Die twee dinge wat ons nie in hierdie top 5-lys noem nie, is eintlik die heel belangrikste: kennis en goeie oordeelsvermoë. Goeie oordeel moet jy hê oor waar om nié in te foeter nie, en dan het jy kennis nodig om jou uit te kry as jy wel daar ingefoeter het.

Kennis gaan jou meer in die sak bring as enige 4x4-katoeter, en daarom is dit goed om opleiding te kry by ’n 4x4-akademie, of sluit by ’n 4x4-klub of -forum aan sodat ervare lede hulle veldrykennis met jou kan deel.

Maar selfs kenners met goeie oordeel gebruik herwinningstoestelle en ons Facebook-vriende het laat hoor watter affêrings hulle inlaai as hulle op ’n 4x4-hindernisbaan gaan speel of die boendoes invaar.

1. Bring dit op die planke

Sandplanke is die beste 4x4-katoeter in jou arsenaal.

Ry & Sleep verkies rigiede sandplanke bo sandmatte of -lere wat kan oprol. Rigiede sandplanke kan jy gebruik om ’n brug teen kliptrappe uit te bou of sand te grawe, en jy kan dit selfs as spane gebruik om te roei op ’n vlot.

“Ek vermoed dis die eerste ding waarin jy moet belê.” - Frans Taueatsoala

2. Laat die graaf sweet

Jy kan ’n graaf se kop gebruik as ’n soliede breë basis vir ’n domkrag. Jy kan hom selfs gebruik as ’n skottelskaar om kos gaar te maak, en ja, ook om jou trokkie uit te grawe as jy vasval. Kry een met ’n lang steel om sand diep onder jou trokkie se pens te verwyder.

“My oordeel, my kennis en my graaf.” - Gary Clarke

3. Trek die toue styf

Kinetiese stroppe (snatch straps) werk lekker om iemand uit te pluk, maar ’n 28 mm-kaaitou (mooring rope) van 30 m kan wondere verrig – hy’s immers sterk genoeg om ’n skip aan ’n kaai vas te maak. Hy’s ook redelik elasties en lank genoeg dat jy van harde grond af kan herwin.

“Ek gebruik ’n 10 m lange 14 t-tou met penskakels.” - Brandon Danks

Moenie ry waar jy moeilikheid kan kry nie. – Leonor Gerrits

4. Gee my krag

Oorleikabels (jumper leads) is belangriker as wat ’n mens aldag besef. Wanneer jy vasval, kan dit gebeur dat jy die enjin herhaaldelik aan- en afskakel, en dit vreet aan die battery. Mettertyd kan jou trokkie se battery leegloop en dan moet jy ’n maat nader roep om weer lewe in jou battery te blaas.

Is hier ’n Defender naby?” - Derek Britz

5. Tel jouself op uit die as

’n Wenas is nie ons eerste keuse van katoeter nie, want hy’s ’n duur ding wat gereeld nagegaan moet word – en dit is iets wat jy weinig gaan gebruik vergeleke met jou ander herwinningstoerusting. Maar wie weet, eendag het jy hom broodnodig. Naas ’n tou is ’n wenas deur heelparty van ons Facebook-vriende genoem.

“Gesonde verstand eerste, daarna fênsie goed soos ’n wenas.” - Andre Strydom