Ek het verlede jaar ’n rukkie lank in die Kaap gebly en baie tyd in my tuin deurgebring. Gewapen met my Pentax K5 en 100 mm-makrolens het ek gereeld na iets interessants gesoek om af te neem.

Een oggend kom ek af op ’n stomp met ’n papie daarop – ek het dadelik ’n foto geneem .

My nuuskierigheid het die oorhand gekry en ek het die stomp in my huis gedra sodat ek die papie elke dag kon afneem. Ek het immers nog nooit gesien hoe ’n vlinder “gebore” word nie.

Ek sien toe daar is ook ’n bidsprinkaannes in ’n holte in die stomp – dit was vol sand en blare en het verwaarloos gelyk. ’n Paar dae later sien ek ’n klomp piepklein goggas op die stomp rondhardloop . Ek sien toe deur die makrolens dis ’n spul bidsprinkaantjies. Sjoe, wat ’n gelukskoot. Die papie was vir eers vergete!

Die bidsprinkaantjies was sowat ’n sentimeter lank. Wanneer hulle uitkom, is hulle ogies met ’n soort helm bedek wat vinnig opklaar.

Ek neem aan dis om hulle oë te beskerm. Ongelukkig is die natuur mos soms wreed en ’n spinnekop het van die outjies gevang en in bondeltjies vasgedraai met verbasend min drade – ek neem aan om hulle later te vreet.

Ek het oral gesoek, maar kon nie die spinnekop kry nie – nie dat ek die “ete” enigsins sou wou aanskou nie. Gelukkig het die koms van die pragtige vlinder my getroos:

In die tuin van lewe en dood

vlinder
In die tuin van lewe en dood

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN sê:

Dié vlinder is ’n manlike suurlemoensmous – hy kry sy naam vanweë die liggeel kleur op die voorvlerke. Dis ’n skaars skoenlapper, veral in die Wes-Kaap. Hulle hou meer in savanne- en grasveldomgewings.

Die larwe vreet meestal aan witgatbome. Dis nimfies van die gewone groen bidsprinkaan (common green mantis – Sphodromantis gastrica). Die volwasse insek kan tot 55 mm lank word. Hulle kom algemeen voor en word heel mak in huise. Hulle is karnivore en daar is al gevalle aangeteken waar hulle klein reptiele vreet.

Hulle is ook kannibale – dit gebeur soms dat die kleintjies mekaar opvreet! In dié geval het ’n spinnekop hulle voorgespring. Die spinnekop sal later die voedsame vloeistowwe onttrek en net droë doppies sal oorbly.

Irene Strauss sê:

Ek bly deesdae in Krugersdorp, maar het lank in Benoni gebly waar ek lid was van die Benoni-kameraklub.

Ek neem al sowat 30  jaar foto’s. Toe ek onlangs na van my skyfies kyk, het ek gesien dat ek selfs doeriejare al daarvan gehou het om fyn detail af te neem.

Ek is nou 77; dus is dit nie meer so maklik om op die grond rond te kruip nie. Ek het ’n voorliefde vir spinnekoppies. Soms sien ek ’n spinnekop so groot soos ’n suikerkorrel, en as jy met die makrolens inzoem, sien jy dit het mooi albasterogies.


Hierdie artikel het in die November 2018-uitgawe (#169) van Weg verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.