Die leser Jan Ooms, van Nederland, vertel:

Ek bly in Nederland, maar ek en my lewensmaat kom dikwels na Suid-Afrika, waar ons baie tyd in die bos deurbring. Die Balule-Olifants-Wes-natuurreservaat (langs die wildtuin) naby Hoedspruit is een van ons gunstelingplekke, en ons bly dikwels by die Toro Yaka Bush Lodge.

Met ons verblyf in April 2018 het ons twee keer per dag op wildritte gegaan – altyd saam met Michael Duncan, ’n professionele veldgids by die lodge.

Ons het dié vier leeuwyfies op ’n aandrit uit ’n wildkykvoertuig gesien.

Hulle het pas hulle dors by ’n watergat geles. Michael het gesê hulle is waarskynlik besig om voor te berei vir die aand se jagtog.

Ons het besluit om hulle te volg. Ná sowat vyf of tien minute het ons hulle vir ’n oomblik verloor, maar toe het ’n harde gebrul hulle ligging verklap. Ons het hulle met die soeklig gekry en dadelik besef iets ongewoons is aan die gang.

Jan Ooms
Foto: Jan Ooms

Die vier wyfies het ’n volwasse luiperdmannetjie omsingel en aangeval.

Foto: Jan Ooms
Foto: Jan Ooms

Die luiperd het probeer ontsnap, maar dit eers ná sy derde probeerslag reggekry. Hy het teen ’n boom sowat 15 m van daar af opgeklouter. Hy het gesukkel om sy balans te hou, maar darem in die boom gebly.

Foto: Jan Ooms
Foto: Jan Ooms

Die totale ontmoeting het sowat 40 minute geduur voordat die wyfies hom in vrede gelaat en gaan jag het.

Ek het dié foto’s met my Canon EOS 7D Mk. II geneem, met ’n Sigma 150-600 mm-lens. My ISO was gestel op 1 600 om die sensitiwiteit te verhoog – ek kon steeds ’n sluiterspoed van 1/200ste van ’n sekonde en ’n lensopening van f5 gebruik.


Jan Ooms
Jan Ooms
Jan Ooms, Nederland

“Die Balule-Olifants-Wes-natuurreservaat is groot en hier is net ’n paar lodges. Hulle het ook ’n reël dat daar net twee voertuie by ’n spesifieke besigtiging mag wees. Dit verseker dat die diere ontspanne bly en dat jy meer oor hulle natuurlike gedrag kan leer.”

L.D. VAN ESSEN, NATUURLEWE-KENNER, SÊ:

“Hoewel karnivore nie noodwendig op dieselfde diere jag maak nie, ding hulle steeds mee om hulpbronne. Hulle sal mekaar pla, kos by mekaar steel en soms individue van ’n ander spesie doodmaak.

“Danksy hulle grootte kraai leeus gewoonlik koning in hierdie interaksies. Leeus wat skoorsoek met luiperds – en jagluiperds en hiënas – is ’n taamlik algemene verskynsel. Gelukkig kry die luiperd dit die meeste van die tyd reg om te ontsnap, soos wat hier gebeur het.”

WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za.