Die labirint sal uiteindelik 52 900 m² beslaan (so groot soos die basis van die Groot Piramide van Giza). Dié enorme labirint – geïnspireer deur die labirint in die Chartres-katedraal in Frankryk – gaan bestaan uit 13 sirkels en 90 000 spekbome!

Dié spekbome word verskaf deur die Wonder Plant-projek. Die doel van die projek is om mense uit armer gemeenskappe die kans te gee om spekbome in hulle agterplaas te kweek sodat hulle dit aan die Great Labyrinth of Africa-projek en die publiek kan verkoop.

Hoekom spekbome? Die spekboom (Portulacaria afra) is ’n inheemse plant wat floreer in die droë dele van Suid-Afrika, soos in die Oos-Kaap naby die Addo-olifant- nasionale park. Die plant pas in enige omgewing aan en plant maklik voort, maar dis nie al nie... As ’n mens in ag neem hoe min water ’n spekboom nodig het, is dit die doeltreffendste koolstofsponsies ter wêreld – meer as selfs bome in ’n reënwoud!

Een plantjie kan binne een jaar 8,5 kg koolstofdioksied opslurp en tot 200 jaar leef. Peter Shrimpton is ’n omgewingskundige, sosiale aktivis en die projekhoof. Hy hoop dat die labirint besoekers sal inspireer om klimaatsverandering te bekamp deur elke dag beter keuses te maak.

Waar? Die labirint word in Stellenbosch Bridge Smart City (stellenboschbridge.co.za) gebou – dit is op die plaas East Hill op die Muldersvleipad.

Wanneer? As alles volgens plan verloop, behoort dit teen die einde van die jaar klaar te wees. Ek wil help! Belangstellendes kan kyk hoe dinge vorder en vrywilligers kan op Saterdae kom help plant.

Kontak: 073 420 4161; info@heartcapital.co.za

Wat is ’n labirint? Anders as ’n doolhoof, kan jy nie daarin verdwaal nie – daar is net een paadjie wat in sirkels tot by die middelpunt lei. Die ontwerp simboliseer die mens se reis na binne.

Bronne: greatlabyrinth.co.zacapetownetc.com