Die lesers Emmi en Coenie Fick van Somerset-Wes, vertel:

Nadat ons die Sweni-wildernisroete in die Krugerwildtuin gestap het, het ons onsself bederf met twee aande by die Hamiltons-tentekamp suid van Satara.

Ons was vroeg uit die vere op ons laaste dag omdat ons nog vér moes terugry in die rigting van ons tuisdorp, Somerset-Wes. Ons laaste stilhouplek was by die Shimangwanenidam, waar ons gekyk het hoe die watervoëls op die damrand rondvroetel.

Maar dit was toe nie ons afskeidstoneel nie. Ná sowat 20 minute het ’n jong leeumannetjie uit die bosse nader geslenter – strek-strek soos die oggendson stadig lewe gee aan sy slaaplyf.

Die res van die trop het ook verskyn en op die damwal byeengekom.

Foto: Coenie Fick
Foto: Coenie Fick

’n Tipiese familievergadering, of só het ons gedink. Dit was die eerste leeus wat ons dié vakansie te siene gekry het. Toe ons agterna na die reeks foto’s kyk, kon ons sien dat dit eintlik ’n geoefende lokval was.

’n Groep dagha boys – ou alleenloperbuffels – het toe uit ’n ander rigting verskyn en dam toe gedrentel vir iets te drinke.

Hulle het die leeus te laat gesien. Die buffels het in hulle spore omgedraai en gevlug terwyl die leeus uit hulle onderskeie lokvalposisies verskyn het.

Foto: Coenie Fick
Foto: Coenie Fick

Die buffels het eers reguit na ons motor toe gemik en toe uitgeswaai, met die leeuwyfies kort op hulle hakke.

Foto: Coenie Fick
Foto: Coenie Fick

Dit was chaos in die motor: My man het rondgetas na sy kamera en ek het probeer om onder die venster in te duik sodat ek nie die vangs kan sien nie. Nadat ek moes aanhoor dat dit ’n een-keer-in-’n-leeftyd oomblik is, het ek maar weer regop gekom en ’n video begin maak. Ek het só geredeneer: Ek sou minder sien, maar dit op kamera vaslê.

Die leeus het reeds een van die buffels ingehaal en hom probeer plattrek. Die een wyfie behoort ’n medalje vir dapperheid te kry aangesien sy die neus nooit laat los het nie, en haar lewe op die spel geplaas het deur so na aan die horings te wees.

Foto: Coenie Fick
Foto: Coenie Fick

Die lug was vol stof, wat die toneel nóg meer onheilspellend gemaak het. Die buffel het aanvanklik hard gebulk, maar toe hy platgetrek is, het die geluide sagter geword, asof hy hom by sy lot berus het. Hy het so lank as moontlik uitgehou.

Ons was stomgeslaan (ons was die enigste mense daar om die toneel te aanskou): Die oggend se voëlgesang is binne tien minute vervang met die gedawer van hoewe en uiteindelik die sterwende buffel se laaste geluide.

Die vangs was gou verby en minder grusaam as wat ek verwag het, maar dit het steeds gemengde gevoelens ontlok. Aan die een kant voel ’n mens bewondering vir die slinkse strategie van die groot katte, wat nie een keer fokus verloor het nie en elkeen hulle rol gespeel het soos nodig.

Aan die ander kant sal ons nooit die buffel se dapperheid vergeet nie. ’n Mens wens amper daar kon twee wenners wees.

Wat ’n skouspelagtige Kruger-afskeid!


Coenie en Emmi Fick
Coenie en Emmi Fick
Coenie en Emmi Fick, Somerset-Wes:

“Ek en my man besoek die Kgalagadi-oorgrenspark en die Krugerwildtuin om die beurt – ons het al ongelooflike wildtonele in al twee parke gesien.

“Coenie is ’n ywerige fotograaf, ’n stokperdjie waaraan hy al jare lank slyp. Hierdie foto’s is met ’n Canon EOS 5D Mk. III geneem, met ’n Canon 70-200 mm-lens.

“Ons is mal oor die bos, en die wildtuin se wildernisstaproetes roep ons voortdurend terug. Dit was die eerste keer dat ons ’n jagtog en vangs van begin tot einde gesien het.”

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za.