Die Franschhoek-wyntrem is een van die gewildste maniere om die vallei se top-uitvoerproduk te proe. En dis lekker. Sit agteroor terwyl jy aangery word van wynplaas tot wynplaas. Die wyntrem het aanvanklik vier roetes gehad, maar vier nuwe roetes is nou bygevoeg (inligting hier onder). 

Die naam is effens misleidend — ’n mens ry die grootste deel van die roete in ’n bus, met ’n regte trem wat net tussen van die plase (Rickety Bridge en Grande Provence of Vrede en Lust en Alée Bleue) loop. Maar die bestuurders is stiptelik, vriendelik en professioneel, en die uitsig oor die wingerde net so mooi deur ’n busvenster.

 Kyk net hoe lekker!

DIT WERK SÓ:

Koop jou kaartjie aanlyn (winetram.co.za) of by die kaartjiekantoor in die hoofstraat (Hugenoteweg 32). 

Só lyk die kaartjiekantoor in Franschhoek se hoofstraat. Foto: Suzaan Hall

In die stiller wintermaande behoort jy nog net voor die vertrek plek te kry, maar bespreek liefs vooruit in die somer.

Kies een van agt roetes: Die roetes en plase word volledig op die webblad beskryf.

Die busse vertrek tussen 9:30 vm en 10 vm. van die kaartjiekantoor af (kry die skedule op die webblad). Die toere eindig ook by die kaartjiekantoor.

Wenk
Bespreek vooraf vir middagete by een van die plase se restaurante. Jy kan ook peuselborde bestel en wynproe en ’n paar bottels wyn koop.

Koste  R220 per volwassene; R90 per kind tussen 3 en 17 jaar oud

Nog inligting: 021 300 0338, winetram.co.za