Dit was in reaksie op Nissan se verklaring nadat dié vervaardiger se NP300 – of “Hardbody” – 0 uit 5 sterre ontvang het in ’n botstoets wat in Oktober 2018 deur NCAP gedoen is.

Nissan het vroeër in ’n verklaring gesê die veiligheid van sy klante sal altyd sy topprioriteit wees en al sy motors voldoen aan óf oorskry die veiligheidsregulasies – in alle lande. “Die Nissan NP300 is ’n beproefde werkgenoot vir besighede en entrepreneurs wat betroubaarheid en bekostigbaarheid soek.

Voortdurende verbeterings word aan die NP300 gemaak, soos dubbele lugsakke en sluitweerremme wat as standaardtoerusting aangebied word. Nissan ondersoek verdere verbeterings,” lui die verklaring.

Weg Ry & Sleep het Nissan Suid-Afrika genader en dieselfde standaardverklaring ontvang, plus die versekering dat daar daadwerklike verskille is tussen die model wat in die botstoets gebruik is, en die NP300-toetsvoertuig wat ons onlangs ontvang het.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) van Suid-Afrika en Global NCAP-organisasie was nié beïndruk met Nissan se antwoord nie en het in reaksie die Verenigde Nasies se ekonomiese kommissie, die Afrika-unie én die Afrika-ontwikkelingsbank versoek om seker te maak Afrika-regerings steek ’n stokkie voor die verkope van onveilige nuwe voertuie.

In die botstoets is bevind die NP300 se lugsakke bied geen noemenswaardige veiligheid nie, die stuurwiel druk in die bestuurder se borskas, die kajuit vervorm gevaarlik en die lewe van selfs die agterste passasiers word bedreig.

Waarom die skynbare heksejag op Nissan Suid-Afrika? Die NCAP-organisasie, in samewerking met die AA, het ’n program gestig met die naam Safer Cars for Afrika wat daarop gemik is om motorvervaardigers te dwing om nuwe voertuie met nul sterre veiliger te maak. Die uiteindelike mikpunt is om die aantal sterftes en ernstige beserings op Afrika se paaie teen die jaar 2030 te halveer.

Safer Cars for Africa fokus slegs op nuwe massaproduksievoertuie en daar is nie planne om die verkoop van “onveilige” tweedehandse karre te verbied nie.

Dit is nie die eerste keer dat Nissan ’n veiligheidstoets druip nie. Die Navara het in 2008 een ster gekry in ’n EuroNCAP-bot-toets (dit was in der waarheid ’n uitgekruiste een ster, wat amper so swak is soos ’n nulletjie) waarna Nissan die Navara se programmatuur bygewerk het en hy daarna 3 sterre ontvang het.

Die Navara is wéér in 2015 getoets en hy het toe 4 sterre gekry. In Australië het die Navara 5 sterre (uit 5) losgeslaan in ’n ANCAP-botstoets. Die onlangse toets deur Global NCAP was die eerste eerste toets van dié aard op die NP300, wat sedert 1997 vervaardig word.

In Oktober 2018 is altesame 821 NP300-bakkies in Suid-Afrika verkoop en 366 is na ander Afrikalande uitgevoer. 


Lees al die nuusbrokkies wat in ons Januarie-uitgawe verskyn hier.