Sutherland spog ook nou met ’n planetarium

Sutherland is bekend vir sy meestal wolkose nagte en daarom is dit ’n gewilde plek om sterre te kyk. Maar gestel die weer steek op mooitjies die naweek wat julle daar is – wat doen ’n mens dan? Jy gaan kyk planete by Sutherland se nuwe planetarium.

Wel, eintlik kyk jy ’n kortfliek oor die buitenste ruim wat deur vier projektors teen ’n koepeldak vertoon word.

Die planetarium het sitplek vir 30 mense. Die stoele kantel agteroor sodat jy gemaklik op jou rug kan lê en die hele koepelskerm ordentlik kan sien. ’n Vertoning duur maar sowat 45 minute en daar is verskeie flieks waaruit ’n mens kan kies, soos een oor die ontwikkeling van die teleskoop oor die eeue, hoe die sterrekonstellasies in antieke mitologie verewig is, die jongste tegnologie wat ingespan word om die maan te verken en hoe verskynsels soos swartkolke met behulp van satelliete nagevors word.

Die planetarium is ook die plek op die dorp waar jy die lekkerste koffie kan kry. Selfs al kom jy nie ’n vertoning kyk nie, sal Aluciaane Wentzel vir jou ’n wegneem-cappuccino of warmsjokolade maak.  

Waar? H.v. Piet Retief- en Sarel Cilliersstraat (reg langs die NG Kerk)

Koste R80 p.p. (R50 per kind); spesiale aanbod op Dinsdag: R50 p.p. (R30 per kind)

Tye Vertonings is Maandag tot Donderdag om 10 vm., 3 nm. en 5 nm. Op Vrydag en Saterdag is daar ook ’n 7 nm.-vertoning en op Sondag slegs een vertoning om 12 nm.

Kontak 076 909 8635 (Alta Steenkamp); sutherlandplanetarium.co.za

– Sophia van Taak


Leer beter natuurkiekies neem

HANNES LOCHNER

Van die wêreld se voorste natuurfotograwe kom weer in Desember in Kaapstad byeen vir die Wild Shots-konferensie. Almal is welkom om te kom luister en leer – selfs amateurfotograwe en mense wat bloot lief is vir die natuur.

Fotograwe soos Hannes Lochner, Peter en Beverly Pickford en Marcus Jooste is van die sprekers en die hoofspreker is Brent Stirton, wat laasjaar aangewys is as Natuurfotograaf van die Jaar.

Die dagprogram sluit in: 12 sessies, middagete en versnaperinge en word afgesluit met ’n kaas-en-wyn-geselligheid.

Waar? Nedbank-ouditorium, V&A Waterfront, Kaapstad

Wanneer? 1 Desember; 9 vm.-5 nm.

Koste R950

Nog inligting en registrasie info@wildshotsevent.com; wildshotsevent.com


Noodhulp-app vir slangbyte

JOHAN MARAIS

Weet jy wat om te doen as een van jou gesinslede of stapmaats deur ’n slang gebyt word en julle ver is van hulp af? Nou kan jy ’n noodhulpgids in jou broeksak saamdra – pak net jou slimfoon in!

Die African Snakebite Institute het onlangs ’n nuwe app bekend gestel met noodhulp-inligting, hulp om slange uit te ken en inligting oor hoe om slange te laat verwyder. Die app is gratis en beskikbaar vir iOS- en Android-toestelle – laai dit af deur in jou appwinkel te soek vir “ASI Snakes”.

Jy het ’n internetverbinding nodig vir die eerste aflaai, maar kan daarna die inligting lees sonder ’n verbinding.

Nog inligting africansnakebitinstitute.com


Maak ’n draai by die Elgin-spoorwegmark

HEINRICH KNOETZE

Dié mark het in Junie die lig gesien nadat die sakeman Roger Orpen ’n ou appelpakhuis langs ’n spoorlyn met die hulp van ’n ontwerper in ’n interessante ruimte in onder meer ’n art deco-styl omskep het.

Koop iets te ete by een van vele kosstalletjies (enigiets van kerrie, ribbetjies en pizza tot pasteie, schwarmas en souttert) en ’n vars vrugtesap by Splashh Smoothies of boetiekjenewer by L-Gin. En vir poeding? Hoe klink fudge, roomys of ’n wafel-op-’n-stokkie?

Hier is ook klimrame en rondomtalies om die kinders besig te hou en die mark het heelnaweek iemand wat musiek maak.

Wanneer? Vrydae 4 nm.-8 nm.; Saterdae 9 vm.-6 nm.; Sondae 9 vm.-5 nm.

Waar? Oaklaan, Elgin

Nog inligting 021 204 1158; elginrailwaymarket.co.za

Wat nog? Jy kan ook per trein na die mark reis. Die Ceres Railway Company bied treinritte van Kaapstad na Elgin aan (dié maand word dit op 3, 17 en 18 November aangebied). Die trein vertrek om 8 vm. van die Royal Cape Yacht Club in Kaapstad, julle bring sowat 3 uur by die mark deur en is om 5.30 nm. weer terug in die Kaap. Dit kos R750 per volwassene en R500 per kind. Bespreek by 079 077 5332 of bookings@ceresrail.co.za


Laat die adrenalien pomp...  in die fliekteater!

BRUNO LONG

Ski saam in Brits-Columbië, ry fiets deur 43 lande en vlieg deur die lug op ’n 600 m hoë kabelgly... sonder om sélf ’n vinger te verroer. Dís van die stories wat deel is van vanjaar se BANFF Mountain-filmfees.

Dié jaarlikse internasionale filmfees vir avontuur- en natuurliefhebbers word vanjaar vir die 13de keer in Suid-Afrika ook aangebied. Elf avontuurflieks (altesame 109 minute lank) word deur Cape Union Mart by ses Ster-Kinekorteaters reg oor die land vertoon.

Waar? Die fees word by die volgende teaters aangebied – let daarop dat die datums verskil:

  • Kaapstad: Cavendish- en Tygervallei-sentrum (26 Oktober-4 November); 
  • Johannesburg: Sandton (26 Oktober-4 November);
  • Pretoria: Brooklyn-sentrum (26 Oktober-4 November);
  • Umhlanga: Gateway-sentrum (3-4 November);
  • Port Elizabeth: Baywest-sentrum (4 November).

Koste Dieselfde as ’n gewone fliekkaartjie by Ster-Kinekor 

Kaartjies Bespreek aanlyn by sterkinekor.com of bel die kaartjieskantoor 082 16789.

Nog inligting banff.co.za