Dié mamma-vlakvark het hierdie jakkalse behoorlik op hulle plek gesit. Die Weg-leser Amanda van Wyk het hierdie foto’s in Maart in die Addo-Olifant- nasionale park geneem. 

Klik op die pyltjies om na al die foto's te kyk.

“Daar was vier jakkalse wat probeer het om die moeder-vlakvark te uitoorlê om haar kleintjie te vang,” vertel Amanda.

“Toe ons self op die toneel aankom het die kleintjie reeds ’n bloedstreep oor sy kop gehad. Ek self het net gesien hoe die jakkals die klein varkie 'n paar keer aan die agterboud byt as hulle net naby genoeg kon kom. Hulle het beurte gemaak om aan te val terwyl die ander ‘wagstaan’.”

“Die ma was baie selfverskerd en het telkemale elke jakkals wat nader gekom het afgeweer, totdat sy besluit het genoeg is nou genoeg. Toe skraap sy die een jakkals en hy draf stert tussen die bene weg. Daarna het die ander drie soos een man besluit om die aftog te blaas en by hulle beseerde maatjie in die skaduwee gaan lê.

“En daar vreet Moeder Vlakvark en haar kleintjie (met bloedstreep oor die voorkop) doodluiters voort asof niks gebeur het nie! Hoe wonderlik is die natuur nie!”