Klik en jy’s in die Kruger of die Karoo of...

Jy kan nou agter jou rekenaar sit en die Otterroete “stap”, by die Bourke’s Luck-maalgate gaan draai of uitkyk oor die samevloeiing van die Limpopo- en Shasherivier doer in die verre noorde van die land. Ja, altesame 170 van Suid-Afrika se ikoniese staproetes en uitkykpunte is nou op Google Street View!

’n Span vrywilligers het in samewerking met Google Street View en Drive South Africa panoramiese foto’s van die roetes en uitkykpunte uitgereik – hier is onder meer roetes teen Tafelberg uit én van die wildtuin se wildernisstaproetes.

Die roetes sluit beeldmateriaal van al Suid-Afrika se nasionale parke, 17 natuurreservate en ses van ons wêrelderfenisgebiede in.

Nog altyd gewonder hoe lyk die Stadsaal-grotte? Nou kan jy jou verbeel jy staan sélf daar – vrot knieë en al. Of is jy eerder ’n stadsmuis? Klik net ’n knoppie en stap langs die Seepunt-promenade of in Kerkstraat in Johannesburg.

Die roetes sluit beeldmateriaal van al Suid-Afrika se nasionale parke, 17 natuurreservate en ses van ons wêrelderfenisgebiede in.

Hoe het dit gewerk? Die Drive South Africa-span het binne ’n jaar sowat 50 000 km afgelê om die beeldmateriaal vas te lê. Meer as 200 vrywilligers, insluitend veldwagters van Sanparke, Kaapse natuurbewaring en KZN Ezemvelo Wildlife, het ook gehelp.

Die projek is deel van Google Street View se kamera-leenprogram, wat mense aanmoedig om die tegnologie van 360°-kameras te gebruik om die hele planeet te karteer.

Hoe lyk so ’n kamera? “Die Google Street View Trekker is ’n 22 kg-rugsak met 15 kameras wat in alle rigtings wys. Dit neem elke twee sekondes ’n 360°-foto,” sê Andre van Kets, stigter van Drive South Africa. “Nou kan reisigers van regoor die wêreld Suid-Afrika se diverse natuurlewe op Google Maps en Street Views verken.”

Ek wil ook help... Jy moet aansoek doen as jy roetes wil help karteer – reisigers, professionele fotograwe en organisasies kan deelneem. Kry hier meer inligting: google.com/streetview/loan/

Waar gaan kyk ek na die roetes? Hier’s die volle galery beeldmateriaal, en hier is ’n databasis waar jy maklik vir ’n spesifieke roete kan soek.  

KYK: Só lyk van die Google Street View-uitsigte:

– Marcelle van Niekerk

Buitelugflieks: Kry die springmielies!

Hoe klink ’n fliekaand onder die sterre? Dis somer en dus tyd vir die Galileo-buitelugfliekteaters.

Dit bied Kapenaars die kans om ’n goedvoelfliek (van The Devil Wears Prada tot The Sound of Music) te kyk by verskillende plekke in en om Kaapstad – van Kirstenbosch tot Boschendal naby Franschhoek.

Jy kan jou eie piekniekmandjie pak of iets te ete koop by die spesifieke venue. Maak net vooraf seker: Sommige teaters laat nie drank toe nie.
Wanneer? Die meeste aande tot die einde April. Kry die program by thegalileo.co.za – ook om te sien watter flieks jy kan kyk.
Tyd Die hekke maak gewoonlik om 6 nm. oop en die fliek begin wanneer die son gesak het (gewoonlik rondom 8.30 nm.)
Koste R89, R97 met ’n kombers, R105 met rugondersteuning.

Sanipas: Stap tussen die veldblomme

Stap saam met botaniese kenners (onder meer die bekende Elsa Pooley) op die Lesothoplato en verken die verskillende veldblomme soos oranje papawers, harpuisbos en pensies. Julle ry tot aan die bopunt van die pas en stap dan Lesotho binne. Die groep bring sowat 90 minute bo-op die plato deur en stap dan van die Lesotho-grenspos tot by die Suid-Afrikaanse grenspos (8 km). Hier is vervoer tot by die beginpunt (Giant’s Cup Café).

Wat bring ek saam? Jou paspoort (baie belangrik – jy gaan die land verlaat!), stapskoene, middagete, genoeg drinkwater, ’n stapstok, hoed, warm klere, reënklere, blomboeke, verkyker en kamera.

Wanneer? 28 Januarie 2018

Tyd Ontmoet mekaar 6.30 vm. by die Giant’s Cup Café, sowat 10 km van Underberg af op die Sanipaspad.

Koste R475 p.p. Dit sluit vervoer in van Giant’s Cup Café af tot bo-op die pas en weer terug.

Bespreek vooraf by Sani Lodge Backpackers (033 702 0330; info@sanilodge.co.za) sodat hulle vervoer kan reël.

Slingsby se Vis-kaart is hier

Beplan jy om binnekort die Visriviercanyonstaproete te doen? Druk dié kaart in jou rugsak. Dis (soos al die ander Slingsby-kaarte) ’n betroubare en nuttige bron van inligting: Die kilometers word mooi gemerk en al die interessanthede langs die pad – van die Vespa tot luitenant Thilo von Trotha se graf – word duidelik aangedui.

Dis nie net die eerste gedetailleerde topografiese kaart van die staproete nie, maar dit sluit ook die eerste gedetailleerde geologiese kaart van dié oerlandskap in.

Nou kan jy jou slim hou as julle saans om die kampvuur sit en gesels oor watter soort klippe julle die dag gesien het – én beter verstaan hoe die Visriviercanyon ontstaan het. Die kaart is op duursame, waterdigte papier gedruk.

Koste R190 op die Slingsby-webblad.
Nog inligting 021 788 4545; slingsbymaps.com

– Suzaan Hall