Ons gesin het ’n ding oor ryhuise. Toe my pa in 1994 afgetree het, het hy vir hom ’n ryhuis as aftreegeskenk gekoop.

Ek was toe nog op universiteit en my pa het dikwels smiddae Stellenbosch toe gery en dan vir ons piekniek gemaak langs die Eersterivier. Hy het kookwater vir die koffie op sy stofie gekook en gewoonlik ’n soetdingetjie uit die kassie gehaal. Daarna het hy en my ma die land platgereis met daai ryhuis. Maar dit was ’n gewone Kombi-een – nie een op ’n 4x4-bakkie wat afgeleë plekke kon bereik nie.

Toe Jannie Oeschger van Bush Lapa my nooi om sy Hilux-ryhuis uit te toets, was ek vuur en vlam. . En my suster, Mari, wou opsluit saam. Ek het vir ons staanplek by Oewerzicht net buite Greyton bespreek. Dit verg nou nie heeltemal 4x4-rywerk nie, maar dit sal ons minstens ’n goeie idee gee van hoe gemaklik dit is om in die ryhuis te kamp. 

Ons begin oplaai.
Martin maak ons toewys.

By Bush Lapa se nuwe verkoopswerf op die R44 buite Paarl het Martin Appelgryn ons eers geduldig touwys gemaak oor hoe die bed uitgeslaan en die afdak opgeslaan word. As jy eers gewoond is daaraan, kan jy jou hele kamp binne 6 minute inrig, sê hy.

Ons was nie lus vir Sir Lowryspas op ’n Vrydagmiddag nie en het die Hilux se neus in die rigting van Franschhoek gedruk. 

Dit was nog vroegerig, en ons het stilgehou vir foto’s in die pragtige Franschhoekpas. Later, toe ons getroue “tannie Soekie”, ons GPS, ons na die Draaibergpad geneem het, het ons weer vir foto’s stilgehou.

Op die Draaibergpad.
Op die Draaibergpad.

Ons het heeltemal te vroeg op Greyton aangekom en eers die dorp besigtig. By die koffiewinkel Via in die Hoofstraat het ons hul befaamde appeltert bestel en salig op die stoep gesit en kyk hoe wildvreemde vreemde mans openlik die ryhuis bewonder.

Toe een gryskopomie later aan die knippe begin druk en onder die pens inloer, het my suster my aangepor met: “Gaan sluit tog oop dat die mans kan kyk hoe dit binne lyk.”

Greyton hier kom ons.

Hul monde het oopgehang.

Die grys omie het sy hande sag oor die ryhuis se een sy laat gly en die afwerking bewonder. “Jy kan sien dis gehalte,” het hy kopknikkend aan sy maat gesê. 

“Dis ideaal vir ons,” verduidelik hy. “Ek en my vrou het nie meer lus om goed te sleep nie, en sien ook nie meer kans om met ’n leer in ’n daktent te klim nie, maar ons het nog steeds lus vir toer. Hierdie kombinasie is perfek.”

Dis presies wat ek gedink het. Ek en my suster is albei ongetroud en reis minstens een keer per jaar saam. Ons sal langtand wees om ’n boswa in Afrika te sleep, maar met dié ryhuis sien ons kans vir Hwange, Sentraal-Botswana en selfs Mabuasehube – alles plekke wat nog op ons emmerskoplys is. En ek het dit moeiteloos tot op Greyton bestuur. Trouens, die ryhuis is op ’n Hilux, dit bestuur soos ’n droom.

Die mans is nuuskierig.
Via se appeltert.
Ons leer die locals ken.
 

By Oewerzicht kom ’n vrou by die voordeur uit toe ek gaan aanmeld. “Is julle twee vróúe in daai ding?” vra sy. Ja, knik ek. “Lekker!” sê sy. Oewerzicht is ’n vrugteplaas en het daardie week begin appels oes. Ons word elkeen ’n paar appels in die hand gestop voor ons verder ry. 

Ons staan op Staanplek 3, lekker in ’n hoek en met ’n ry digte bome langs ons vir skadu. Ek kan nie glo dat daar nog so ’n groen grasperk in die dorre Kaap oor is nie.

Ons slaan lag-lag ons kampplek op en sit minute later op ons kampstoele met ’n Greyton-bier in die hand. Jy sukkel om nie leedvermakerig te kyk hoe ander nog met tente stoei nie. Dit was al ons wat so gesukkel het, betig ek myself. 

Ons slaan lag-lag ons kampplek op en sit minute later op ons kampstoele met ’n Greyton-bier in die hand.

Langs ons, op Staanplek 2, is ’n paartjie wat reeds tent opgeslaan het en wat nou nog net die wiele aan hul duur bergfietse vasskroef. Staanplek 1  – wat reg op die water is – is nog leeg.

Oewerzicht is ’n gewilde bestemming vir stappers en bergfietsryers, en gaste het toegang tot die hele plaas en die rivier. Aan die ander kant van ons, op Staanplek 4, staan vier pelle (twee paartjies) wat die naweek saamkamp. 

Tuis in ons huis. Die ryhuis het 'n sonpaneel op die dak.
Bierbrood op die kole.
Die stoof en yskas.
Doenig in ons kombuis.

Ons vuur brand al vroeg en ons maak ’n bierbroodjie aan met ’n “Plaasjapie”, ’n plaaslike bier wat ons op Greyton raakgeloop het. Vanaand is dit tjops, wors en brood, en lekker kampkoffie.

Ná donker kom nog ’n gesin penne inslaan op hulle staanplek reg langs die badkamer. Toe ek  badkamer toe stap, sien ek hoe die man soos ’n wafferse generaal in die laaste flou daglig vir sy vrou sy voorgenome kampuitleg beduie: “Tent ... tent ... gazebo.”

Hy wys eers met twee arms na links, dan twee arms na regs, en laastens in die middel vir die gazebo. Sy vrou staan met die hand op die ken. Sy is nie tevrede nie. 

Ons het al aandskottelgoed by die gemeenskaplike wasgeriewe gaan was toe ek steeds die Generaal hoor bevele gee. ’n Kind van skaars heuphoogte klou verbete aan ’n hoekpaal vas: “Eben, steek die paal in daai gat. Nie daai gat nie. Dáái gat. Hou vas. Hóú vás.” Op ’n ander hoek staan ’n kind, nog kleiner, en sanik.

“Ek gaan nóú vir jou kos gee,” paai sy ma.

Die kombuis het kragproppe en pakplek.
Die krane koppel aan die geyser.
Bo die yskaslaai is nog pakplek.
By die agterwiel is ekstra pakplek.

Ons voel amper skuldig omdat ons so vroeg met ons boeke in die bed klim, maar die Hilux-ryhuis het ’n ruim kajuit waarin ons maklik regop kan staan, en het ’n lekker lig vir boekwurms. Daar is ook proppe langs die kant waar jy deur die nag jou selfoon kan laai, en ekstra kassies langs jou bed waar jy jou bril kan wegsit. Bush Lapa het aan absoluut alles gedink. 

Omdat Oewerzicht gewaarsku het dat jy muskietweerder moet saambring, het ons van sononder af seker gemaak ons hou die hoofdeur toe. En met al die flappe afgeslaan, trek daar ’n lekker briesie deur die slaapkamer. Ek slaap die nag my diepste slaap sedert Kersfees. 

Toe ek douvoordag moet badkamer toe stap, sit Eben en die Generaal reeds soos twee konings voor hulle tente met ’n beker stomende koffie in die hand. Maar dis Saterdag, en ons knip nog ’n uiltjie. 

Die dubbelbed in die kajuit het ekstra pakplek onder die voete.
Die rakke maak met seil toe.
Laaikas in die kajuit met pakplek bo.
Kragpunte in die kajuit en pakplek.

Ná 7 steek ons weer ons koppe by die ryhuis uit en is amper verlig om te sien dat die bergfietse van ons fikse bure steeds onaangeroer in hulle lapa staan. Maar terwyl ons eiers op ons stofie maak, sien ons die paartjie kom al terug van hulle oggenddraffie – gereed om vir oefensessie 2 op hulle bergfietse te spring.

Langs die Generaal se kampplek het daar vroegoggend nog ’n bakkie met ’n Bush Lapa-boswa ingetrek. Dit lyk soos ’n splinternuwe Miskruier, en elke ding staan reeds netjies op sy plek.

Oewerzicht is ideaal vir gesinne met klein kinders. Ná ontbyt kyk ons hoe pa’s in swembroeke hul kinders in middellyfhoogte water op opblaasbande en swemplanke in die rivier laat speel.

Op die grasperk staan ’n kolwer, skaars uit die doeke uit, skaamteloos en huil omdat hy ewe sleg voor die penne gevaar het as die Protea-kolwers teen Indië. Hy verseg om die kolf aan die volgende spanmaat aan te gee. 

Ek en Mari het die vorige dag op Greyton gesien hulle adverteer ’n varsproduktemark en besluit om te gaan kyk. Ons soek eintlik net ’n verskoning om eers die kamp op te slaan omdat ons nou besef ons kan die ryhuis baie slimmer parkeer om die koelte beter te benut. Dis verstommend hoe maklik jy jou kampplek opbreek.

Jy klap die kombuis toe en stoot die yskas en stofie in. Dan vou jy jou bed in en laat sak die dak. Ta-daaa! Alles klaar. Jy’s reg om te ry.

Dis markdag op Greyton.
Dis markdag op Greyton.

Die mark is al aan die gang toe ons op Greyton kom. Ons is eers onseker waar dit is, maar sien dan twee dogtertjies met slap pannekoeke in waspapier in die straat aangedrentel kom.

In die middel van die hoofstraat lê ’n lui labrador en slaap. Die mark is rondom die kerk se terrein en verkoop vars groente, vrugte, gebak en boeretroos. Ek krap in Santa se boekstalletjie en koop ’n James Patterson om die aand in die ryhuis te lees.

Ons snuffel nog so bietjie in die tweedehandse-winkels op die dorp, besigtig die David Kuijers-kunswerke en kyk hoe ’n astrante kind sy kieste volstop by die proebakkies by die Von Geusau-sjokoladewinkel. Die ma staan handegevou en toekyk.

Mompel nog iets van “kinders wil mos nie hoor nie”. Ek bewonder die winkelassistent vir haar selfbeheersing. Sy sê niks, nie eens later toe die ma en die kroos loop nie. 

Terug by Oewerzicht slaan ons die kamp selfs vinniger op as die vorige aand. Kyk hier hoe maklik dit is.

Dan rits ons al die seile af sodat daar ’n luggie kan trek in die kajuit, en trek die deur toe vir ’n salige middagslapie. Teen die tyd dat ons wakker word, het daar ’n Landy en twee tente op Staanplek 1 op die oewer verskyn. Twee seuns staan voor die tente en bal skop.

Ek is nog besig om foto’s te neem van ons ryhuis toe ’n man en vrou versigtig naderkom. Hulle stel hulleself voor as Gus en Sunette Kriel, en is die eienaars van die Bush Lapa-Miskruier wat ons die oggend gesien het. Jy kan sien Gus byt eers op sy lip om niks te sê nie, maar sê dan subtiel-verwytend dat ons nie so ’n lekker gazebo “kan mors nie”.

Ons het nog net die ryhuis se bed en dak uitgeslaan, nie die afslaandak nie. Gus maak ons afslaandak binne ’n minuut staan en nooi dat ons kan kom loer hoe hulle Bush Lapa lyk. Die Miskruier is al twee jaar oud, maar hulle pas dit mooi op, sê Sunette toe ek vra of dit splinternuut is.

Tot nou toe het hulle nog net plaaslike bestemmings besoek, maar in die Junie-vakansie sleep hulle die Bush Lapa Botswana toe. Die Kriels woon naby aan ons in Bellville (klein wêreld!), maar staan die naweek by Oewerzicht omdat hulle ID-kaarte op Caledon bestel het, en besluit het om ’n naweek daarvan te maak.

Gus maak ons afslaandak binne ’n minuut staan en nooi dat ons kan kom loer hoe hul Bush Lapa lyk. Die Miskruier is al twee jaar oud, maar hulle pas dit mooi op, sê Sunette toe ek vra of dit splinternuut is.

Die Kriels by hul Bush Lapa.

Die Kriels se Miskruier het twee dubbelbeddens – lekker as hulle dogters wil saamtoer. Sunette verduidelik ook hoe sy soms in ’n woonwapark maar vir Gus vra om die storttent vir haar op te slaan dat sy in haar eie geriewe kan stort.

Hulle plek is wonderlik ingerig. Sy wys die slim holte wat hulle vir wynbottels gemaak het en hoe sy haar kombuisgoed pak.  

Ons is net weg by Gus toe hy met twee jong ouens daar aankom. Die een jongman met die poniestert het ons al opgemerk in die kampterrein.

Hy slaap in ’n daktent op sy bakkie, en sy yslike swart poedel, Mungol, slaap in sy eie tweemantentjie onder langs die leer. Mungol is ’n groot ster onder die kinders in die kamp en speel geduldig bal saam met hulle.

Die ouens stel belang in die Bush Lapa en vra of ons sal omgee as hulle kyk. Ons trek kassies oop wys hulle die kajuit, trots asof dit ons eie is! 

'n Geyser vir jou bosvakansie.

Hulle is skaars weg toe ons fikse buurman van Staanplek 2 opdaag – sonder sy hemp. Hy het ’n bottel wyn in die hand waarvoor hy ’n botteloopmaker soek, en het gedink “hierdie ding van ons is so ghrênd, daar sal beslis ’n botteloopmaker wees”.

Terwyl die man praat, is sy oë nie naby ons nie – hy kyk skaamteloos begerig na die Bush Lapa. Ek nooi hom nader en begin weer kassies ooptrek en die kajuit oopmaak. Hy kan sy oë nie van die wa afhou nie. 

Ek begin wonder wat die “protokol” is wanneer bure ooglopend vir jou blyplek kom kuier, en nie vir jou nie. Is jy veronderstel om bier aan te bied? Ons het presies drie biere saamgebring, waarvan ons een in die brood gegooi het en twee langs die braaivuur gedrink het.

Ek nooi hom nader en begin weer kassies ooptrek en die kajuit oopmaak. Hy kan sy oë nie van die wa afhou nie.

Ek wonder nog oor my ongemanierdheid, toe kom die bure van Staanplek 1 bladskud. Dis Trevor en Alicia. Trevor is ’n dosent by die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie, maar sê hy is meer ’n boekmens as ’n praktiese mens.

En die Landy gee hom probleme. Hierdie kombinasie van ’n ryhuis op ’n bakkie sal perfek wees vir hul gesin, sê hy. Kry ’n mens dit in ’n weergawe vir vier mense, vra hy. “Ek sal moet uitvind vir jou,” sê ek. (Kyk Bush Lapa se antwoord onder.) Ons gesels oor waarheen ’n mens oral kan ry met die ryhuis. Wel, dis ’n bekwame 4x4-bakkie. Die antwoord is dus: min of meer oral.

Ons gazebo staan.
Ons kombuis onder ons afdak.

Die aand is heerlik koel en ons sit onder ons gazebo (dankie, Gus) en rooiwyn drink. Ons braai vanaand steak en wors, en gooi van die botterskorsies wat ons by die mark gekoop het in foelie op die kole.

Dis ’n koningsmaal. Jy kan nie glo dat jy 24 uur tevore nog so gespanne was oor werk nie. As jy hier sit, bestaan jou werk nie. Teen slaaptyd hoor jy vaagweg iemand ver in die kamp snork.

Ontbyt!

Sondag maak ons weer roereier en pak daarna maklik op.

Ons hou nog ’n paar keer stil dat Mari voëls kan afneem, en eet sommer ’n broodjie met biltong by Dassiesfontein. Ons het met Jannie van Bush Lapa afgespreek dat ons eers by die huis sal gaan afpak voordat ons die ryhuis terugbring, maar eintlik is dit net omdat ons vrek om dit vir ons pa ook te wys. My ouers (81 en 76) klim maklik in en uit die ryhuis. Ons slaan selfs die dak op en maak alles oop dat hulle kan sien. Jy kan my pa se oë sien blink.

By Jannie staan ons en lag oor die Bush Lapa so ’n “babe magnet” is. Ons was eerlikwaar nog nooit so gewild nie. Ja, terg ek. As ons ooit eendag lus het om ’n man te vang, moet ons net ’n bakkie en ’n Bush Lapa koop. Ons skater. “Nee wat,” sê my suster. “Ons koop ons eie en ry Mabua toe.”

Algemeenste vrae wat ons van nuuskieriges gekry het

Pas dit op alle bakkies?

Volgens Jannie het hulle al ryhuise vir al die vernaamste 4x4-bakkies gebou: Toyota Hilux, Ford Ranger, Mazda BT, VW Amarok, Isuzu KB en Toyota Land Cruiser. 

Kry jy ’n weergawe vir ’n dubbelkajuit?

Volgens Jannie het hulle onlangs een vir ’n dubbelkajuit-Amarok na Duitsland gestuur, maar hulle beveel dit nie eintlik aan nie. Die enigste dubbelkajuitbakkie waarop hulle met gemoedsrus ’n ryhuis sit, is die Toyota Land Cruiser. Die ryhuis plaas baie gewig op die onderstel.

Is die installasie permanent? 

Nee, die ryhuis kan afgehaal word dat jy die bakkie weer as ’n kerk-werk-en-Loftus-bakkie kan gebruik.

Jannie het vir my die gate gewys waar die domkrag ingesteek word om die ryhuis af te haal en die bak weer op te sit. Hy sê dit sal een ou met ’n jack omtrent 3 uur besig hou. Die ryhuis kan op sy eie bene staan en so as ’n wooneenheid gebruik word.

Is dit regtig so eenvoudig om dit op te slaan?

Jannie vertel een van sy eerste 100 kliënte was ’n afgetrede weduwee wat gesê het hy moet sorg dat sy haar Bush Lapa-boswa heeltemal op haar eie kan haak en opslaan. Jannie sê dié vrou kamp nog steeds elke jaar vir ’n maand lank in die Kgalagadi, sonder enige probleme.

Kan ek eers huur voor ek koop?

Bush Lapa het ’n paar boswaens wat hulle verhuur. Jy kan hulle kontak by die besonderhede onder.

Hoeveel gaan dit kos?

Hier is die volledige pryslys met spesifikasies vir die enkelkajuit en dubbelkajuit. Reken in die omgewing van R250 000. Dit is uiteraard nét vir die ryhuis. Dit sluit nie die bakkie in nie. Die Bush Lapas het ’n baie goeie herverkoopwaarde.

Hoe hoog is hy binne?

Ek en my suster is taamlik kort, maar lang mans het ingeklim en met gemak regop gestaan by die voetenent.

Waar kan ek gaan kyk?  

Bush Lapa het vertoonlokale deur die land. Klik hier om adresse te kry: bushlapa.com/contact-us/

Ons het by Oewerzicht buite Greyton oorgestaan en dit baie geniet. ’n Kampstaanplek kos R330 per nag. Hulle het ook huisies, maar ons het nie daarmee gebôdder nie. 


Kontak Bush Lapa by: www.bushlapa.com