Dís wat verskillende strandvlae beteken:

Vlae
Strandvlae

Rooi vlag (met 'n wit haai): Dit beteken daar is ’n haai of haaie die afgelope uur gewaar, maar dit is nie nou meer sigbaar nie. Dit kan ook beteken daar is ’n toename in haai-aktiwiteit in die gebied. Dis op die oomblik onveilig om te swem.

Swart vlag (met wit buitelyne van ’n haai): Die sigbaarheid is swak en die water is troebel, maar geen haaie is gewaar nie.

Groen vlag (met wit buitelyne van ’n haai): Die weer is goed en die water helder. Geen haaie is opgemerk nie.

Wit vlag met ’n swart haai: Die gevaar is groot. ’n Sirene sal loei en jou waarsku om so gou moontlik uit die water te kom. Die vlag sal ook gehys word as daar ’n insident was en die strand gesluit is. 

En as daar geen vlag op die strand wapper nie, beteken dit daar is niemand aan diens wat haai-aktiwiteite dophou nie.

En al het die aantal grootwithaaie wat in Valsbaai opgemerk is, drasties afgeneem, gaan haaikykers steeds by ses strande wag hou oor strandgangers. Vier strande - Muizenberg, Kalkbaai, Vishoek en Caves by Kogelbaai - het die hele jaar haaikykers wat ’n oog oor die waters hou.

Clovelly en Monwabisi het oor naweke, openbare vakansiedae en skoolvakansies haaikykers.

Volgens Shark Spotters sal daar nie in die somer by Glencairn en die Hoek by Noordhoek uitgekyk word vir haaie nie vanweë die afname in haai-aktiwiteite daar.

Sarah Waries van Shark Spotters het aan Weg gesê hoewel dit nie moontlik is om die presiese oorsake en redes vir die lae getalle grootwithaaie te gee nie, is daar ’n aantal moontlike verduidelikings en werk Shark Spotters saam met wetenskaplikes in Valsbaai en langs die kuslyn van Suid-Afrika om die oorsaak te soek. Een van die redes wat wel aangevoer word vir die afname van grootwithaaie in Valsbaai, is die verskyning van moordvisse wat haaie jag.

Daar kan volgens haar ook ander redes wees soos veranderinge in die omgewing en haaie se prooi wat hulle bewegings verander.

Haaisake op jou slimfoon

Shark Spotters het ook ’n gratis app bekend gestel waarmee jy vooraf kan kyk hoe lyk toestande by jou gunsteling-strand in die Kaap.

Die “spotters” by die strande werk die app-inhoud voortdurend by om seker te maak jy kry die jongste inligting.

Dié gratis app gee jou nie net haai-inligting nie, maar ook veiligheidswenke, weerstoestande, inligting oor of daar ander seediere (soos walvisse, robbe of dolfyne) in die omgewing is en selfs ’n video van die branders sodat jy kan weet of jy jou branderplank moet saamvat.

Kry die app in die Google Play- of Apple-winkel.

Gaan na sharkspotters.org.za vir meer inligting en ’n volledige verduideliking van die verskillende soorte vlae en wat elkeen beteken.