HENGELENE KROOK van Pretoria vra: Ons het die sebravul gesien in die Masai Mara- nasionale reservaat in Kenia. Sy gesig was effens donkerder as die res van sy lyf. Sy oogkleur was ’n normale donkerbruin, dus is dit nie alibinisme nie. Is dit ’n melanistiese afwyking?

Die vul se ma het dikwels gesorg dat sy tussen ons voertuig en die vul staan. Is dit hoe sy en die trop hom beskerm omdat sy ligte kleur hom laat uitstaan?

Die wildlewekenner, L.D. VAN ESSEN, antwoord: Hengelene is reg, dit is nie albinisme nie. Dit is wel leukisme en nie melanisme nie. Melanisme is die ontwikkeling van donker kleurpigment in die vel en ledemate.

Leukisme is die gedeeltelike verlies van pigmentasie wat lei tot wit en/of vaal, uitgewaste of gevlekte kleurpatroon van die hare, vel, vere of skubbe. Dit tas nie die oë en neus aan nie. 

Die optrede van die merrie is normaal. Dit word by verskeie spesies waargeneem wat dit doen om hulle kleintjies te beskerm. Daar is geen aanduiding dat ’n ligter kleur bykomende beskerming uitlok nie.