooier as die vermaarde woestynuitsigte, die verste, mistieke, verbybewegende klipheuwelrante.”

Ná die Namibiëtoer het sy self besluit hierdie tipe reis is haar nie meer beskore nie. “Dit is makliker om jou eie besluite te aanvaar as wat iets byvoorbeeld op jou afgedwing word, of as iemand na aan jou vir jou besluit,” sê sy. “As jy dit self doen, is dit nie moeilik nie, want jy het dit self besluit.”

Sy deel nog ’n les van die ouderdom: “As jy iets nie kan doen nie, aanvaar dit. Moenie probeer nie.”

Elsa Joubert en haar man, Klaas Steytler.

Wieletjies wat aanhou draai

Elsa se reise reg oor die wêreld – sy het self nog nie probeer tel hoeveel lande sy al besoek het nie – is steeds voorop in haar gedagtes. “Ek het nie meer die energie om self te reis na al die plekke nie, maar ek kan daaraan dink."

“Veral as ek iets in die koerant lees wat betrekking het op ’n plek waar ek al was. Ek besef ook nou eers dat elke boek van my gegaan het oor die storie van die onderdruktes en hulle lot. Ek het dit nie doelbewus gedoen nie.”

Sy het al wonderlike erkenning vir haar skryfwerk gekry. Die Swerfjare van Poppie Nongena is in 2002 as een van die 100 beste boeke uit Afrika in die 20ste eeu aangewys.

In haar vorige boek, Reisiger (2009), vertel sy van ’n uitnodiging wat sy en Klaas ontvang het om Nelson Mandela vir aandete te ontmoet. Mandela het haar in vlot Afrikaans gegroet: “Dis so ’n eer om die skrywer van Die Staf van Monomotapa te ontmoet.”

"Ek besef ook nou eers dat elke boek van my gegaan het oor die storie van die onderdruktes en hulle lot."

Hy het haar reisboek oor Mosambiek herhaaldelik in die tronk op Robbeneiland gelees. “Ek sou niks van my nuwe vrou se land geweet het as dit nie vir jou boek was nie,” het hy later geskerts.

Sy vertel mymerend maar in die fynste detail van ’n besoek aan Madrid in 1949 en ’n oorvol moltrein by ’n stasie.

“Dit kom alles terug, ek het ’n baie visuele geheue as ek my terugplaas by ’n gebeurtenis. En dis weer van alleen reis,” sê sy. “Somtyds is dit lastig, want jy dink aan te veel goed. Die goed kom en kom en kom. Is dit nie mooi wat W.G. Sebald gesê het nie? Hy praat van ’n skrywer se ‘peculiar behavioural disturbance’, daardie wieletjies in jou kop wat net nie kan ophou draai nie.”

Sy glo jy moet besig bly, binne jou vermoëns. “Jy moet voel daar is iets wat jy wil doen elke dag. Dit is vir my vreeslik swaar dat ek nie meer kan gaan stap nie. Ek was baie lief vir stap, ook in die mooi tuin hier buite.”

Cynthia kom weer die vertrek binne en Elsa bestel vir ons tee.

“Die versorgers is baie belangrik as jy alleen is. By Berghof is hulle almal vriendelik. Ek het die boek opgedra aan almal wat na ons kyk.

“Dit is altyd lekker om as ek wakker word in die oggend tee by ’n versorger in die bed te kry. Ek drink dit met ’n strooitjie, dis vir my gerieflik. En dit begin mos alweer ’n dag beter so.” Haar groot familie – sy het reeds vier agterkleinkinders – is ’n waardevolle ondersteuningsnetwerk. “Ek kan nie eens begin om vir jou te sê wat die familie vir my beteken nie. Klaas het altyd gesê die kinders staan soos seders om jou.”

Stilte is vir Elsa baie belangrik. Sy skryf in Spertyd sy kan haarself net vind as sy stil is.

“Dit gaan oor die stilte in jouself,” sê sy. “Die binnestilte. Veral wanneer die wieletjies so jaag in jou kop. Jy moet oop wees. Dis asof jy kontak maak en jouself oopstel vir die groot onnoembare kragte. En dit los probleme op. Jy staan op en die probleme is nie meer daar nie. Dit gee vir jou perspektief.”

"Ek kan nie eens begin om vir jou te sê wat die familie vir my beteken nie. Klaas het altyd gesê die kinders staan soos seders om jou."

Sy het vrede oor die res van haar lewensreis – en die uiteindelike einde. “Maar ek vertrou myself nog nie,” sê sy laggend. “Ek weet nie of daar iets gaan uitspring wat my nou skielik bang of verbaas of verwese laat as ek voel die einde kom nou nie. Jy weet nie hoe jy gaan reageer nie. Ek het al mense gesien wat die vroomste was, wat histeries word op hulle sterfbed.”

’n Gedagte wat by haar aangemeld het, gee vir haar rustigheid. “Ek is nie ’n mistikus of so iets is nie. Ek het hierdie woorde nie gehoor nie, maar ek het tog die gedagte gekry: “Ek was by jou geboorte en ek sal by wees by jou sterfte.”

Soos T.S. Eliot skryf in die gedig “East Coker”, wat Klaas destyds in Afrikaans vertaal het: “In my einde is my begin.”

Ons drink tee en eet koekies. Dit is helaas ’n bietjie vroeg vir een van Elsa se gunstelingrituele. “Ek drink gewoonlik so om halfses ’n whisky op ys,” sê sy. “Hy laat jou ook goed voel die volgende dag. Ek kry soms ’n hoofpyn van gin, maar nooit van whisky nie. Dit bly my nommer een.”

Tussen blomme en boeke

Elsa lees steeds graag en is tans besig met ’n grootdruk-weergawe van The Bookshop, ’n roman deur Penelope Fitzgerald.

Sy teken my eksemplaar van Spertyd. Terwyl sy die pen vashou en moeisaam skryf, sien ek die blou are op haar hande, soos riviere wat vertak op die kontinent van die ouderdom.

“Ek weet nie hoekom ’n mens al kleiner gaan nie,” sê sy half verbaas oor haar skryfpoging. “Geniet jou handskrif terwyl jy dit het, dis ook nie ’n vaste ding nie. Dit is ook maar die liggaam wat sterkter is as die gees.”

Terwyl sy die pen vashou en moeisaam skryf, sien ek die blou are op haar hande, soos riviere wat vertak op die kontinent van die ouderdom.

Ons sit vir sowat ’n halwe minuut in stilte. Elsa kyk na die venster. “Dis tog so mooi, alles wat om ons is,” sê sy. “Jy kan gerus die venster oopmaak en afkyk oor ons tuin.”

“My vensters is lewende skilderye,” het sy in Reisiger geskryf. Inderdaad.

Ek kyk uit oor Leeukop, en na agapante en aronskelke in die boomryke tuin met ’n waterstroompie wat in Tafelberg ontspring.

Hier tussen die blomme en boeke vind Elsa daagliks opnuut betekenis en reis sy steeds na binne.

Sy verwoord hierdie laaste reis meesterlik in Spertyd: “Die blomme bring my vreugde, kalmte en rus; die boeke bring nié rus nie, hulle stuur my op reise weg. Kopreise, argumenteerreise, hulle krap om, roer, verstoor die vrede wat blomme bring. Maar dis goed so – ek voel weer asof ek lewe, ek bereik elke eindpunt van die Aarde, ek raak weg, ek word yslik groot soos ’n dinosourus, ek word klein soos ’n atoom.”


Lees ook: Erns vertel meer oor hierdie onderhoud en die voorreg om met Elsa te kon gesels.